Hulle sê ’n mens kan nie vir ’n ou hond nuwe toertjies leer nie, maar hierdie seisoen het die old school Survivor SA-spelers vir die nuwe generasie spelers ore aangesit en hulle een vir een uitgestem.
Hierdie seisoen het 20 voormalige deelnemers, wat in vorige seisoene uitgestem is, teruggekom om hul name in ere te herstel. Ons top-3, Dino Paulo, Shane Hattingh en Marian de Vos, het dit beslis reggekry.
Aan die begin van die seisoen het die castaways van die meer onlangse reekse gedink hulle gaan die old school-spelers pak gee, maar die seisoen 4- en 5-spelers wat laas tussen 2011 en 2013 te sien was, het bewys dat jou liefde vir die speletjie al is wat saak maak. Alles is fair game as jy vir 39 dae honger, moeg en sonder tegnologie op ’n verlate eiland gelos word.
Wie sal Donderdagaand ná ’n epiese seisoen hul spoke te ruste kan lê en as die enkele oorlewende van Survivor South Africa: Return of the Outcasts gekroon word? Ons sal maar in spanning moet wag en sien!
Wie is die top-3 en waarvoor sal ons hulle hierdie seisoen onthou? (Lees ook ons agter-die-skerms-storie hier.)
Dino Paulo
Die superfan, Dino Paulo (31), het ’n rowwe begin gehad, maar met die vertroue wat hy later in sy no bullshit-alliansie gevind het, kon hy deur die seisoen homself met strategiese bewegings tot hierdie punt bring. Met die einde in sig, sal hy kalm kan bly en die superfan-droom laat waar word?
Dino was nog vars in kykers se geheue omdat hy in seisoen agt deelneem het. Hy is sewende in Survivor South Africa: Immunity Island uitgestem en het voorheen net 16 dae gespeel.
Hy staan nou op 37 dae en het al reeds ’n motor en ’n luukse vakansie op die Zambezi-rivier ter waarde van R80 000 gewen. Sal hy die R2 miljoen ook kan wen?
Ek dink ons sal hierdie seisoen vir Dino vir sy geduld onthou. Hy het te vroeg begin speel verlede keer en sy paranoia het hom huis toe gestuur. Hy het uit sy foute geleer en hierdie seisoen kalm gebly en gewag voordat hy begin skuiwe maak het. Omdat hy so ’n groot aanhanger is, is ek bly dat hy dit tot in die top-3 gemaak het. Dit was beslis ’n redemption-seisoen vir hom.
Shane Hattingh
Toe Shane Hattingh (50) laas gespeel het in seisoen vyf, Survivor South Africa: Champions, was Instagram maar twee jaar oud en het Tik Tok nog nie eens bestaan nie. Hy was beslis een van die minder bekende gesigte onder kykers, maar ons sal nie sommer vir Shane vergeet nie. In 2013 was hy een van die skurke in sy seisoen. In dié seisoen – waar almal ’n groot karakter is – het Shane die rol van ’n sagte reus aangevat en ’n briljante social game gespeel.
Hierdie voormalige baddie wat in ’n tipe vaderfiguur verander het, het homself goed vanaf die kantlyn vir die eindspel geposisioneer. Sal hy die verraderlike pad na die oorwinning kan maneuver?
Shane het hierdie seisoen met een van die langste en sterkste verhoudings begin. Hy en Marian de Vos (die laaste lid van die finale drie) het saam in seisoen vyf gespeel en ken mekaar al vir nege jaar. Hulle speel nog heeltyd saam, maar het onder die radar gevlieg, wat nogal indrukwekkend is.
Hy sal hierdie seisoen onthou word vir sy sosiale game en hoe hy sy verhouding met Marian so goed weggesteek het. Dit wys hoe sterk ’n regte no bullshit-allianse kan wees en hoe ver dit vir jou in die speletjie kan vat as jy iemand het wat jy heeltemal vertrou. Shane se nederigheid sal hierdie seisoen ook uitstaan, want dit is die teenoorgestelde van hoe hy laas gespeel het. Hierdie keer het hy die ander karakters laat skyn en stil, maar gevaarlik, langs die kantlyn gespeel.
Maar sal hy en Marian tot die einde saamstaan en vir Dino ore aansit of gaan hulle mekaar verraai?
Marian de Vos
Marian de Vos (33) was hierdie seisoen die strategiese deel van die “Volledige Pakket”-alliansie saam met Meryl en Steffi en is vasbeslote om seker te maak dat ’n superfan hierdie seisoen wen… En dat sy daardie superfan is! Daar is seker nie ’n groter aanhanger as Marian nie. Sy kyk die reeks getrou sedert 12-jarigeouderdom. Sy was maar 25 toe sy laas gespeel het en mens kon beslis sien hoe baie sy intussen gegroei het.
Marian was van dag een af een van die groot karakters hierdie seisoen, maar moes halfpad deur hard begin baklei vir haar plek in die finale drie. Sy is nou amptelik die laaste vrou en dit is ’n groot verandering van haar 19 dae verlede keer. Sy was in haar vorige seisoen tiende uitgestem en was die eerste lid op die jurie. Nou sal sy dalk nie eens ’n sitplek aan daardie kant inneem nie.
Sy sal onthou word vir haar krag en vasberadenheid. Marian het baie hard gespeel en het ’n sterk strategie gehad. Hoe sy haar verhouding met Shane bestuur het, terwyl sy ook baie ander alliansies gehad het, was ongelooflik om te sien. Sal sy nog een laaste power move kan maak om die R2 miljoen te wen?
Die laaste episode van dié seisoen word Donderdag, 25 Augustus, om 18:00, op M-Net (DSTV-kanaal 101) en DStv Online, uitgesaai.