Hoor jy die reeks se naam, dink jy dalk Station Eleven is ’n Shonda Rhimes-tipe reeks soos Grey’s Anatomy of Station 19. Dalk juis omdat dit klink asof Station 19 slegs agt stasies verder af in die straat is…
Die reekse kon egter nie méér van mekaar verskil nie. Hierdie is glad nie ’n nuwe mediese dramareeks oor ’n brandweerstasie nie…
Kortom, is Station Eleven ’n post-apokaliptiese dramareeks met elemente van avontuurlustige fantasie. Dit strek oor verskillende tydlyne soos dit oorlewendes van ’n pandemie se pogings volg om uit die as van ’n vernietigde wêreld te rys. Dít natuurlik sonder om hulle menslikheid en deernis prys te gee.
Pandemie-“vermaak”?
Ek kan hoor hoe ’n gemeenskaplike luide sug sopas die grond met ’n dowwe plof getref het.
“Pandemie.”
Maar luister eers.
Station Eleven se verfilming is reeds in Januarie 2020 in Chicago begin. Dit was al goed aan die gang toe Mnr. Grendel aan die wêreld se deur in Maart daai jaar kom klop het. Wat hierdie reeks dus soveel meer merkwaardig maak, is dat dit ’n verhaal van voor, tydens en ná ’n katastrofiese pandemie vertel én voor en tydens ons eie real-life pandemie vervaardig is. Dit is ook nie asof oorloë en pestilensie Hollywood gaan keer – of al ooit verhoed het – om swaarkry op ’n skerm te vergestalt nie. Die mensdom se swak knieë maak mos vir topklasvermaak.
Vergewis jouself ook van die feit dat dié TV-reeks op die Kanadese romanskrywer, Emily St. John Mandel, se gelyknamige topverkoperboek gegrond is. Dié boek is reeds in 2014 gepubliseer. Dis sowat ’n kortkop van ’n dekade voor Corona nie net as ’n bier bekend was nie. Sy het boonop die Arthur C. Clarke-toekenning daarvoor ontvang. Dié prys was moontlik aansporing vir HBO om die TV-regte te beding, want hulle koop beslis nie snert aan nie.
Shakespeare…en toe stort die wêreld in duie
Vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie, kom ons skets vir jou ’n prentjie. (Maar weet ook: daar word dikwels en groot van die boek se afgewyk.)
Die reeks draai om ’n beroemde Hollywood-ster, sy toekomstige redder, en ’n groepie nomadiese akteurs, die Traveling Symphony. Hulle swerf deur die verlate buitewyke van die Noord-Amerikaanse Great Lakes-gebied, waar hulle alles vir die kunste en die mensdom prysgee. Tydens een sneeuerige aand is hulle nog so midde ’n opvoering van King Lear toe die hoofakteur sommer net so in sy stoel sterf. Ure later begin die wêreld soos ons dit ken om lelik in duie te stort.
Die storielyn spring rond tussen die verlede en nagenoeg 20 jaar in die toekoms om ’n spannende verhaal oor die lot van vyf mense te skets: dié van die akteur, sy vrou, sy beste vriend, die man wat sy lewe probeer red, en ’n jong aktrise.
Die storie gaan nie soseer oor die katastrofe waarin die karakters hulself bevind, of die rampspoedige pandemie wat die wêreld probeer afweer nie. Daardie aspekte funksioneer eerder as die eksposisie vir ’n tipe coming-of-age-intrige waarin ’n vasberade en gedetermineerde jong meisie haarself bevind, nadat sy haar al haar geliefdes en beskermers verloor het, maar steeds probeer om oor die slegste moontlike teëspoed te triomfeer.
Weldeurdag; sonder bohaai
Dat die oorhoofse tema van ’n pandemie sommiges sal afsit, is vanselfsprekend (you know, gegewe huidige omstandighede). Maar ek raai jou sterk aan om minstens die eerste episode te kyk. Bloot omdat dit fantasies is. Jy sal op ’n natuurlike wyse na die res van die verhaal ingetrek word, hoewel die tempo vanaf die tweede episode weens die tydspronge verander. Dis darem nou ook nie Better Call Saul-stadig nie.
Jy gaan aanvanklik bes moontlik sukkel om ’n emosionele band met van die karakters te vorm maar ek vermoed die reeks is doelbewus so beplan. Dis nie ’n aksiebelaaide skop-skiet-en-donner-zombiereeks met pittige one-liners en ’n gepronk met spiere nie. Dis eerder ’n weldeurdagte onthulling van die verloop van gebeure rondom karakters wat opreg voorkom en sonder bohaai opgedis word. Sonder om jou met ’n lepeltjie te voer.
Station Eleven het ’n puik rolverdeling en die klankversorging en regie kom oor as buitengewoon cinematic vir TV. Jy mag selfs onwillekeurig herinner word aan reekse soos Game of Thrones, Handmaid’s Tale en The Pacific. En met reg. Die rede hiervoor is dat Jeremy Podeswa op bogenoemde reekse gewerk het en ook die regisseur van drie Station Eleven-episodes is.
Dit is ’n hartverblydende en vermaaklike reeks en die beste van alles is dat dit ’n limited series is. Die kyker loop dus nie die risiko dat hy of sy op ’n tweede seisoen uitmis wat gekanselleer word oor welke rede nie.
Dit voel voltooid en laat jou tevrede in rus. Station Eleven beloon die kyker met die insig dat, selfs in die donkerste van tye, die lewe wél aangaan.