Menu terloops
In Wat om te kyk [30 Sep 2025]

Van wildsveilings tot stormreën: ‘Spoorloos’-ervaring sal hy vir niks verruil, sê regisseur


Mede-regisseur en medeskrywer, Francois Coetzee, vertel meer oor die span wat ‘Spoorloos: Losprys’ geskep het.

Deur Riëtte van der Wat
Van wildsveilings tot stormreën: ‘Spoorloos’-ervaring sal hy vir niks verruil, sê regisseur

Dit reën katte en honde toe ons vroeër vanjaar opdaag by die Spoorloos-stel op ’n plaas in die Walkerville-omgewing, so ent van Johannesburg af. Die plan was om daardie dag buite-tonele in die sonskyn te verfilm, maar die grondpaaie is ’n modderspul en almal loop met sambrele rond.

En tog lyk dit nie of enigiemand op die vervaardigingsspan van stryk gebring is deur die weeklange reënbui in Gauteng nie, want alternatiewe planne is klaar in plek en storielyne aangepas sodat die verfilmingsskedule van Spoorloos: Losprys, sonder haakplek verloop.

Spoorloos
Reën kon nie dié span van stryk bring nie! Angelique Pretorius vertolk een van die hoofrolle in die reeks. Foto: Angelique Pretorius

“Die ervaring om hierdie seisoen van Spoorloos te skiet was ’n fees, hoofsaaklik omdat ons so lekker span gehad het om mee te werk,” sê mede-regisseur en medeskrywer, Francois Coetzee. “Van die produksiespan, tot die tegniese span en die kinematograaf Gavin Pincus en die takelaar, Werner Nortje, was ongelooflik. Werner is ’n legend en ek wil nie op ’n stel wees sonder hom nie en Gavin se dapperheid met die look and feel is so vars en nuut. Hy is ’n vreeslik opwindende DOP om mee te werk.”

“Die kunsregisseur, Anneke Dempsey, het ’n tight ship gerun. Sy en haar hele span het so ’n groot wa deur die drif getrek en het nie een keer die bal laat val nie. Die kostuum- en grimeerafdelings, wat onderskeidelik deur Monique Lamprecht en Theola Booyens beman is, was ook puik.”

Francois het die regie saam met Ilse van Hemert, die skepper van Spoorloos, gedoen. “Ons het die regie van episodes afgewissel tussen die twee van ons. Ons het mekaar baie selde op stel gesien, omdat een regisseur die dag moet deurdryf, maar ons het so ’n lekker tyd gehad om die bal vorentoe en agtertoe vir mekaar aan te gee.”

Spoorloos Losprys, Angelique Pretorius
“Die ervaring om hierdie seisoen van Spoorloos te skiet was ’n fees, hoofsaaklik omdat ons so lekker span gehad het om mee te werk,” sê mede-regisseur en medeskrywer, Francois Coetzee. Foto: Angelique Pretorius

Dieselfde bladsy 

Dis ook belangrik dat die kinematograaf en regisseurs op dieselfde bladsy moet wees, sê Francois. “As regisseur moet jy alles kreatief bymekaar hou, maar jy kan en moet nie élke deel van die produksie bestuur nie. Jy het as regisseur jou visie, terwyl die DOP syne het. En voor julle begin skiet, is die groter plan reeds in plek, al bly daar heeltyd ’n gesprek aan die gang,” sê Francois.

Navorsing vir ’n nuwe wêreld

Die wêreld waarin Spoorloos: Losprys afspeel, is die bosveld en wildsplase. “Ek kom van die Vrystaat af en ek het baie vriende en kennisse in die boerdery- en wildbedryf,” sê Francois oor die navorsing wat ingegaan het in die ontwikkeling, skryf en skiet van die storie. 

Laudo Liebenberg, Spoorloos
Laudo Liebenberg vertolk een van die hoofrolle in Spoorloos: Losprys. Foto: Verskaf

“Ou skoolvriende van my het die ekstra myl gegaan om my die ins and outs van wildveilings te leer en ook van die dinge wat elke dag op ’n wildsplaas moet gebeur. Van die klein goedjies, soos hoe laat ’n mens in die oggend op so plaas opstaan, tot iets soos wildsveilings.”

Hy het gereeld wildsveilings in die Boshoff-omgewing bygewoon en details opgetel wat hy en sy medeskrywer, Mitzi Booysen, in die draaiboek kon gebruik. “As jy op ’n spesifieke plek is waar dinge op ’n sekere manier gebeur, sien jy interessante mense en jy hoor interessante goed. 

“Sulke veilings is eintlik baie stresvol – dis ’n geskree van mense en die klanke en reuke van gestresde diere en spanning wat al hoe meer raak soos die bedrae groter raak. Ek en Mitzi kon lekker met daardie details speel,” sê hy.  

Ruimte om dieper te delf 

Francois is dankbaar teenoor kykNET wat oopkop is oor waarheen die kreatiewe span met die storie kon gaan. “Quinten Krog is ’n fantastiese commissioning editor en ek dink dit is omdat hy ook ’n akteur en regisseur is. Dis goed om so iemand te hê wat goeie leiding kan gee, omdat hy weet waarvan hy praat as hy sê ’n karakter waarmee ons vorendag gekom het gaan dalk nie strook met die identiteit van die kanaal nie.

Spoorloos Losprys, Angelique Pretorius
Angelique Pretorius in Spoorloos: Losprys. Foto: Skermgreep

“Maar kykNET laat ’n mens toe om die grense te stoot, om dieper te delf en om dinge anders te doen. In ’n reeks soos Spoorloos moet daar uitdaging, konflik en teenstrydighede wees. En dis ook nie net grense push net omdat jy kan nie, maar as deel van die evolusie van die Suid-Afrikaanse filmbedryf- en kultuur.”

Topklas-vermaak

“Ek hoop die gehoor geniet Spoorloos: Losprys net soveel soos wat ons almal dit geniet het om dit te maak,” sy hy dan.

“Die span was topklas, en ja, daar was moeilike en uitdagende dae. Maar die vervaardigers, Ilse en Johnny Mabeba van Moving Ochre Pictures, was so goed. En omdat ons die beste fighting chance gegee is, het dit beteken almal wou net verder hardloop en hierdie ding net nog lekkerder maak.

“Om saam met daardie groep mense te werk, is ’n ervaring wat ek vir niks sal verruil nie.”

Gaan agter die skerms saam met Angelique Pretorius op die stel van Spoorloos: Losprys.

Lees ook ons in-diepte onderhoud met Angelique Pretorius.


Spoorloos: Losprys word Dinsdae-aande om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook S1-4 van Spoorloos op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies