Spoorloos se vyfde seisoen, Spoorloos: Losprys, is soos die vorige aflewerings van dié reeks ’n losstaande spanningsverhaal. Die vorige seisoene van die reeks is op Showmax beskikbaar.
Dié seisoen handel oor ’n ryk wildboer, Brand (Louis Minnaar), wie se tiener-kleindogter, Karla (Lienke Vermeulen), ontvoer word tydens haar pa, Willem (Neels Clasen), se moordverhoor. Sy is ’n sleutelgetuie in die saak. Haar ma, Lynette (Angelique Pretorius), word genoodsaak om haar eks-minnaar, Frank (Laudo Liebenberg), om hulp te vra, synde hy die enigste ervare speurder in die distrik is. Maar sodra die saak opgelos word, verdwyn nog iemand spoorloos – en hierdie keer word geen losprys geëis of leidrade verskaf nie…
In ons onderhoud met Angelique het sy vertel dat dit maklik was om ja te sê vir die rol van Lynette. “Dit het alles begin met die briljante teks. My karakter is so mooi geskryf. Daar was nie ’n manier hoe ek hierdie geleentheid van die hand sou wys nie!
“Lynette is ’n wonderlike, komplekse en driedimensionele karakter met baie fasette aan haar persoonlikheid, geskiedenis en omstandighede. Sy het krag, kwesbaarheid, frustrasie, hartseer, woede en moet skokkende gebeure verwerk. Om as akteur al daai emosies te kon speel, was regtig ’n wonderlike geleentheid.” (Lees die volledige onderhoud.)
Hier is wat op die stel van dié dramareeks tussen tonele gebeur het.
Al dié foto’s is deur Angelique Pretorius verskaf.
Spoorloos: Losprys is van Dinsdag 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Die vorige vier seisoene van Spoorloos is op Showmax beskikbaar.

