Menu terloops
In Features [15 Sep 2025]

Die DNS van ‘Spoorloos’: Wat lê agter sukses van dié Afrikaanse kettingreeks?


Die DNS waaruit ’n seisoenale kettingreeks, soos kykNET se ‘Spoorloos’ opgebou word, bly seisoen ná seisoen dieselfde, terwyl die karakters, storielyn en die wêreld waarbinne dit afspeel, elke keer verander. Riëtte van der Wat het met skrywer en regisseur Francois Coetzee oor dié gewilde genre gesels.

Deur Riëtte van der Wat
Die DNS van ‘Spoorloos’: Wat lê agter sukses van dié Afrikaanse kettingreeks?

In die eerste seisoen van Spoorloos het ’n reeksmoordenaar die dorpie Digtersdal geterroriseer. In Spoorloos: Heksejag soek ’n man ná ’n traumatiese motorongeluk naarstiglik na antwoorde. ’n Baba verdwyn en haar ouers word vermoor in, Spoorloos; Steynhof, en in die vierde seisoen, Die eiland, dompel ’n argitek se toevallige ontmoeting met ’n lang verlore liefde sy lewe in chaos.

En nou, in die vyfde seisoen van kykNET se gewilde kettingdramareeks (anthology), Spoorloos, met die subtitel, Losprys, lei ’n moord en die verdwyning van ’n jong meisie tot die ontrafeling van ’n gesiene familie en hul aansien.

Begin, middel en einde

Franchise, kettingreeks, antologie, noem dit wat jy wil. Reekse soos Spoorloos, waarin elke seisoen in die reeks ’n alleenstaande storie met ’n unieke stel karakters en rolverdeling vertel, is ’n genre wat internasionaal aanklank vind by televisiegehore, ook in Afrikaans.

Dink maar aan reekse soos True Detective, Fargo, The White Lotus en American Horror Story, wat telkens binne dieselfde raamwerk splinternuwe stories vertel en kykers in die proses vasgenael hou.

White Lotus, TV-reekse, Spoorloos
’n Toneel uit die derde seisoen van The White Lotus, een van die suksesvolste TV-reekse wat in die kettingreeks-genre (óftewel anthology) val. Foto: Verskaf

In ’n artikel wat so paar jaar gelede op The Guardian se webwerf gepubliseer is, skryf Eric Thurm dat antologieë in die beginjare van televisie uit reekse bestaan het waarin elke episode ’n losstaande storie vertel het. “Hierdie stories was meer soos verskillende liedjies op dieselfde album, eerder as boublokke van ’n groter storielyn, soos wat die geval is met hedendaagse reekse.”

Dié formaat het mettertyd doodgeloop omdat dit glo vir kreatiewe spanne al hoe meer uitdagend geraak het om week ná week splinternuwe karakters en spanningslyne te skep.

Die seisoenale antologie, waarin elke seisoen van dieselfde reeks ’n nuwe storie aanpak, was die logiese volgende stap. “Die seisoenale antologie vertel ’n contained storie, duur vir tien tot dertien episodes en reset aan die begin van elke volgende seisoen. Dit verg ’n helder, konsekwente visie,” skryf Thurm.

Die reëls van die speletjie

Francois Coetzee, mede-skrywer en mede-regisseur van Spoorloos: Losprys, bevestig dat die antologie-formaat so gewild is omdat kykers en kreatiewe spanne weet wat die stel reëls is waarbinne die reeks afspeel. Hy was ook as mede-skrywer en mede-regisseur by Spoorloos: Die Eiland betrokke.

“Die draaiboek-foendie Robert McKee het gesê hoe meer kreatiewe beperkings jy het hoe vryer kan jy wees, want die storie kan énigiets wees. Met stories, het jy te doen met menslike emosies wat eindelose moontlikhede bied. Dit is dan goed om jouself as skrywer met ’n gegewe struktuur te anker.”

Spoorloos Die eiland
Izel Bezuidenhout en Bobby van Jaarsveld het die hoofrolle in Spoorloos: Die eiland vertolk. Foto: Verskaf
Spoorloos Losprys
Angelique Pretorius, Neels Clasen en Laudo Liebenberg vertolk die hoofrolle in Spoorloos: Losprys, die nuutste aflewering van dié kettingreeks. Foto: Verskaf

Kykers weet op die beurt hulle kan die raamwerk vertrou: “Hulle weet waarvoor hulle hulself inlaat, en wat die grense is. Elke reeks het dan sy eie nuwe temas, nuwe karakters, ’n nuwe gevoel, pas en ritme wat die gehoor binne die gegewe raamwerk bly verras,” sê Francois.

Scharl van der Merwe, M-Net se hoof van premiuminhoud en ko-produksies, beaam dat ’n reeks soos Spoorloos toeganklike vermaak bied. “Kykers hoef nie te voel daar is storie wat ontbreek, of ure se drama wat hulle moet opvang nie. Elke reeks het ’n opwindende rolverdeling in ’n unieke wêreld van spanning en dit hou die reeks interessant. Kykers kan dus net terugsit en die storie geniet.”

In ’n stromingsmark waar dit dikwels lyk of reekse se storielyne nimmereindigend is, is dit vir gehore ’n verligting as hulle nie groot hompe van hulle lewe aan ’n enkele reeks hoef te wy nie, beaam Stephan Mowbray van SVT in Swede in ’n artikel van Andy Fry op die webwerf dramaquarterly.com.

“Daar is deesdae soveel goeie kyk-opsies, dat gehore die feit verwelkom dat ’n dramareeks na agt tot tien episodes afgehandel is en nie ’n vyf jaar verhouding vereis nie. En vir uitsaaiers ontwikkel antologieë ’n herkenbare, terugkerende franchise en sterk handelsmerk-identiteit.”

Storie-moontlikhede

In dieselfde artikel op dramaquarterly.com sê Eric Schrier van FX Networks dat hy glo die trend om antologieë te maak het in 2011 met American Horror Story begin. “Tradisioneel is uitsaaiers bang vir hierdie tipe reeks, omdat jy as programmeerder wil hê reekse moet ’n lang run hê. Die minireeks het twintig jaar gelede doodgeloop en nooit ’n terugkeer gemaak nie, maar nou is daar ’n terugkeer van ‘beperkte’ (limited) reekse, wat jou toelaat om stories te vertel wat jy nie andersins sou kon nie.”

In Spoorloos is dit elke keer die gehoor se werk om uit te pluis wie die skuldige is en as skrywers nooi ons jou uit om die leidrade uit te werk. Maar die gehoor se uitdaging is ook om te besluit wie nié ’n vinger in die pie het nie. Want die verdwyning vlek allerlei ander geheime oop en voor jy weet, keer almal vir hulle wickets.

Francois Coetzee, mede-skrywer en mede-regisseur van Spoorloos: Losprys

Carmi Zlotnik van Starz sê antologieë hou eindelose storiemoontlikhede in, terwyl dit kreatiewe spanne toelaat om binne ’n sekere raamwerk skeppend te wees. Gehore, sê sy, gee minder om oor die formaat as oor die gehalte van produksies. As iets goed is, sal hulle dit kyk.

Waldimar Pelser, hoof van premiumkanale by M-Net, wat kykNET insluit, sê juis terugkerende reekse soos Spoorloos word baie versigtig gekies op grond van vorige kykertalle: “Ons probeer ’n balans handhaaf tussen dit wat kraakvars is, en programme waarby kykers lankal tuis voel.”

Wie’s nie skuldig nie?

Volgens Francois, wat Losprys saam met die reeks se skepper Ilse van Hemert en Mitzi Booysen geskryf het, is die Spoorloos-antologie se DNS neergelê met die eerste seisoen, wat gegrond is op Vernon B. Baumann se boek, Daddy Long Legs, oor ’n reeksmoordenaar op die dorpie Digtersdal.

Die DNS van Spoorloos is natuurlik die feit dat iemand vermis raak, verduidelik hy. Die verdwyning sit die wiel aan die rol vir ’n hele ketting gebeure, bring mense in konflik met mekaar, vlek verskillende karakters se geheime oop en laat konflikte opvlam.

“In Spoorloos is dit elke keer die gehoor se werk om uit te pluis wie die skuldige is en as skrywers nooi ons jou uit om die leidrade uit te werk. Maar die gehoor se uitdaging is ook om te besluit wie nié ’n vinger in die pie het nie. Want die verdwyning vlek allerlei ander geheime oop en voor jy weet, keer almal vir hulle wickets.”

Volgens die reeks se skepper en vervaardiger Ilse van Hemert is nog ’n belangrike aspek van Spoorloos se DNA die feit dat dit altyd in ’n klein dorpie afspeel en gesentreer is om ’n familie en sy geheime. Francois beaam dat die geïsoleerdheid van die wêreld waarbinne die gebeure ontvou, belangrik is. In die geval van Losprys speel die gebeure af in die bosveld en in die wildbedryf.

Spoorloos Losprys
Angelique Pretorius, wat die rol van Lynette in Spoorloos: Losprys vertolk, sê oor haar ervaring van dié projek: “Om op die Spoorloos-stel te kon sien hoe almal, uit verskillende agtergronde, saamgewerk het; om die spanpoging te beleef en ook om te sien hoeveel respek almal vir mekaar getoon het en hoe toegewyd almal was om die béste moontlike produk te skep, was só inspirerend en roerend.” 

“Hierdie keer moet ’n gesiene familie, wat op ’n wildsplaas woon, baklei om hul aansien te behou. Al die individuele karakters kom saam voor ’n krisis te staan as gevolg van die verdwyning, want elkeen het sy of haar eie agenda. Die feit dat die persoon verdwyn, dompel almal dan ook in hul eie krisisse, terwyl hulle saam ook hierdie groot krisis beleef. Dit raak op die ou einde ’n maalkolk.” (Gaan agter die skerms saam met Angelique Pretorius op die stel van Spoorloos: Losprys.)

Karakters met ’n eie wil

Francois sê hulle begin gewoonlik as skrywers met ’n bepaalde idee van hoe ’n karakter se storie gaan verloop, maar dan kry karakters hul eie idees. “Hier teen episode ses of sewe onthul die karakters hulself eintlik aan ons as skrywers en dis hulle wat ons op die ou einde lei na antwoorde.”

“My draaiboeklektor, Tienie Theunissen, het altyd gesê draaiboekskryf is soos om beeldhouwerk te doen. Jy het ’n stuk klip en jy moet die beeld wat jy wil hê daaruit begin kap. Die klip dikteer in ’n mate vir jou wat die eindproduk gaan wees. Dit is baie harde werk, want jy moet aanhou kap en skaaf.”

Met ’n reeks soos Spoorloos word hierdie proses gekompliseer deur die feit dat daar so baie is wat van die kyker weerhou moet word, verduidelik Francois: “Ons moet twee stories skryf: hoe die gebeure chronologies gebeur en dan hoe ons hom op skerm gaan vertel, wat natuurlik nie liniêr is nie. Jy moet die gehoor die kans gee om die legkaart te bou en om self te besluit in wie se kamp hulle is. Dan moet jy ook daai love to hate-karakters skep.”

“Om die intrige vars en die kykers geïnteresseerd te hou, moet ons deur die loop van die vertelling die genre op sy kop begin draai, terwyl ons steeds by die reëls hou wat vir die Spoorloos-antologie vasgestel is.”

Verskillende perspektiewe

Hy verduidelik dat nog ’n belangrike onderdeel van die Spoorloos-antologie die manier is waarop kykers gebeure vanuit verskillende karakters se perspektief sien ontvou. “Al het elke seisoen sy eie temas, en al is die look en feel van elke seisoen uniek, is daar uit ’n kamerawerk-perspektief so ’n paar dinge wat elke keer dieselfde bly. Ons kan byvoorbeeld nie alles wys of sê nie en daar is ’n sterk fokus op wat die kyker nié sien nie.”

Francois is baie opgewonde oor die versteekte nuanses wat deur middel van die kinematografie bewerkstellig is vir die nuutste seisoen. “Die kinematograaf, Gavin Pincus, het dit ongelooflik goed reggekry om met skaduwees te speel. Jy het byvoorbeeld soms hoofkarakters in die raam, maar hulle oë is half verskuil, wat die DNS dien van Spoorloos en daardie idee dat daar altyd iets is wat jy nie sien of weet nie.”

Verbode liefde

En dan is daar natuurlik romanse, wat ’n onderdeel van elke seisoen van Spoorloos vorm.

Spoorloos Losprys
Francois het vertel dat hy dit veral geniet het om die regie te doen van tonele wat tussen Frank (Laudo Liebenberg) en Lynette (Angelique Pretorius) afspeel.

“Daar is altyd twee mense wat mekaar lief het, maar wat om die een of ander rede nie bymekaar kan wees nie. Dit skep allerlei komplikasies en storie-moontlikhede,” sê Francois. “In Losprys is verbode liefde sterk tot die sentrale storie, en vreeslik kompleks.”

Francois sê hy het dit veral geniet om die regie te doen van tonele wat tussen Frank (Laudo Liebenberg) en Lynette (Angelique Pretorius) afspeel. “Hul karakters se verhouding is baie meer kompleks as wat ons as skrywers sou kon voorsien. Om hulle saam in hierdie tonele te sit waar hulle mekaar, te midde van grense, probeer verstaan, was baie lekker en Laudo en Angelique se chemie was ongelooflik. Dit was van die moeilikste tonele, maar daarom ook die mees bevredigende, om te skiet.” (Lees ook ons in-diepte onderhoud met Angelique.)

Nog ’n interessante aspek van die antologie, of kettingreeks, is die feit dat dieselfde akteurs telkens daarin kan speel, maar in verskillende rolle.

Deon Coetzee en Neels Clasen, wat albei hoofrolle vertolk, is albei vir die derde keer in ’n seisoen van Spoorloos te sien, maar in nuwe gedaantes. Die gevolg is ’n mate van bekendheid en kontinuïteit, terwyl kykers ook op hulle tone moet bly oor die nuwe personas wat die akteurs aanneem.


Spoorloos: Losprys word Dinsdae-aande om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook S1-4 van Spoorloos op Showmax.






Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies