Spooksoeker vertel die storie van Warno (Rico Immelman), ’n doodgewone 15-jarige seun, wat ontdek dat hy die buitengewone vermoë het om spoke te sien – en van hulle ontslae te raak. Dis ’n vreemde nuwe wêreld vir Warno, maar gelukkig het hy sy beste vriende, Allies (Joshwin Dyson) en Melissa (Zarelda de Bruin), aan sy sy. terloops het met die 17-jarige Zarelda, ’n leerder aan die Hoërskool Durbanville in Kaapstad, oor haar debuutrol gesels.
Hoe het dit gebeur dat jy die rol van Melissa in Spoorsoeker gekry het?
“Hierdie is my heel eerste rol en ook die heel eerste keer wat ek vir enigiets oudisie het. Toe ek die rol gekry het, was ek nog nie eens by ’n agentskap nie, maar alles het so perfek in plek geval. Ek is nog steeds so verbaas hoe alles vir my uitgewerk het – hierdie rol was my eerste van alles.
“My toneelafrigter en die kultuurhoof by my skool, Delia Pereira, het op ’n dag vir my gevra of ek sou belangstel om vir ’n Showmax-reeks te oudisie. Ek het nie geweet waaroor dit gaan nie, ek het net ’n beskrywing van die karakter, Melissa, gekry. Ek het ook nie geweet hoe werk die oudisieproses nie, maar sy het my toe gehelp om ’n video-oudisie op te neem en dit namens my deurgestuur. Ek is baie dankbaar dat sy my deur dít alles gehelp en gementor het. Dit was Delia Pereira wat gehelp het om dié geleentheid vir my te laat realiseer.
“Ek het rêrig nie verwag dat ek ’n callback sou kry nie. Ek het ’n kans gevat en net gehoop vir die beste. ’n Paar weke daarna het ek uitgevind van die callback en nog ’n paar weke daarna was daar toe ’n vergadering met die vervaardigers waar hulle my laat weet het dat ek die rol gekry het.”
Die eerste paar weke was vir my baie moeilik, nie as gevolg van die omstandighede om my nie, maar oor my geloof in myself. Ek moes met myself gaan sit het en myself herinner dat ek die rol vir ’n rede gekry het en dat ek verdien om daar te wees.
Zarelda de Bruin
Is toneelspel iets waarvoor jy al lank ’n passie het?
“Ek het nog my hele lewe lank toneelspel gedoen – glad nie professioneel nie, eerder skoolkonserte en sulke klein goedjies. Maar ek was nog altyd aangetrokke tot toneelspel en film en die bedryf. Ek onthou, aan die begin van die jaar moes ek ’n skooltaak doen waar ek ’n plakkaat moes maak van my grootste droom. Ek het die hele plakkaat vol foto’s geplak van om ’n aktrise te wees. En twee maande ná dit het ek die rol gekry. So ja, dit was nog altyd ’n droom, maar ek het nooit gedink dat dit ’n realiteit sou word nie.”
Hoe was die ervaring van jou eerste hoofrol?
“Dit was uitdagend, maar baie lekker. Ek het vir die eerste paar weke baie gesukkel met imposter syndrome. Ek het baie in my eie vermoëns getwyfel en ek moes leer om in myself te glo en vertroue te kry. Ek is gewoond aan teater en ek het vertroue in myself op die verhoog, maar teater en televisie verskil en ek moes nuwe vertroue in myself kry.
“Die eerste paar weke was vir my baie moeilik, nie as gevolg van die omstandighede om my nie, maar oor my geloof in myself. Ek moes met myself gaan sit het en myself herinner dat ek die rol vir ’n rede gekry het en dat ek verdien om daar te wees. Ek het verskriklik baie ondersteuning ontvang, van my eie gesin en ook op stel. My vriende, en my ma en almal het baie met dit gehelp. Die atmosfeer op stel was ook net elke dag so positief. Die ervaring was net ongelooflik. Ek voel nie dit kon beter wees nie.”
Hoe sou jy vir Melissa beskryf? Is daar raakpunte tussen julle?
“Ek voel hoe almal haar gaan beskryf is as die tipiese girl next door-karakter. Sy’s baie slim en sy’s ’n joernalis, so sy sien baie goed raak wat ander mense nie raaksien nie. Sy stel ook baie belang in goed waaraan ander mense nie eens twee keer sal dink nie. Sy is ’n omgee-mens en sy wil die mense om haar help. En al is dit dalk deur om haarself in vreemde situasies te sit en haar morele kompas te toets, sy’s bereid om dit te doen want sy’s lief vir die mense om haar.
“Partykeer het ek die draaiboek gelees en dan dink ek, “Hoekom doen jy dit?” (lag) Want dit was goed wat ek nooit in die regte lewe sou doen nie. Melissa is partykeer baie voor op die wa. Sy is baie in ander mense se besigheid (lag). Ek hou my neus weer uit ander mense se sake uit!
“Ons stem baie ooreen in terme van hoe ons dinge sien. Ons albei het baie sterk morele kompasse. Ons albei sien situasies as baie wit en swart en ons albei moet die grys areas vind. In die reeks kry Melissa dit baie goed reg, waar ek natuurlik op my eie reis moet gaan en ook daai grys areas vind.”
Julle het ook so ’n vol rolverdeling, van Safta-wenners June van Merch en Morné Visser tot mense soos Daneel van der Walt, David Isaacs, Deon Coetzee, Ira Blanckenberg, Ivan Zimmerman, Izel Bezuidenhout, Jane de Wet, Laudo Liebenberg, Marguerite van Eeden, Roeline Daneel, Terence Bridgett, en Waldemar Schultz.
“Ja, daar was elke dag ’n nuwe gesig. Partykeer was dit baie intimiderend, maar ek het probeer om iets uit elke dag te neem, met die akteurs te gesels en te leer deur te doen. Ook omdat ek geen ervaring voor dít gehad het nie, het ek lesse in alles probeer vind.”
Was daar iemand met wie jy ’n band op stel gesmee het?
“Ek het baie goed oor die weg gekom met Frieda van den Heever wat my moederfiguur speel. Ons het baie van mekaar geleer en sy is net so ongelooflik, sy is so cool. As ek eendag ’n ma is, wil ek presies soos sy wees!”
En die ander twee akteurs wat jul trio in die storie opmaak, Joshwin Dyson en Rico Immelman?
“Ek is so dankbaar dat ek saam met hulle kon werk! Ons praat elke dag! Ek kan nie glo dat daar ’n tyd in my lewe was wat ek hulle nie geken het nie; dit is vir my so vreemd om daaraan te dink. Ek is baie lief vir hulle en dit was ongelooflik om hierdie ervaring met hulle te deel.”
Hoe was dit om terug agter die skoolbanke te wees?
“Dit was ’n baie groot aanpassing! (lag) Ek dink die eerste twee weke wat ek en Rico terug by die skool was, het ons elke dag by mekaar gekla! (lag) Want ons het nou pas ons drome uitgelewe en ons was so vry en nou is ons weer agter die skooldeure vasgevang!”
Glo jy in spoke?
“Ek het heeltyd vir mense op stel gevra of hulle in spoke glo! Ek glo in die idee van spoke, maar ek dink nie dit is hoe Spooksoeker dit uitbeeld nie.”
Wie inspireer jou as akteur?
“Simoné Pretorius. Een van gunsteling-films is Vir die Voëls, en ek kan onthou toe ek ’n klein dogtertjie was en ek het daai film gekyk en ek was soos, “Jy is so cool, hierdie is so cool!” My ma hou niks van daai film nie, want ek het dit al so baie gekyk dat as sy dit hier op die TV sien, wil sy net haarself uit die kamer uit verwyder! (lag) Maar wat Simoné op die skerm doen; ek kan vir ure lank net na haar kyk! As ek haar eendag in persoon sou sien, sal ek flou val!”
Spooksoeker stel elke Donderdag nuwe episodes op Showmax bekend.