Menu terloops
In Onderhoude [6 Jan 2026]

‘Spooksoeker’ op kykNET: ‘Alles het perfek in plek geval’ vertel Zarelda de Bruin


Haar eerste skermrol – as Melissa in Showmax se TV-verwerking van die gewilde ‘Spooksoeker’-boeke deur François Bloemhof – is ’n droom bewaarheid, vertel die jong aktrise Zarelda de Bruin.

Deur Rozanne Els
‘Spooksoeker’ op kykNET: ‘Alles het perfek in plek geval’ vertel Zarelda de Bruin
Kyk lokprent

Spooksoeker vertel die storie van Warno (Rico Immelman), ’n doodgewone 15-jarige seun, wat ontdek dat hy die buitengewone vermoë het om spoke te sien – en van hulle ontslae te raak. Dis ’n vreemde nuwe wêreld vir Warno, maar gelukkig het hy sy beste vriende, Allies (Joshwin Dyson) en Melissa (Zarelda de Bruin), aan sy sy. Terloops het met Zarelda oor haar debuutrol gesels.

Spooksoeker, Zarelda de Bruin
Joshwin Dyson, Zarelda de Bruin en Rico Immelman vertolk die hoofrolle in Showmax se Spooksoeker. Foto: Verskaf

Hoe het dit gebeur dat jy die rol van Melissa in Spoorsoeker gekry het?

“Hierdie is my heel eerste rol en ook die heel eerste keer wat ek vir enigiets oudisie het. Toe ek die rol gekry het, was ek nog nie eens by ’n agentskap nie, maar alles het so perfek in plek geval. Ek is nog steeds so verbaas hoe alles vir my uitgewerk het – hierdie rol was my eerste van alles. 

“My toneelafrigter en die kultuurhoof by my skool [Hoërskool Durbanville, Zarelda het intussen gematrikuleer], Delia Pereira, het op ’n dag vir my gevra of ek sou belangstel om vir ’n Showmax-reeks te oudisie. Ek het nie geweet waaroor dit gaan nie, ek het net ’n beskrywing van die karakter, Melissa, gekry. Ek het ook nie geweet hoe werk die oudisieproses nie, maar sy het my toe gehelp om ’n video-oudisie op te neem en dit namens my deurgestuur. Ek is baie dankbaar dat sy my deur dít alles gehelp en gementor het. Dit was Delia Pereira wat gehelp het om dié geleentheid vir my te laat realiseer. 

“Ek het rêrig nie verwag dat ek ’n callback sou kry nie. Ek het ’n kans gevat en net gehoop vir die beste. ’n Paar weke daarna het ek uitgevind van die callback en nog ’n paar weke daarna was daar toe ’n vergadering met die vervaardigers waar hulle my laat weet het dat ek die rol gekry het.” 

Die eerste paar weke was vir my baie moeilik, nie as gevolg van die omstandighede om my nie, maar oor my geloof in myself. Ek moes met myself gaan sit het en myself herinner dat ek die rol vir ’n rede gekry het en dat ek verdien om daar te wees.

Zarelda de Bruin

Is toneelspel iets waarvoor jy al lank ’n passie het?

“Ek het nog my hele lewe lank toneelspel gedoen – glad nie professioneel nie, eerder skoolkonserte en sulke klein goedjies. Maar ek was nog altyd aangetrokke tot toneelspel en film en die bedryf. Ek onthou, aan die begin van die jaar moes ek ’n skooltaak doen waar ek ’n plakkaat moes maak van my grootste droom. Ek het die hele plakkaat vol foto’s geplak van om ’n aktrise te wees. En twee maande ná dit het ek die rol gekry. So ja, dit was nog altyd ’n droom, maar ek het nooit gedink dat dit ’n realiteit sou word nie.” 

Hoe was die ervaring van jou eerste hoofrol?

“Dit was uitdagend, maar baie lekker. Ek het vir die eerste paar weke baie gesukkel met imposter syndrome. Ek het baie in my eie vermoëns getwyfel en ek moes leer om in myself te glo en vertroue te kry. Ek is gewoond aan teater en ek het vertroue in myself op die verhoog, maar teater en televisie verskil en ek moes nuwe vertroue in myself kry.

“Die eerste paar weke was vir my baie moeilik, nie as gevolg van die omstandighede om my nie, maar oor my geloof in myself. Ek moes met myself gaan sit het en myself herinner dat ek die rol vir ’n rede gekry het en dat ek verdien om daar te wees. Ek het verskriklik baie ondersteuning ontvang, van my eie gesin en ook op stel. My vriende, en my ma en almal het baie met dit gehelp. Die atmosfeer op stel was ook net elke dag so positief. Die ervaring was net ongelooflik. Ek voel nie dit kon beter wees nie.” 

Hoe sou jy vir Melissa beskryf? Is daar raakpunte tussen julle?

Spooksoeker, Zarelda de Bruin
“Melissa is partykeer baie voor op die wa. Sy is baie in ander mense se besigheidEk hou my neus weer uit ander mense se sake uit!” vertel die jong aktrise Zarelda de Bruin oor haar Spooksoeker-karakter. Foto: Verskaf

“Ek voel hoe almal haar gaan beskryf is as die tipiese girl next door-karakter. Sy’s baie slim en sy’s ’n joernalis, so sy sien baie goed raak wat ander mense nie raaksien nie. Sy stel ook baie belang in goed waaraan ander mense nie eens twee keer sal dink nie. Sy is ’n omgee-mens en sy wil die mense om haar help. En al is dit dalk deur om haarself in vreemde situasies te sit en haar morele kompas te toets, sy’s bereid om dit te doen want sy’s lief vir die mense om haar.

“Partykeer het ek die draaiboek gelees en dan dink ek, ‘Hoekom doen jy dit?’ (lag) Want dit was goed wat ek nooit in die regte lewe sou doen nie. Melissa is partykeer baie voor op die wa. Sy is baie in ander mense se besigheid (lag). Ek hou my neus weer uit ander mense se sake uit!

“Ons stem baie ooreen in terme van hoe ons dinge sien. Ons albei het baie sterk morele kompasse. Ons albei sien situasies as baie wit en swart en ons albei moet die grys areas vind. In die reeks kry Melissa dit baie goed reg, waar ek natuurlik op my eie reis moet gaan en ook daai grys areas vind.” 

Julle het ook so ’n vol rolverdeling, van Safta-wenners June van Merch en Morné Visser tot mense soos Daneel van der Walt, David Isaacs, Deon Coetzee, Ira Blanckenberg, Ivan Zimmerman, Izel Bezuidenhout, Jane de Wet, Laudo Liebenberg, Marguerite van Eeden, Roeline Daneel, Terence Bridgett, en Waldemar Schultz. 

“Ja, daar was elke dag ’n nuwe gesig. Partykeer was dit baie intimiderend, maar ek het probeer om iets uit elke dag te neem, met die akteurs te gesels en te leer deur te doen. Ook omdat ek geen ervaring voor dít gehad het nie, het ek lesse in alles probeer vind.” 

Was daar iemand met wie jy ’n band op stel gesmee het?

“Ek het baie goed oor die weg gekom met Frieda van den Heever wat my moederfiguur speel. Ons het baie van mekaar geleer en sy is net so ongelooflik, sy is so cool. As ek eendag ’n ma is, wil ek presies soos sy wees!”

En die ander twee akteurs wat jul trio in die storie opmaak, Joshwin Dyson en Rico Immelman?

“Ek is so dankbaar dat ek saam met hulle kon werk! Ek kan nie glo dat daar ’n tyd in my lewe was wat ek hulle nie geken het nie; dit is vir my so vreemd om daaraan te dink. Ek is baie lief vir hulle en dit was ongelooflik om hierdie ervaring met hulle te deel.” 

SPOOKSOEKER
Joshwin Dyson as Allies en Zarelda de Bruin as Melissa in Spooksoeker. Foto: Verskaf

Glo jy in spoke?

“Ek het heeltyd vir mense op stel gevra of hulle in spoke glo! Ek glo in die idee van spoke, maar ek dink nie dit is hoe Spooksoeker dit uitbeeld nie.”  

Wie inspireer jou as akteur?

“Simoné Pretorius. Een van gunsteling-films is Vir die Voëls, en ek kan onthou toe ek ’n klein dogtertjie was en ek het daai film gekyk en ek was soos, “Jy is so cool, hierdie is so cool!” My ma hou niks van daai film nie, want ek het dit al so baie gekyk dat as sy dit hier op die TV sien, wil sy net haarself uit die kamer uit verwyder! (lag) Maar wat Simoné op die skerm doen; ek kan vir ure lank net na haar kyk! As ek haar eendag in persoon sou sien, sal ek flou val!”


Spooksoeker saai weekliks vanaf Saterdag 3 Januarie om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die reeks is ook nog op Showmax beskikbaar.


Die artikel is oorspronklik op 17 Desember 2024 gepubliseer en is aangepas met die reeks se nuwe uitsaaibesonderhede op kykNET.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer
Sien alle opsies