Menu terloops
In Silwerskermfees [20 Aug 2025]

Silwerskermfees 2025: Dís wat wag op dag 1


Die 13de kykNET Silwerskermfees begin vandag met ’n topklas-skedule wat twee plaaslike speelfilms – die internasionaal bekroonde ‘Carissa’, asook die lang verwagte ‘My f*k, Marelize!’ – insluit.

Silwerskermfees 2025: Dís wat wag op dag 1

Vanjaar se Silwerskermfees bou voort op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf. Die skedule is wéér, soos elke jaar, volgeprop en sluit ’n diverse verskeidenheid kortfilms, dokumentêre, speelfilms, asook werksessies, besprekings en meesterklasse in.

Moenie misloop

Terloops se topkeuse op vandag se Silwerskermfees-skedule is die speelfilm, My f*k, Marelize!, wat vanaand op die fees première.

MFM, My fok, Marelize, Silwerskermfees
Je-ani Swiegelaar as ma Heidi en Zandélle Meyer as Marelize in My f*k, Marelize!. Foto: Skermgreep

Toe ’n selfoonvideo van ’n meisie wat met haar fiets reguit in ’n rugbypaal vasry, in 2019 aanlyn verskyn het met haar ma se onvergeetlike uitroep: “My f*k, Marelize!”, het dit onmiddellik ’n internet-sensasie geword. En nou is dit ’n fliek met Zandélle Meyer en Je-ani Swiegelaar in die hoofrolle. Volgens Zandré Coetzer, die regisseur, is die rolverdeling ’n belangrike element van die film se sukses. “Je-ani, tesame met Zandélle, Neels Clasen en Nichola Viviers, het vir ons die gesin se dinamika met humor, egtheid en siel laat voel. Dit was regtig ’n ongelooflike rolverdeling.” Lees ons onderhoud met Zandré oor dié fliek.

Hier is ’n samevatting van wat nog vandag op feesgangers wag:

Kortfilms deur opkomende filmmakers

Die fees se suksesvolle kortfilm-mentorskapprojek, wat vir ’n nuwe generasie kreatiewe skeppers se filmloopbane ’n wegspringplek gee, word vroegoggend met drie uiteenlopende kortfilms geopen. In Alma op pad vertel regisseur en draaiboekskrywer Jana-Marie Hey ’n grootwordverhaal wat geïnspireer is deur ’n ware familie-sloertoer. In Kinnetafel nooi skrywer-regisseur Stevie Cupido kykers om aan te sit by ’n familie-kersete waar Lucian Geland (Braeden Buys) se geheim – dat sy sukses in die uitgewerswêreld te danke is aan ’n ongenaakbare alles-onthullende boek oor sy familie – dreig om die dag te ontspoor. Met Sewe maak Karlé Briedenhan haar debuut as vervaardiger en draaiboekskrywer met ’n verhaal wat huishoudelike geweld takel.

Chrystal Conradie in Alma op pad, Silwerskermfees
Chrystal Conradie in Alma op pad. Foto: Skermgreep

Dokumentêre

Die dokumentêr-kategorie, nou vir ’n derde jaar by die fees, se aanbod begin met Bliksems in Bothaville, ’n unieke dokkie oor Roger Wilters, ’n sagmoedige rofstoeier van die Vrystaat, asook Vet vannie land, oor die briljante botanis Pieter van Wyk se pogings om ons land se uniekste ekosisteem teen ineenstorting te beskerm terwyl endemiese vetplante tot op die rand van uitsterwing gestroop en na die Ooste gesmokkel word.

Vet vannie land, Silwerskermfees 2025
Die dokumentêr Vet vannie land vertel oor die briljante botanis Pieter van Wyk se pogings om ons land se uniekste ekosisteem teen ineenstorting te beskerm. Foto: Skermgreep

Kortfilms deur gevestigde filmmakers

Vanjaar is daar ook weer geleentheid vir gevestigde filmmakers om voorstelle vir professionele kortfilms voor te lê. Die eerste sarsie films in dié feeskategorie word dan ook môre bekendgestel. In vervaardiger Emma Kotze en skrywer-regisseur Johann Vermaak se wetenskapsfiksie-drama, ARK, is twee uitverkore Afrikaanse jongmense, Noa (Ben Albertyn) en Mira (Kristen Raath), op pad na Mars om die voortbestaan van ’n volk en sy erfenis te verseker. Gasan Sallies se kortfilm, Tussen die kwashale, handel oor die verpletterende verlies wanneer ’n ma wat die grootste liefde vir haar 11-jarige nie-verbale outistiese seun koester, aan kanker sterf.

ARK, Silwerskermfees 2025
Noa (Ben Albertyn) en Mira (Kristen Raath) in ARK. Foto: Verskaf

Eksklusiewe TV-voorskoue

’n Hoogtepunt op die Silwerskermfees se program is die insluiting van loodsepisodes van nuwe TV- en stroomdiensreekse wat vir feesgangers eksklusiewe voorskoue bring. Môre word ’n eerste blik op kykNET se nuwe leefstylreeks Fanaties, wat fokus op Natie Ferreira en sy doen en late in die oudhede-wêreld, asook die insiggewende dokumentêr Jou MASE Taal, oor bruin en swart Afrikaanssprekendes se komplekse verhouding met die taal, aangebied.

Werkswinkels, meesterklasse en besprekings

Dan is daar ook weer ’n verskeidenheid van werkswinkels, paneelbesprekings en meesterklasse wat by die fees aangebied word. Môre se bespreking, Die toekoms van die speelfilm, word deur Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale, gelei. Later word daar ook ’n meesterklas, Toneelspeel in komedie, deur die skrywer-akteurs Bennie Fourie (Hotel) en Desiré Gardner (Magda Louw) aangebied. ’n Werkswinkel waartydens kenners die wetlike en etiese verantwoordelikhede van vervaardigers teenoor deelnemers van realiteitsreekse in oënskou neem, Voor- en nasorgplig: Die werklikheid van werklikheidsvermaak, volg daarná.

Blou tapyt

Die eerste blou tapyt van die fees word uitgerol vir die rolverdeling van Carissa waarin Skemergrond se Gretchen Ramsden die hoofkarakter vertolk. Dié prent het verlede jaar sy wêreldpremière by die befaamde Venesiese internasionale rolprentfees gehad, waar dit ook een van die juriepryse gewen het. Jason Jacobs en Devon Delmar se debuut as skrywers en filmregisseurs verken die verhaal van ’n jong vrou en haar gemeenskap in die hart van die Cederberg, wanneer die rooibostee-boerderye in die omgewing deur ’n luukse gholflandgoed bedreig word. Jason en Devon sê oor Gretchen: “Ons dink enige skrywer of regisseur kry slegs een kans om met iemand soos Gretchen Ramsden as hoofspeler te werk. Haar passie vir storievertel is meesterlik.”

Carissa, Silwerskermfees
Gretchen Ramsden in Carissa. Foto: Verskaf

My f*k, Marelize! kry later die aand sy eie blou tapyt as dié prent op die fees première. Op die vraag hoe sy vermaak met respek gebalanseer het synde dié film op die lewens van regte mense gegrond is, het die regisseur Zandré Coetzer só geantwoord: “Dis ’n delikate balans. Jy werk met regte mense, so as jy dit nie met respek aanpak nie, stel jy hulle regtig teleur. Ons het die storie benader soos iemand wat die verhaal van ’n mal aand oorvertel … Dalk dramaties, dalk deurmekaar, maar met die gevoel van waarheid… Die film moes voel soos ’n tuisvideo – eerlik en intiem. Ons wou hul wêreld so getrou as moontlik vasvang.”


Vir die volledige skedule, vertoningstye, lokale en kaartjies, besoek die Silwerskermfees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies