Menu terloops
In Silwerskermfees [7 Jul 2025]

‘Groot en belangrike storie’ in dokumentêr ‘Vet vannie land’ vervat


In die afgeleë Richtersveld woed ’n stryd teen tyd en georganiseerde misdaad soos die wêreld van onwettige vetplanthandel op ’n ekologiese ramp afstuur. Die kort dokumentêr ‘Vet vannie land’ volg die briljante botanis Pieter van Wyk se pogings om ons land se uniekste ekosisteem teen ineenstorting te beskerm soos endemiese vetplante tot op die rand van uitsterwing gestroop en na die Ooste gesmokkel word.

Deur Annelene Oberholzer
‘Groot en belangrike storie’ in dokumentêr ‘Vet vannie land’ vervat
Kyk lokprent

Wat soek ’n lang, lenige man met ’n leer op ’n verlate koppie in die Richtersveld, met net ’n enkele bobbejaan as “toesighouer”? Wel, as die man se naam Pieter van Wyk is, is daar ’n baie goeie rede. Dié briljante botanis is vasbeslote om Suid-Afrika se unieke ekosisteem te beskerm, selfs teen stropers wat endemiese vetplante plunder vir die buitelandse mark. CNN noem hom nie verniet die “plantherder” nie. Vervaardiger Danielle McDonald vertel meer oor die dokumentêr Vet vannie land, wat by vanjaar se Silwerskermfees première:

Vanwaar die besluit om ’n dokumentêr oor vetplante en hul voortbestaan te maak?

“Hierdie storie kruis al vir die afgelope vyf jaar my pad. Ek en Konrad Raubenheimer, my man saam met wie ek die dokumentêr gemaak het, het in 2020 ’n YouTube-reeks gemaak oor Suid-Afrika se Unesco-erfenisgebiede.

“Só het ons ’n veldwagter ontmoet wat saam met Pieter by die Richtersveld-oorgrenspark gewerk het, en sy het ons die eerste keer van hul stryd met die vetplante vertel. ’n Jaar of twee later het ons weer in die Noord-Kaap gaan draai en met iemand ’n onderhoud gevoer oor vetplantstroping. Dit is waar ons vir die eerste keer werklik besef het dat hierdie ’n groot en belangrike storie is.”

“Pieter kom van Alexanderbaai af – letterlik in die Richtersveld. Ons het hom so baie verfilm terwyl hy gepraat het oor sy kinderjare, en ek wens ons kon dit ook in die dokumentêr behou. Soos hoe hy as sesjarige begin plantjies versamel het. Daar het sy passie vir taksonomie al op skool begin. Hoe hy Nama geleer het by ’n nomadiese veewagter …

“Vandag doen hy navorsing saam met verskeie universiteite en het hy al ’n string akademiese en ander internasionale toekennings agter sy naam.”

Dit lyk asof Pieter verskillende vetplante op sy rug en lyf getatoeëer het. Waarom daardie spesifieke spesies?

“Die vetplante op sy rug is vygies. Pieter glo dat daar in die natuur ’n versteekte geometrie is, maar dat ons oë nie daarvoor oop is nie. Tog bestaan dit in alles om ons. Vygies is vir hom die mooiste voorbeeld daarvan, want hulle is perfek – elke vruggie in elke spesie is geometries volmaak. En hy het hierdie tatoes gekry om homself daaraan te herinner dat daar in die natuur iets groter as onsself is.

“Hy beplan ook ’n tatoe vir elke spesie wat hy ontdek. Tot dusver is daar nog net een, en dis die een waarvoor hy ook die wetenskaplike naam voorsien het. Maar in Pieter se eie woorde: “Die canvas is nog groot!”

“Een van sy nuwe tatoes wat hy gekry het tydens die verfilming, was vir die Internasionale Vryheid vir Natuur-toekenning wat hy ontvang het vir sy uitstekende poging om vetplante te beskerm. Pieter was een van slegs drie mense wat hierdie gesogte toekenning in 2023 gekry het.”

Vetplante word vir duisende dollars aanlyn aangebied en verkoop. Dink jy dié situasie kan beredder word?

“Daar sal baie moet gebeur om ’n impak te maak. Mense moet bewus word van die feit dat hul swartmark-plantjies ’n streek se ekologie verwoes. Bewusmaking, veral in die lande waar die plantjies trend, is ongelooflik belangrik. Hoe meer mense besef dat hulle ekosisteme verwoes wanneer hulle plantjies op die swartmark koop, hoe groter is ons kans om hierdie ding te beveg. Die groot uitdaging is egter wetgewing. In baie lande is dit nie onwettig om met gestroopte vetplantjies handel te dryf nie.”

Wat dryf dié stropery?

“Stropery kom al dekades lank aan, maar Covid-19 het ’n kolossale impak gehad op hoe stropery in Suid-Afrika plaasvind. Voor 2019 het mense van regoor die wêreld sélf kom stroop, maar die mark was toe nie so groot nie en het nie so baie aandag getrek nie. Met die inperking het die aanvraag ge-boom. Die stroping moes – en kon – na plaaslike mense ge-outsource word. En omdat die Noord-Kaap so ’n groot werkloosheidsprobleem het, was dit nie baie moeilik vir sindikate om plaaslike mense te kry om die plantjies vir hulle te stroop nie.”

“Ek hoop werklik so. Ek hoop ook dat dit mense gaan aanmoedig om meer navorsing oor die stropery te doen. En ook om vir organisasies soos Botsoc (Botanical Society of South Africa) – wat werklik ’n verskil kan maak – skenkings te gee. Wat eintlik great sal wees is as iemand kan help om behoorlike internet na die Richtersveld te bring sodat Pieter se kwekery aanlyn kan gaan.

“Daar is so baie dinge wat gedoen kan word. Die regte mense moet net hierdie film sien en aksie neem!”

Voordat jy die dokumentêr oor vetplante getakel het – was jy bewus van die miljoene dollar-sluikhandel in plante? Of was dit vir jou ’n groot skok?

“Ek het daarvan geweet omdat ons nou al so lank op die spoor van die storie is, maar ek dink nie ek het werklik besef hoeveel geld hande verruil nie. Daar was wél ’n groter skok: Deur met iemand soos Pieter tyd in die veld te spandeer, gaan jou oë oop vir die skade. Ook deur te sien hoeveel hy omgee en hoe hy sy lewe wy aan dié stryd teen plundery, kan jy nie help om ook om te gee nie.

“Die ergste vir my was toe ons na ’n spesifieke conophytum-spesie in die veld gaan soek het. Toe ons daar kom, was dit reeds gestroop. Daai besef dat daai plantjie nooit weer daar sal groei nie, was ’n baie hartseer oomblik vir die hele span.”


Koop kaartjies vir die 2025 Silwerskermfees vanaf op Quicket. Vanjaar se fees loop van 20 tot 23 Augustus.

Lees ook al ons stories oor die Silwerskermfees hier.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies