Menu terloops
In Silwerskermfees [6 Jul 2025]

‘Sewe’ takel huishoudelike geweld ‘sonder sensasie en met respek’


Waarom bly mense in verhoudings waarin hul menswaardigheid afgetakel word en die liefde lankal reeds by die deur uitgestap het? Dit is die vraag waarmee die aktrise Karlé Briedenhann worstel in die korfilm ‘Sewe’.

Deur Riëtte van der Wat
‘Sewe’ takel huishoudelike geweld ‘sonder sensasie en met respek’
Kyk lokprent

Met Sewe, wat by vanjaar se Silwerskermfees première, maak Karlé Briedenhan ook haar debuut as vervaardiger en draaiboekskrywer. Sy vertel meer oor Sewe:

Karlé, jy was die skrywer en vervaardiger van Sewe én speel die hoofrol van Michelle. Hoe het dit gebeur?

“Toneelspel is my eerste liefde, maar ek het besluit om nog so ’n paar vaardighede te ontwikkel en vir myself werk te skep. Daarom het ek in 2024 die toneelstuk Sewe vir die Suidoosterfees geskryf. Ná die fees is die konsep vir die Silwerskermfees aanvaar, maar die finale draaiboek is heeltemal anders as die toneelteks.

“Ek het die skryf-olifant happie vir happie geëet. Ná ons deur die voorleggingsproses gegaan en gehoor het ons teks is gekeur, was nie een van die vervaardigers wat ons genader het, beskikbaar nie. En toe is dit eintlik ook ’n seëning, want nou is ek volwaardig aktrise, vervaardiger én skrywer. Een teks het soveel deure oopgemaak.

“Ek moes ook nes almal anders ’n oudisie vir die rol van Michelle aflê.”

Hoe het jy kop gehou met die verskillende aspekte van die produksie waarby jy betrokke was?

“In een van ons eerste gesprekke het Wim Steyn van IdeaCandy vir my gesê ek moet eers my skrywershoed opsit, en dit dan afhaal om nét aktrise te wees. Mens kan nogal soos ’n vreeslike micro-manager klink, maar ek wil eintlik regtig net speel. En tog was dit ook ’n geskenk, want die skrywer in my het die vervaardiger gehelp. Toe die finale weergawe van die draaiboek klaar was, het ek dit met ’n rustige hart in ons regisseur, Ingrid Paulus, se hande geplaas en vir haar gesê: ‘Dis nou joune’.”

Vroue in sulke verhoudings is vasgekeer, en as jy so iemand veroordeel, kan jy nie ’n hand gee om te help nie.

Karlé Briedenhann

Sewe belig huishoudelike geweld. Waarom het jy juis hierdie tema aangepak?

“Ek het lank met die konsep rondgeloop en toe dit my nie los nie, het ek besluit om navorsing te doen en die draaiboek te skryf. Die eerste saadjie wat vir die storie geplant is, was toe ek die statistiek hoor dat dit gemiddeld sewe probeerslae verg voordat iemand wegstap uit ’n verhouding waarin hulle mishandel word.

“In my binnekring het mense bespiegel oor waarom iemand nie net haar man los nie, maar aanhou baklei vir haar huwelik. Mense oordeel maklik, maar situasies is meestal baie kompleks. Ek wou probeer verstaan wat die ‘hoekom’ is, en as aktrise het die karakterpad wat so iemand stap my ge-trigger.

Was dit uitdagende materiaal om mee te werk as skrywer en aktrise, maar ook as vrou?

“Een van die uitdagings was die feit dat ek glad nie Michelle se verwysingsraamwerk deel nie, want ek is baie gelukkig getroud. Ek het geweet die storie moet met respek en sonder sensasie vertel word, en ek moes ’n balans vind tussen sensitiwiteit en wat steeds vir kykers interessant sou wees.

” ’n Kliniese sielkundige het my gelei om betroubare bronne te vind sodat ek die magspel tussen die karakters kon verstaan. Die Michelle wat die verhouding aangeknoop het, is nié die Michelle wat op die ou einde die groot besluit moet neem nie.”

Ingrid Paulus is bekend vir haar rol in 7de Laan en deesdae as regisseur by Suidooster. Was dit lekker om saam met haar te werk?

“Ek vertrou haar ten volle, veral omdat sy in die eerste plek ’n aktrise is. Ek en Zak Hendrikz, my medevervaardiger, het iemand gesoek wat die werk sou verstaan. Ingrid het ook met my saamgestem dat ons nie ’n advertensieveldtog teen huishoudelike geweld wou maak nie, maar ’n storie moes vertel wat eg en eerbaar is, sodat ons ’n bietjie van ’n lig kan skyn op emosionele en verbale mishandeling, op gaslighting en op die misbruik wat in verhoudings plaasvind.”

Die kinematografie, beligting en klankbaan dra by tot die storievertelling, nie waar nie?

“Johannes Pieter Nel, die kinematograaf en hoofbeligtingstegnikus, asook Ingrid en almal wat deel van die projek was, het in alle opsigte saamgewerk om die storie op die bes moontlike manier te vertel. Wesley West se komposisies is nie liries nie, maar maak baie op klank staat om ’n gevoel te skep. Dít vang die emosie vas.”

“My sussie, Madri Muller, is ’n violis en ek het haar nadergehark om die vioolspel te doen. Dit was uitdagend vir haar om die krapperige, ‘lelike’ klanke te speel. Maar toe alles bymekaarkom, was dit magic.

Hoekom moet mense die fliek kyk?

“Want dis ongelukkig relevant – huishoudelike geweld gebeur elke dag. As aktrise word jy geleer jy kan jou karakter nie eerlik vertolk as jy haar veroordeel nie. En daarom het ek die storie veral geskryf vir mense buite sulke situasies, sodat hulle insig en empatie vir vroue soos Michelle kan kry.

“Vroue in sulke verhoudings is vasgekeer, en as jy so iemand veroordeel, kan jy nie ’n hand gee om te help nie. Ek wou lig werp oor wat agter die mure van iemand se huis aangaan en dit is ook hoekom ons gekies het om die storie in ’n gegoede huis te laat afspeel, met netjiese, spierwit meubels en Woolworths-kos in die yskas.”


Koop kaartjies vir die 2025 Silwerskermfees vanaf op Quicket. Vanjaar se fees loop van 20 tot 23 Augustus.

Lees ook al ons stories oor die Silwerskermfees hier.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies