Menu terloops
In Gons [22 Aug 2025]

Silwerskermfees 2025: Dís op dag 3 se program


Die Silwerskermfees se laaste dag begin met waarlik besonderse dokumentêr ‘Felix by die koppie’ en sluit af met Brett Michael Innes se stoutlekker-komedie, ‘Khaki Fever’.

Silwerskermfees 2025: Dís op dag 3 se program

Hoewel die glansryke kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV, asook bykomende vertonings van vanjaar se Silwerskermfees nog Saterdag plaasvind, word die premières van vanjaar se kykNET Silwerskermfees-program vandag afgesluit. Maar nie voordat die blou tapyt vir The Heart is a Muscle, wat sy wêreldpremière by die gesogte 75ste Berlynse rolprentfees gehad het, asook Brett Michael Innes se gewaagde komedieprent Khaki Fever, uitgerol word nie.

Moenie misloop

Terloops se topkeuse op vandag se Silwerskermfees-skedule is die kort dokumentêr Felix by die koppie.

Felix by die koppie, Silwerskermfees
Felix Dlangamandla in Felix by die koppie. Foto: Skermgreep

As jy die afgelope twee dekades ’n plaaslike koerant gelees het, het jy waarskynlik al van Felix Dlangamandla se foto’s gesien. As een van Suid-Afrika se voorste fotojoernaliste het hy byna elke groot nuusgebeurtenis gedek. Maar dit is sy ervaring van die Marikana-slagting wat die fokus is van regisseur en vervaardiger Xolani Nhlapo se aangrypende dokumentêr, Felix by die koppie. Hy het dié besonderse storie saam met sy mede-vervaardiger, joernalis Hancu Louw, geskep. “Vir my verteenwoordig Felix alles wat ’n fotojoernalis moet wees,” sê Xolani. “Daar is geen ego ter sprake nie, niks kortpaaie nie, net vasberadenheid, instink en siel. Hy duik elke keer kop eerste in ’n storie.”

Hier is ’n samevatting van wat nog vandag op feesgangers wag:

Dokumentêre

Die dag begin met die storie van ’n man en sy kamera wat die waarheid vir die wêreld sigbaar gemaak het, Felix by die koppie. Dié dokumentêr deur regisseur en vervaardiger Xolani Nhlapo en mede-vervaardiger, joernalis Hancu Louw, vertel oor die begaafde fotojoernalis Felix Dlangamandla, met die spil van die verhaal wat om Felix se ervaring en dekking van die Marikana-slagting draai. In Jan Bloed neem die vervaardigers, Gerrie Janse van Vuuren en Nicolaas Viljoen, weer vir kykers deur die strate van Westbury in Johannesburg om Alister Fortuin, óftewel Jan Bloed, se tyd as lid van die Fast Guns- en Varados-bendes te herleef.

Jan Bloed, kykNET, Silwerskermfees
Alister Fortuin, óftewel Jan Bloed, is die fokus van die dokkie, Jan Bloed. Foto: Verskaf

Kortfilm deur ’n gevestigde filmmaker en onafhanklike kortfilms

Die laaste groep kortfilms van die fees sluit Totsiens, Selina in, waarin regisseur Lourensa Eckard, tesame met die vervaardiger Wynette Theart, hulde bring aan ’n vrou wat ’n vormende invloed op haar lewe gehad het.

Totsiens Selina, Lorraine Burger, Silwerskermfees
Lorraine Burger in Totsiens, Selina. Foto: Skermgreep

Vanjaar is daar ook vier onafhanklike kortfilms wat by die fees gewys word, waarvan een ’n Oscar-benoemde is. The Last Ranger, ’n boeiende verhaal oor natuurbewaring en renosterstropery, het die kortlys vir vanjaar se Oscar-resies gehaal. Dié vertoning gaan gepaard met die dag se werkswinkel, Filmfeeste dwarsoor die wêreld, wat direk ná die vertoning volg en juis handel oor wat dit verg vir ’n plaaslike film om ’n indruk in die buiteland te maak.

Jordy Sank, wat onlangs groot sukses met sy debuut-speelfilm Die Kwiksilwers, behaal het, is terug by die fees met die diep ontroerende Amazeze wat handel oor ’n jong Zimbabwiese seun in ’n Suid-Afrikaanse township en hoe hy sy lewe daagliks waag om skoon drinkwater vir sy bedlêende jonger boetie te kry terwyl xenofobie hoogty vier. In die jong filmmaker Winford Collings se Melkbrood word die brose verhouding tussen ’n ma en dogter teen die agtergrond van die Karoo-landskap ondersoek. Die storieskepper Jozua Malherbe se kortfilm Engel is ’n skamele vier en ’n halwe minute lank. Dié eksperimentele kortprent het sy oorsprong in ’n gedig uit Malherbe se pen, en sy dogter Charlotte speel die hoofrol.

Werkswinkels, meesterklasse en besprekings

Buiten vandag se werkswinkel, is daar ook ’n bespreking, Plaaslike inhoud, internasionale belangstelling: Redes hoekom stories loop, oor suksesresepte vir inhoud wat weerklank vind oor internasionale grense heen. Die laaste meesterklas van die fees, Kort en kragtig: Die skep van ’n kortfilm, met die bekroonde filmmakers Gabriella Blumberg en Jordy Sank, ondersoek die kuns van kortfilmvervaardiging – van konsep tot die eindproduk.

Eksklusiewe TV-voorskoue

Feesgangers word ook vir oulaas op eksklusiewe voorskoue van splinternuwe TV- en stroomdiensreekse getrakteer. Môre se vertonings is ’n voorsmakie van die Showmax-realiteitsreeks Vaal Riviera, asook die Showmax-dramareeks, Ontwaak, met onder andere Cindy Swanepoel (Koek), Minke Marais (Reënboogrant) en Carel Nel (Niggies) in die rolverdeling.

Blou tapyt

Die eerste blou tapyt vir die dag is vir regisseur en skrywer Imran Hamdulay se debuutspeelfilm, The Heart is a Muscle, oor ’n jong pa (Keenan Arrison) wie se seun tydens ’n verjaarsdagviering vermis raak. Oor wat die hart in die verhaal verteenwoordig, sê Imran: “In families en gemeenskappe soos myne is daar wonde wat agtergelaat is deur geskiedenis, deur tyd, deur apartheid en deur oorgeërfde stilswye. Die liggaam is eintlik die mens se laaste oorblywende argief. Die hart, die kern van ons wese, dra alles wat ongesê bly: kwesbaarheid, oorgeërfde skaamte, dinge wat sonder woorde in ons ingeprent is.”

The Heart is a Muscle, Silwerskermfees
Keenan Arrison in The Heart is a Muscle. Foto: Verskaf

Die fees sluit af met Brett Michael Innes en Showmax se sexy komedie, Khaki Fever, met onder andere Francois Jacobs, Liam Bosman, Anja Taljaard, Trix Vivier, Christopher Jaftha (en sy spiere). “Hierdie is ’n Vrydagaand-film, ’n snaakse en sexy safari-ontsnapping saam met jou vriende ná ’n lang week,” sê Brett, wat die fliek saam met sy man, Nick Ahlers, geskryf het.

Khaki Fever
Liam Bosman en Francois Jacobs in Khaki Fever. Foto: Verskaf

Saterdag op die fees

Herhalings van die kortfilms, dokumentêre en speelfilms wat vanjaar op die kykNET Silwerskermfees première het, word deur die loop van die dag by The Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai vertoon. Die Silwerskermtoekennings vir Film en TV, waar die beste feesfilms saam met top-televisie vereer word, vind ook Saterdag by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) plaas. By hierdie geleentheid word filmfees- en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar (April 2024 tot Maart 2025) beloon met die gesogte Silwerskermbeeldjies. Wenners van die ander filmkategorieë, wat onder meer toekennings vir tegniese prestasie insluit, word Saterdagoggend tydens ’n geleentheid by The Bay-hotel aangekondig. Kaartjies vir die toekenningseremonie in Kaapstad is ook aan die publiek by Quicket beskikbaar.

Hoe en wanneer om die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV te kyk

Die toekenningsgeleentheid sal Sondag 24 Augustus om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees om te kyk.


Vir die volledige skedule, vertoningstye, lokale en kaartjies, besoek die Silwerskermfees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies