Menu terloops
In Silwerskermfees [30 Jun 2025]

Van bendelid tot pastoor: Silwerskermfees-dokkie ‘Jan Bloed’ vertel sonderlinge verhaal


Die vervaardigers van die dokumentêre prent ‘Jan Bloed’, Gerrie Janse van Vuuren en Nicolaas Viljoen, neem kykers deur die strate van Westbury in Johannesburg om Alister Fortuin se tyd as lid van die Fast Guns- en Varados-bendes te herleef.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Van bendelid tot pastoor: Silwerskermfees-dokkie ‘Jan Bloed’ vertel sonderlinge verhaal
Kyk lokprent

Ná 22 jaar agter tralies het die eks-bendeleier Jan Bloed ’n dieper verhouding met die Here ontwikkel en nou is dit sy missie om as pastoor die gemeenskap van Westbury uit die kloue van misdaad te help bevry.

Die vervaardigers Gerrie Janse van Vuuren en Nicolaas Viljoen vertel saam oor hoe hulle op die storie van Jan Bloed afgekom en uiteindelik in ’n dokkie, wat binnekort op die Silwerskermfees première, omskep het.

Kykers het al baie flieks en stories oor bendes in Suid-Afrika gesien, maar wat maak Jan Bloed anders? Hoekom was dit vir julle belangrik om hierdie storie te vertel?

“Die storie is baie persoonlik en fokus op een persoon se reis van bendeleier na pastoor. Dít is wat dit so anders maak. Dis nie net nog ’n storie van hoe erg en sleg die bendes is nie, dit is Alister se storie van hoe hy uit ’n baie donker plek gekom en geroepe gevoel het om as die “Moses van Westbury” sy storie te gebruik en só verandering teweeg te bring.

“Dis vir ons belangrik om dié storie te vertel, want ons kan dit gebruik om ’n verskil in ’n gemeenskap soos Westbury te maak.”

Daar word gewoonlik op die Kaapse Vlakte gefokus as bendestories vertel word. Hoekom het julle besluit om op bendes in Johannesburg, spesifiek Westbury, te fokus?

“Dis juis hoekom ons op dié gebied wou fokus – daar is al so baie gedoen oor die Kaapse Vlakte. Ons bly in Johannesburg en Westbury is reg om die draai van ons. Die plekke naby aan jou is waar ’n mens moet begin om ’n verskil te probeer maak.”

Alister, of Jan Bloed soos daar na hom verwys word, is baie eerlik oor sy vorige lewe en die misdrywe wat hy gepleeg het. Hoe moeilik was dit om hom te oorreed om teenoor julle oop te maak?

“Dit was meestal nie moeilik nie, maar daar was wel sekere tye wat hy kwesbaar oorgekom het. Dan wou hy nie op te veel besonderhede ingaan nie. Ons was natuurlik ook by tye verbaas oor wat hy vertel het en ’n mens besef dan eers hoe ver hierdie ouens sou gaan.”

Was dit ooit intimiderend vir julle om in die strate van Westbury te stap? Hoe het julle die verfilming daar benader?

“Ja, beslis! Ons het altyd sekuriteit by ons gehad en hulle was ook heeltyd bewus van wat in Westbury aangaan. As dinge gevaarlik gelyk het, het ons hele span dadelik onttrek of eenvoudig die verfilming herskeduleer. Ons was gelukkig dat ons daar kon skiet, omdat ons self in Johannesburg bly.”

Hoe het julle op Jan Bloed afgekom en hoekom het sy storie vir julle uitgestaan?

“Ons was besig met navorsing vir ’n ander projek en het in die Westbury-gebied begin rondbeweeg. Soos ons met een van ons kontakte oor die bendes in Westbury gesels het, het die storie van Jan Bloed opgekom. Die tydsberekening was ook fantasties, want ons polisiekontak het hom boonop in die straat raakgeloop en ons toe laat weet. Toe gaan drink ons ’n koffie saam, en soos hulle sê: The rest is history.”

Wat het julle die meeste tydens verfilming ontstel? En wat dink julle gaan kykers die meeste skok?

“Hoe maklik dit vir sommige van hierdie ouens in die bendes is om ’n lewe te neem. Hoe bloeddorstig hulle kan wees – veral die nuwe generasie.

“Kykers gaan geskok wees om te hoor hoe jonk van die ouens is as hulle vir die eerste keer by die bendes betrokke raak, soos Alister ook maar was.”


Koop kaartjies vir die 2025 Silwerskermfees vanaf op Quicket. Vanjaar se fees loop van 20 tot 23 Augustus.

Lees ook al ons stories oor die Silwerskermfees hier.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies