Die Silwerskermfees bring denkers, doeners, makers en towenaars oor generasies en provinsies heen saam in die naam van film,” sê Waldimar Pelser, die direkteur van M-Net se Premium-kanale. Vanjaar vind die fees van Woensdag tot Saterdag, 20 tot 23 Augustus, by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaas.
Vir reeds meer as ’n dekade word dié gewilde fees as een van die mees gerespekteerde ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf beskou. En sedert sy ontstaan bou kykNET al die pad daarop voort.
Waldimar beskryf baie van die stories wat op die fees vertoon gaan word as wordingsverhale. “Heelparty gaan oor die veranderinge wat binne mense plaasvind wanneer groot uitdagings hulle tref. Soms is dit die geskiedenis, soms ’n intiem persoonlike terugslag, of ’n lewensveranderende gewaarwording.”
In 2025 is daar sewe dokumentêre prente op die program teenoor verlede jaar se vyf. Onderwerpe wat in dié films gedek word, is uiteenlopend. Dit sluit in van die Marikana-slagting en die oorgang na demokrasie in 1994, tot die tragiese verdrinking van ’n bekende Springbok-rugbyspeler se babaseun. Laasgenoemde is verlede jaar as ’n konsep by die fees se Silwermark voorgelê. Die Silwermark bied gedurende die fees weer geleentheid vir filmmakers om konsepte in verskeie Afrikaanse inhoudskategorieë direk aan kykNET en Showmax voor te lê.
Vir nuwe stemme in die bedryf is die fees ’n gesogte platform om te leer en te groei. “Dit wys nie net die talente van ons gevestigde en bekende filmmakers vir die wêreld nie, maar gee ook die sterre van môre ’n kans om die oog te vang,” aldus Waldimar.
Verskeie meesterklasse, werkswinkels en paneelbesprekings tydens die Silwerskermfees gaan ’n nuwe generasie rolprentmakers met kennis en vaardighede toerus. Ervare mense in die bedryf gaan onderwerpe bespreek en deurtrap, soos die kuns van dokumentêre, die toekoms van die speelfilm, die voor- en nasorg in realiteitsvermaak, gehoorevolusie, ensomeer.
Die swierige Silwerskermtoekennings vir Film en TV, waar die beste feesfilms saam met top-televisie vereer word, vind op Saterdag 23 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) plaas. By hierdie geleentheid word filmfees-presteerders en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar (April 2024 tot Maart 2025) beloon.
Die blou tapyt word wyd en ver oopgerol en die publiek word by die fees verwelkom. Kaartjies sal vanaf 11 Julie 2025 op Quicket te koop wees. Die Silwerskermfeestoekennings word ook op Sondag 24 Augustus om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Waar om te kyk?
Ná afloop van die fees sal al die speelfilms hul pad na kykNET, en later ook Showmax, vind.
Alle kortfilms sal vanaf 7 September op Saterdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream uitgesaai word. Die kort dokumentêre sal vanaf 8 September om 20:00 op Sondae wys. Dit sal ook ná die uitsendings op Catch Up beskikbaar wees.
Wat om te kyk
Speelfilms
Vanuit die Cederberg se dieptes word Carissa, ’n jong vrou met stadswense in haar hart, uit haar ouma se huis weggejaag. Wanneer sy in haar vervreemde oupa se rooiboslande in die berge beland, verander haar lewe onherroeplik.
In Finding Optel is die 16-jarige amateur-speurder, Claire Abrahams, die een wat verlore goed in haar buurt opspoor. Wanneer Optel, die buurt se geliefde hond, verdwyn, is Claire vasbeslote om haar te vind. Die soektog krap egter ou wonde oop wanneer sy op leidrade afkom oor haar ouer broer, Jonah, se verdwyning nege jaar gelede. Deur ’n vreemde sameloop van omstandighede en danksy nuuskierige bure, begin Optel en Jonah se verdwynings ineenvleg. Claire se pa, John, is bekommerd dat sy haarself in gevaar stel, maar sy gaan vasberade voort. Sy onderneem ’n reis deur verdriet en hoop om Optel en die waarheid oor Jonah se verdwyning te vind.

My F*k, Marelize! vertel die verhaal van Heidi, ’n vrou met ’n sterk wil wat haar kanker vir haar familie wegsteek, en Marelize, haar ongeluksvoël-dogter wat moet leer hoe om fiets te ry sodat sy ’n au pair in Nederland kan word. Wat kan verkeerd gaan? Gegrond op ’n ware verhaal wat ’n nasie geïnspireer het.

Khaki Fever gaan oor ’n groep veldwagters op ’n privaat-wildplaas wat mekaar uitdaag om te sien wie gedurende die toerismeseisoen met die meeste besoekers seks kan hê. Die prys? Die titel as die “Koning van Khaki”, asook al die fooitjies wat die verloorders tydens die seisoen bymekaargemaak het. Die kinkel? Die konserwatiewe lodge-bestuurder moet in die duister gehou word, want dié het dit duidelik gemaak dat enigiemand wat met die gaste omgaan, onmiddellik afgedank sal word. Deur SAFTA-bekroonde regisseur, Brett Michael Innes.
The Heart is a Muscle handel oor ’n groep Kaapse vriende wat een naweek saam braai. Maar die geleentheid word ontwrig wanneer Ryan se seun vermis raak. Dit lei tot ’n reeks voorvalle wat stremming op Ryan se vriendskappe en sy huwelik plaas. Sy destruktiewe optrede terwyl hy desperaat na sy seun soek, lei tot nog meer argumente en onthullings van geheime uit die verlede. ’n Menslike drama oor genesing en vergifnis oor generasies heen.
Hen is ’n psigologiese gruwel wat afspeel op ’n afgeleë plaas waar ’n gesin die vure aan die brand moet hou teen die donker. Dit is ’n skerp besinning oor oorlewing in die middel van nêrens – en die fyn grens tussen lewe en dood.
Kortfilms: Gevestig
As jy oor moet begin, bring jy soms jou ou wêreld saam met jou. Soos in die geval van Ark. Hoe gemaak as ’n avontuur wat soveel eer en optimisme beloof het, ontaard in ’n angswekkende reis deur die sterre? Die Afrikaner-nasate van die toekoms móét eenvoudig oorleef, ongeag watter uitdagings op hulle wag. Met soveel verantwoordelikheid op hul skouers word daar gewonder: Sal Noa (Ben Albertyn) en Mira (Kristen Raath) hul eindbestemming veilig bereik? Is daar nog hoop vir ons?
Die Superette is ’n aksie-komedie wat teen ’n wilde tempo in ’n hoekkafee afspeel. Tannie Sonja (June van Merch) is die vlymskerp, plat-op-die-aarde kassier by die winkel, alomgeliefd vir haar hartlikheid en humorsin. Wanneer twee gemaskerde rowers, Bompie en Lange, inbars en geld eis, ontaard die situasie in ’n gyselaarsdrama. Maar Sonja bly koelkop en gebruik haar ratse verstand, humor en koppigheid om die rowers te ontwyk en haar klante tot aksie oor te haal. Die Superette is ’n wipwarit-komedie oor ’n gemeenskap wat reg en geregtigheid in eie hande wil neem… Maar niks verloop volgens plan nie.

Aksie kom na die Silwerskermfees in die gedaante van Hier. Wanneer oorlog uitbreek en elke land die wapen opneem vir hul voortbestaan, gaan tegnologie en onderduimsheid die verskil tussen lewe en dood bepaal. David Viviers en Anja Taljaard speel die hoofrolle. Die karakters in die prent se lewens oorvleuel met mekaar oor ses generasies heen. Hulle betree ’n wêreld waarin niks is soos wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Daar is iets van alles: romanse, wetenskapsfiksie, aksie, drama en iets bitter onheilspellend.
Totsiens, Selina vertel die verhaal van Selina, die vrou wie se vertroostende teenwoordigheid in die Swanepoel-huishouding vir jare as vanselfsprekend aanvaar is. Sy’s soos familie. Totdat sy raaiselagtig siek word. As die Swanepoels haar by haar eie huis gaan besoek, word hulle gekonfronteer met ’n wêreld wat hulle nie ken nie.
Tussen die kwashale handel oor die 11-jarige Tyron (Jihad Otto) wat sy kunssinnige ma, Anna (Monique Rockman) aan die dood afstaan. Tyron is outisties en hy vind troos deur te skilder. “Soek my tussen die kwashale,” het Anna vir hom gesê. Dié woorde spook by Tyron en lei hom na ’n wêreld waar herinneringe in kleur op die skilderdoek leef. By die huis is sy ma se afwesigheid soos ’n onvoltooide skildery. Sy pa, Greg (Khalil Kathrada) word deur verdriet verteer en maak die deur na Anna se ateljee toe. Hy verbied sy seun om daar in te gaan. Maar vir Tyrone is dit die laaste plek waar hy sy ma se teenwoordigheid nog kan voel. Elke kwashaal word vir hom ’n stille daad van hoop, weerstand en genesing. ’n Bewys dat liefde selfs in stilte en afwesigheid helder kan straal, ingeweef in die kleure van sy wêreld.
Kortfilms: Opkomend
Alma op pad verken die impak van besluite wat geneem word wanneer dinge skielik verander. Die 12-jarige Alma (Chrystal Conradie) se ma wil van die gesin se jare lange tradisionele vakansiebestemming wegbreek. Sy smag na iets anders, maar haar man is glad nie gelukkig met die idee nie. Sy bespreek ’n nuwe vakansieplek en op pad daarheen lê Alma die reis met haar videokamera vas. Wanneer dit blyk dat die nuwe bestemming nie geskik vir hul behoeftes is nie, vertel Alma ’n wit leuen waarby haar ma inval. ’n Reeks teleurstellings volg, en wanneer die spanning tussen haar ouers breekpunt bereik, moet Alma besluit wat om te behou en wat om te laat gaan. ’n Tere film oor grootword, onthou, ontkenning en die stille opofferings wat mense ter wille van die liefde maak.

In Bly woed ’n storm buite terwyl ’n bejaarde egpaar, vertolk deur Anton Dekker en Karin Retief, se plan om hul lyding te beëindig, ontrafel. Dis hul kleindogter, gespeel deur Liza du Plessis, wat per ongeluk die gif wat vir hulle bedoel is, inkry. Dit dwing almal om die hartverskeurende werklikhede van liefde en sterflikheid in die oë te kyk.
Die komedie-drama Kinnetafel se reklamereël sê dit alles: “Geheime aan tafel, messe in die rug.” Lucian Geland, die reënboogskaap van die familie, het uiteindelik sukses as skrywer behaal – sy eerste niefiksieboek is ’n onverwagse treffer. Die vangplek? Dit is ’n striemende vertel-alles-storie oor sy familie. Net Lucian se suster, Marion, weet daarvan. Die Geland-familie kom vir die eerste Kersfees saam sedert Pastoor Freddy, hul patriarg, se afsterwe. Hulle gee voor dat dit voor die wind met almal gaan. Maar onder die oppervlak broei daar geheime, ’n wrok en dan natuurlik ook die implikasies van Lucian se verdoemende boek. Soos die kos en wraak in gelyke mate opgedis word, swig die erfstuk-tafel (letterlik) onder die gewig van alles…
Min of meer is die storie van Jana wat begeer om ’n meermin te wees. Haar geliefde man Jakob maak haar droom ten alle koste moontlik. Jana kry ’n agent wat glo in haar meermin-fantasie en ’n nuwe begin vol belowende geleenthede ontvou. Dié nimlike meerman inspireer Jana om te volhard in ’n loopbaan as meermin. Maar hoe dieper sy in die droom versink, hoe nader kom sy aan haar eie ondergang. Haar eerste professionele optrede ontaard in ’n ramp wanneer sy die verlies van haar dogtertjie herleef. Jakob probeer sy vrou van die verdriet red. Nietemin bereik sy breekpunt en onthul ’n donker geheim wat skuil onder haar meermin-vin …

In Sewe is Michelle (Karlé Briedenhann) vasgevang in ’n verhouding wat al hoe meer manipulerend en gewelddadig word. Tog kan sy Francois (Viljé Maritz) “nie net los” nie. Statistiek dui daarop dat ’n vrou gemiddeld sewe keer probeer om uit só ’n gevaarlike verhouding te ontsnap. Maar Michelle word al hoe dieper ingetrek omdat sy bly glo dat Francois sal verander. Oplaas besoek hulle ’n sielkundige om aan hul verhouding te werk. Michelle word dan gedwing om die waarheid onder oë te sien wanneer die sielkundige vir haar vra: “Wat is jóú sewe?”
Kort dokumentêre
Felix by die koppie bied ’n persoonlike blik op die gebeure tydens die Marikana-slagting soos gesien deur die oë en lens van die bekende fotojoernalis, Felix Dlangamandla. Die spanning, trauma, geweld en verlies wat dikwels met fotojoernalistiek gepaardgaan, word ondersoek tydens intieme gesprekke wat met Felix gevoer word. Daarby bied die film ’n blik op die komplekse dryfvere wat hom noop om ’n “ooggetuie van die waarheid” te wees. Deur gesprekke met voormalige kollegas word Felix se kenmerkende aanslag tot fotografie – wat ’n sterk impak gemaak het op internasionale fotojoernalistiek en die kwessie van persvryheid hier plaaslik – belig.
“Wanneer jy ’n kind verloor, lewe jy in twee wêrelde, maar bestaan nie in een nie.” Tussen hemel en aarde handel oor die ondenkbare hartseer wat die Springbok-rugbyspeler Jannie du Plessis en sy vrou, Ronel, op 16 November 2021 beleef het: die verdrinking van hulle 10-maande oue babaseuntjie. Ná die tragedie beskou Ronel haar swembad as ’n heilige plek. Dis die laaste ruimte waar klein Jan-Nataniël lewendig was en waar sy steeds sy teenwoordigheid aanvoel. Haar plek tussen hemel en aarde. Ronel, Jannie en die Du Plessis-familie se kwesbaarheid en rouproses word in dié dokumentêr vasgevang. Daar word ook gekyk hoe verskillende mense verlies verwerk en hoe ’n enkele dag ’n lewe onherroeplik kan verander.
Verander volg die emosionele en politieke reis van Lourens Jacobs, voormalige sekuriteitshoof van president Nelson Mandela. Dit werp lig op wie Lourens was voor Suid-Afrika se oorgang na demokrasie in 1994. Dit ondersoek ook sy rol in ’n tyd van politieke spanning en verdeeldheid. Ná die verkiesing word Lourens gekonfronteer met die uitdagende opdrag om Mandela te beskerm – ’n man wat deur die vorige regering as ’n “vyand” beskou is. Die film delf in die komplekse, dikwels teenstrydige waarhede van Lourens se ervaring, asook sy lewe ná sy vertrek uit die presidensie. Aan die hart van die verhaal lê die verhouding tussen Lourens en sy seun, Luan, gekenmerk deur lojaliteit, botsings en uiteindelike versoening.
GHAM! Ons het lyn is ’n intieme kykie na die wêreld van Die Temple Boys van Ravensmead, wie se virale Afrikaanse Gqom-genre die moontlikheid ingehou het om hulle uit die Kaapse Vlakte te laat styg. Drie jaar ná hul TikTok-roem worstel die groep egter met drome wat vervaag het, hul identiteit en volwassenheid. Die dokumentêr vang hul veerkragtigheid, humor en ondernemingsgees vas terwyl hulle veg om hul droom lewendig te hou. Intiem en rou.
Jan Bloed is ’n kort dokumentêre rolprent oor ’n voormalige bendelid van Westerbury. Sy regte naam is Alister Fortuin, maar as Jan Bloed was hy eens ’n lid van die Fast Guns, en die Varados-bende. Alister deel sy lewensverhaal en vertel meer oor sy kinderdae, sy familie en die bendelewe. Hy voel geroepe om ’n pastoor te word, en op parool maak hy dit sy missie om die jonger generasie te wys dat daar ’n beter pad is as dié van bendes en geweld. Kom stap saam met Alister deur Westbury en die areas wat ’n blywende impak op sy lewe gehad het. Daardie plekke waar hy as die berugte Jan Bloed bekend gestaan het.

Bliksems in Bothaville handel oor die lewe van die rofstoeier Roger Wilters. Met sy persoonlike lewe gaan dit droewig en die huis wat eens vol gesinslede was, is nou stil. Dit was in die kryt waar Roger homself kon uitleef en vergeet van sy probleme. Totdat die enigste rofstoeiklub in Bothaville toegemaak het. Hy het egter besluit om sy volksvreemde droom te laat voortleef. Terwyl Roger ’n rofstoeigeveg probeer reël, moet hy ook sy verantwoordelikheid as pa in die gesig staar. Hy is vasbeslote om weer sy voete te vind en sy rofstoei-droom waar te maak. Die vraag is egter: Sal die res van Bothaville se inwoners inkoop in sy droom?

Vet vannie land is ’n kort dokumentêr wat die briljante botanis, Pieter van Wyk, se spoor volg soos hy poog om ons land se uniekste ekosisteem teen ineenstorting te beskerm. In die afgeleë, geharde landskappe van die Richtersveld en Sukkulente Karoo woed ’n stryd teen tyd en georganiseerde misdaad. Suid-Afrika se unieke vetplante word tot uitsterwing geplunder, gesmokkel na die Ooste, en aanlyn verkoop aan ’n mark gedryf deur sosiale media. Terwyl die internasionale sindikate biljoene dollar in die sak steek, word die plaaslike inwoners ’n appel en ’n ei betaal om hul lewens op die spel te plaas. Die wêreld van onwettige vetplanthandel word saam met toegewyde natuurbewaarders en opgeleide speurhonde blootgelê. En ja, steeds ontvou daar ’n storie van veerkragtigheid en hoop.

Onafhanklike kortfilms
Amazeze (Fleas) handel oor Tonderai, ’n Zimbabwiese seun wat iewers in Suid-Afrika in ’n township bly. Hy leef in vrees oor die dag wat sy ma na die huis gaan terugkeer, want daar is ’n groep xenofobiese belhamels wat die strate snags terroriseer. Hy pas ook sy uiters siek boetie op. Daar is geen lopende water in hul sinkhuis nie en Tonderai skarrel in die donker op soek na drinkwater terwyl hy uit die pad probeer bly van bure wat buitelanders teiken.
The Last Ranger vertel die storie van Litha, ’n jong meisie wat deur die laaste oorblywende veldwagter aan die betowering van ’n wildtuin voorgestel word. In die winter van 2020, toe Suid-Afrika aan streng Covid-inperkings onderwerp was en toeriste verhoed is om die land binne te kom, word hulle deur stropers in ’n lokval gelei. In hul daaropvolgende stryd om die renosters te beskerm, ontdek Litha ’n diepgesetelde geheim.

In Melkbrood gee Em vir haar ma ’n koevert. Maar in plaas daarvan om die inhoud van die brief aan te spreek, stuur Ma die gesprek in ’n ander rigting. Sy wens dat Em permanent terug huis toe sal kom en die familie-kafee oorneem. Em weier, en om weg van die ongemaklike onderwerp te stuur, dra Ma ’n gedig oor swerwende siele voor. Verskeurd tussen toegee en haar standpunt behou, stel Em vir haarself twee moontlike paaie voor. Albei is gekenmerk deur die swaar emosionele las as gevolg van hul gespanne verhouding.
Engel is ’n kortfilm oor onverwagse liefde en die nagevolge daarvan, met Arnold Vosloo en Charlotte Malherbe in die rolverdeling.
Vir die volledige Silwerskermfeesprogram, besoek die fees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za.