Menu terloops
In Wat om te kyk [16 Sep 2024]

Jy kan dié nuwe Silwerskermfees-kortfilms vandeesweek kyk


Vanjaar is 14 kortfilms en vier dokumentêre kortes vir die Silwerskermfees geskep. Die derde sarsie stories uit dié kreatiewe oes word hierdie Saterdagaand, 21 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Jy kan dié nuwe Silwerskermfees-kortfilms vandeesweek kyk

Hierdie Saterdag, 21 September 2024, om 20:00 word die volgende Silwerskermfees-kortfilms op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai: Liminale, Deuntjie, In Die Verloop Van, Die Boodskapper en O! Griet, Sy’s droog.

Liminale

  • Benoem vir 2024 Silwerskermtoekennings vir beste redigering in ’n kortfilm en beste shotgun-kortfilm

Die filmmaker Hanneke Schutte se sielkundige riller Liminale, het oorspronklik as ’n vollengte speelfilm begin, maar meen om dit in ’n kortfilm vir vanjaar se Silwerskermfees te omskep was ’n kreatiewe oefening wat haar gedwing het om uit haar gemaksone te tree.

Inge Beckmann vertolk die rol van Mia, ’n depressiewe vrou wat deur ontstellende herinneringe geteister word. Mia ondergaan dan baanbrekende nuwe terapie in ’n futuristiese sielkundige inrigting, in die hoop om uiteindelik haar trauma te verwerk. Maar terwyl sy dié surrealistiese liminale ruimte van die terapie verken, ontdek sy die verrassende oorsprong daarvan. Sy moet dan die krag vind om haar eie demone te konfronteer en vergifnis te soek.

Volgens Hanneke het sy oorspronklik beplan om die film in ’n verlate hotel in Johannesburg te skiet.

“Ek het van die begin af geweet dat dit ’n futuristiese tegnologie gaan wees wat jou in hierdie liminale wêreld dompel en dat dit in ’n tydperk van die nabye toekoms gaan afspeel. (Die hotel) sou ’n geskikte atmosfeer bied vir die gevoel van verlatenheid en isolasie, kenmerkend van liminale ruimtes… Maar toe ons die geleentheid kry om die film op ’n LED-volume te maak, het dit ’n heel nuwe wêreld van moontlikhede openbaar.”

Lees Hanneke se volledige onderhoud met Herman Eloff.

Deuntjie

Daar is geen keer aan Adri Britz se entoesiasme rondom die kreatiewe wêreld waarin sy haar bevind nie – daarvan getuig haar musikale komedie, Deuntjie, wat vanjaar by die Silwerskermfees bekend gestel is.

Adri, onder meer bekend vir haar werk as regisseur op Dina Dagbreek en Ink, se Deuntjie is die Silwerskermfees se heel eerste musikale komedie. Deuntjie bring daai klein stemmetjie wat ons almal in ons kop het, onder die loep. In die geval van Deuntjie (Anja Taljaard), ’n skaam, pligsgetroue meisie, heet daai stemmetjie Vera (Daneel van der Walt), ’n groot diva met twee flambojante backing vocals, Moses en Jacob. Hulle sing en smokkel met arme Deuntjie se kop. Alles begin handuit ruk as Deuntjie nie meer kan onderskei tussen realiteit en die stemme in haar kop nie.

Adri som die kortfilm se kernboodskap só op: “Vir my gaan dit daaroor dat jy jou eie stem en eiewaarde deur komedie en musiek vind. Dit is ’n genre wat oor verskeie fasette beskik en baie films bied deesdae ruimte vir al daardie fasette.”

Lees ons volledige onderhoud met Adri oor die prent.

In Die Verloop Van

Die storie van In Die Verloop Van het ontstaan toe die filmmakers Emma Kotze en Philip Rademeyer oor verlies – en die alledaagsheid daarvan – begin gesels het.

In die verloop van
Emma Kotze vertolk ook een van die hoofrolle teenoor Wilhelm van der Walt. Foto: Verskaf

Ná ’n moeilike aand word Jana (Kotze) en Chris (Wilhelm van der Walt) wakker; elkeen vasgevang in hul eie gedagtes. Iets swaar en onuitgesproke lê tussen hulle. Soos hulle deur hul oggendroetine gaan, word die vorige aand se gebeure geleidelik onthul.

Emma en Philip het saam die storie en konsep ontwikkel en Philip het die draaiboek geskryf. Hy was ook verantwoordelik vir die regie van dié intieme blik op hoe die lewe, te midde van tragedie, pyn én vreugde onverpoos voortgaan.

Lees Riëtte van der Wat se onderhoud met die skeppersduo.

Die boodskapper

’n Klein seuntjie se trane maak ’n kleimannetjie lewendig in Paul Crafford se kortfliek ‘Die boodskapper’ wat deel is van vanjaar se Silwerskermfees se Shotgun Shorts-afdeling vir gevestigde filmmakers.

In Die boodskapper word stop-animasietegnieke en tradisionele rolprentmaak gekombineer om binne slegs twaalf minute ’n storie te vertel van ’n seuntjie, Jake (Liam Kruger), wat vasgevang is in die bittere konflik tussen sy ouers, Susan (Izaan du Toit) en Frank (Emile Hager).

“My fliek is net twaalf minute lank en wat ek agtergekom het, is dat jy regtig net ’n oomblik het om iemand se hart te steel. Dit is die grootste uitdaging van só ’n tipe fliek: hoe om iemand baie vinnig iets te laat voel,” het die skrywer en regisseur, Paul Crafford, ’n veelsydige inhoudsontwikkelaar, aan Riëtte van der Wat oor die fliek vertel.

Lees Riëtte se volledige onderhoud met Paul.

O, Griet! Sy’s droog

In O, Griet! Sy’s droog trek die akteurs Char Carrie van Suidooster-faam, Karin van der Laag, Letolo Sekano en Ronel Stander kykers saam met hulle in ’n ander dimensie in.

Char Carrie in O Griet sy's droog, Silwerskermfees
Char Carrie. Foto: Verskaf

In die kortfilm O, Griet! Sy’s droog is die karakters in geraamde skilderye vasgevang en beeld só verskillende weergawes van die samelewing se idees oor vroue uit. Om uit dié rame te ontsnap lyk onmoontlik … Totdat ’n meisie met ’n pêreloorbel nuwe lig op hul situasie werp.

Volgens die regisseurs, Zandélle Meyer en Anje Barkhuizen, was “die film aanvanklik ’n tien-minute lange teaterstuk wat ons in ons finale jaar in drama by Stellenbosch Universiteit geskryf het.”

En die res?

Al die ander kortprente wat vanjaar by die Silwerskermfees debuteer het, is tans op Catch Up beskikbaar. Die vier dokkies wat by die fees première het, saai Saterdag, 28 September 2024, om 20:00 op kykNET uit. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees:

  • Maak stil die geblaf
  • Tussen die draad en die dropper
  • Vergeet van my
  • By die soutwater

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies