Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (16 tot 20 Junie) in Skemergrond, Binnelanders en Suidooster kan uitsien.
Suidooster
Kaashifa (Jawaahier Petersen) se onverwagse besoek aan Ruiterbosch het die Samsodiens en Oos-Wes op hol. Rhafiek (Irshaad Ally) se gesig was priceless toe hy verlede week vir Kaashifa in JPD sien. Ek was netso verbaas voor my TV, maar ek het geweet hier kom fireworks. Hulle het mos albei sterk persoonlikhede wat wonderlik is wanneer hulle verlief is, maar ’n nagmerrie wanneer hulle nie langs dieselfde vuur sit nie. Dié week sien mens ’n bietjie van dáái hardegat maniere wanneer dié twee weer hul voete in dieselfde dorp moet vind. Daar is ’n hele paar ongemaklik oomblikke, maar tog kan jy nie wegkyk nie. Kaashifa wys hoekom ons haar toneelspel gemis het, maar ek dink sy gaan ’n paar kykers se bloeddruk opstoot.
Maar dit is nie eens die grootste oomblik van die week nie! Dinge gaan te ver tussen twee sibbe in Ruiterbosch en hierdie keer speel hulle nie net met vuur nie, hulle speel met lewe en dood. Praat van ’n cliffhanger!
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
Terwyl Delia (Odelle de Wet) die malhuis, wat Binneland tans is, vermy, probeer Conrad (Hykie Berg) die stukke optel en die skip aan die gang hou ná die hacker-situasie. Hulle is nog nie heeltemal uit gevaar nie en dit is hoekom hy nie vir Amor (Laura-Lee Mostert) vertrou nie. Amor probeer steeds vir almal oortuig dat sy slegs hul gebede vir Binneland beantwoord, maar sy onderskat hierdie groepie. Hulle is glad nie so dom soos wat sy dink nie. Maar wie weet, daar is tans meer as een geheim in die gange van Binneland, so dalk kry sy dit tog reg om haar leuens weg te steek.
’n Ou gesig bring ’n groot nuwe en geheime operasie Binneland toe en almal is opgewonde om hierdie fan favourite weer te sien – al is dit onder sulke intens omstandighede. Nicolette (Kate Roothman) word natuurlik daarby ingetrek, so sy kan haarself mos maar net nie help nie. Ongelukkig gaan dinge weereens nie soos sy gehoop het nie en sy beland weer in die kruisvuur. Gelukkig daag daar hierdie week ’n nuwe hunk op en dit lyk asof sy dalk vertroosting in sy arms gaan vind.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Skemergrond
Luister, tissues is duur en hierdie week gaan julle net te veel gebruik om deur Skemergrond te kom. As jy al ooit vir Bridgerton gekyk het, weet jy dat van die mooiste tonele onder of naby ’n boom plaasvind. Nou lyk my Skemergrond het ’n bladsy uit Shonda Rhimes se boek geskeur want toe hulle dáái toneel onder die boom wys, kon ek die trane nie terug hou nie. Doppies se woorde het my tot diep in my hart getref. Nee, kyk, wat tans gebeur is nie ’n grap nie, maar die akteurs in Skemergrond is briljant. Kykers beter gereed maak vir ’n tranedal!
Dit gaan ’n rowwe paar weke wees soos wat die eerste seisoen na die einde se kant toe beweeg. Die skrywers bring al hul beste wapens nou uit.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.










