Hier is waarna jy hierdie week (10 tot 14 Maart) op Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Skemergrond
Dit is game on op Everlasting en nou is al die druk op Ruan (Dann-Jaques Mouton) om sy dorp se mense uit die kloue van Beeno (Duncan Johnson) en sy bendelede te red. Kry die popcorn vir die aksie en sommer ’n ietsie vir die senuwees, want jy niks wil mis nie. Kykers wag al hoe lank dat iemand vir Beeno vasvat vir wat hy aan arme Gloria Meyer (Hunter Plaatjies) doen. Ek het gedink Gloria sal onder die druk knak, maar ek dink haar reaksie gaan kykers verbaas. Wie my regtig onkant gevang het, is Kevin (Gershwin Mias)! Julle gaan nie glo wat hy aanvang nie… ek weet ons almal verwag baie beter van hom. Ek het voor my TV gesit en gil asof Kevin my kan hoor. Kyk, die spul wat dié week vir Everlasting besoek, laat Christine (Devonecia Swartz) soos ’n engel lyk.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Diepe Waters
Met die Zelda-bom (Sandi Schultz) wat verlede week gebars het, het ek gedink die Swarts-familie sou hul hande vol hê en op niks anders kan konsentreer nie. Ek was verkeerd! Die hele familie het hul eie vure om te blus, maar Karla (Daniélle Swanepoel) se brand is heeltemal buite beheer. Sy het dié week twee dates en albei het haar onkant gevang! Karla kom uiteindelik tot ’n besluit oor haar ongemaklike love triangle en ek moet sê ek is nogal teleurgesteld in haar keuse. Ek sal altyd vir die underdog stem, maar hierdie keer dink ek nie dit is die underdog wat gewen het nie… As iemand vir my so van my voete af geslaan het, sou ek nie so maklik kon nee sê nie! Dit was enige meisie se droom-date, iets uit ’n 90’s romcom. Die lewe is maar soms rof jong, en die ongemaklikheid in hierdie liefdesdriehoek begin nou eers!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Gary (Craig Adriaanse) ontdek iets wat ekstra druk op hom en Justin (Eden Classens) se nuwe besigheid plaas. Mense sê dinge gebeur mos in drieë en as ek kyk na Justin en Gary se gesukkel met hierdie app kyk, sou ek dit as ’n teken neem dat dit nou glad nie meant to be is nie. Maar nie dié twee nie! Toe die lewe nog ’n kinkel in hul planne veroorsaak het, het hulle nogal ’n slim plan uitgedink. Die enigste probleem is, ek dink nie Kate (Annelisa Weiland) is so opgemaak soos hulle nie. Ek sou presies soos Kate gereageer het, maar have a heart – teen minste probeer hulle ’n besigheid op die been bring. Hulle party nie net hul lewe weg nie. Maar iets sê vir my Ruiterbosch se nuwe inwoner gaan Justin se kop heeltemal deurmekaar maak. Gary beter gebruik maak van die laaste bietjie wat hy uit Justin kan kry, want dit gaan nie lank hou nie tjomma!
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
Desiré du Toit of Imke de Lange, wat ook al haar naam nou eintlik is, was die hoogtepunt van my week. Anré Bouguenon vertolk hierdie rol uitstekend en ek love dit mos as Conrad (Hykie Berg) so opgewerk en obsessief oor iets raak. Binneland se eie Sherlock Holmes is weer aan diens en al wat Conrad nou nog nodig het is ’n snor. Hy ontdek ’n belangrike stukkie inligting en van ’n baie interessante partner in crime! Dít verander alles, maar of hy vir Delia (Odelle De Wet) gaan oortuig, weet ek self nog nie. Ek haat dit wanneer Delia, wat so slim is, so naïef optree. Imke is so uitgeslape, sy doen self iets wat haar hele plan kan laat flop, maar daar is net soveel wat mens seker in daai mansion kan doen voordat jy verveeld raak.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.