Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [31 Jan 2026]

‘Sê jou sê’ is terug: Geen onderwerp is taboe op dié program nie


Die tonge gaan weer binnekort klap wanneer die sesde seisoen van ‘Sê jou sê’ op Sondag 2 Februarie begin. 

Deur Redaksie
‘Sê jou sê’ is terug: Geen onderwerp is taboe op dié program nie

Dié gewilde geselsprogram Sê jou sê gaan nogmaals die kollig laat val op gewone mense se uitdagings, hartseer verhale en omstrede onderwerpe. 

Dis weer die ervare aanbieder Aden Thomas wat kykers uitnooi om saam te luister, saam te dink en saam te praat oor kwessies wat Suid-Afrikaners werklik raak. In ’n wêreld waar sosiale media vinnig meedoënloos veroordeel, bly Sê jou sê een van die min platforms vir oop en eerlike gesprek met wedersydse respek. 

In die nuwe seisoen word daar nie geskroom om diep – en soms ook ongemaklike – temas aan te roer nie.

Wat kan kykers verwag? 

Seisoen 6 skop af met ’n alledaagse vraag: Is naming and shaming op sosiale media geregverdig of gevaarlik? Aden en sy gaste ondersoek die fyn lyn tussen mense verantwoordbaar hou en hulle in die openbaar verneder. 

Die nuwe seisoen gee, onder andere, ’n stem aan ouers van outistiese kinders wat voel hulle staan alleen en ontvang bitter min leiding en ondersteuning. Boelies in die werkplek, wat dikwels onsigbaar is, maar met hul gedrag verwoesting saai, word in een van die episodes ontbloot. Slagoffers vertel hoe dit hul selfbeeld en loopbane beïnvloed het.

Aden Thomas, Sê jou sê
In die nuwe seisoen van Sê jou sê word daar nie geskroom om diep – en soms ook ongemaklike – temas aan te roer nie. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

’n Besonder aangrypende episode fokus op haweloosheid. Mense vertel hul eie lewensverhale – stories van verlies, oorlewing en menswaardigheid. 

Die toenemende vrees rondom roof-en-gryp (smash and grab-voorvalle) en kapings kom ook onder die soeklig, en gaste deel hul traumatiese ervarings met kykers.

Daar is ook ’n episode oor geslagsgebaseerde geweld, met spesifieke fokus op seksuele aanranding. Ander moeilike onderwerpe, soos selfdood en depressie, word ook bespreek. 

Alledaagse dog hoogs emosionele kwessies, waaronder skoolfooie en beheerliggame tel, asook die groeiende probleem van aanlyn bedrog is nog gesprekke waarby kykers baat sal vind. Bedrogslagoffers se stories dien as waarskuwings én nuttige riglyne.

In elkeen van die episodes word daar nie net geluister nie, maar ook praktiese raad gedeel oor hoe om probleme raak te sien en ondersteuning te bied.

Vir Aden Thomas bly die kern van Sê jou sê onveranderd: “Soms hoef jy nie oplossings te hê nie – jy moet net luister. Wanneer mense voel hulle word gehoor, begin genesing.”


Sê jou sê begin Sondag 2 Februarie om 19:00 op kykNET&kie en DStv Stream (DStv-kanaal 145) en sal ook op  Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers maak haar merk 

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer
Sien alle opsies