Daar’s die puriste wat sou sê dat ’n rolprent nie ’n rolprent is as dit nie op die kringloop draai nie, maar oor die afgelope paar jaar het stromingsdienste soos Netflix gewys dat hul rolprente vir geen een van die tradisionele vervaardigers en verspreiders hoef terug te staan nie – nie wat storie- of algehele gehalte betref nie.
Dis natuurlik goeie nuus vir verbruikers, want, hoewel dit steeds ’n toweragtige ervaring is om die ontvouing van ’n storie op die grootskerm te aanskou, is dit bloot te duur vir die deursneë-kyker (in welke land om die wêreld) om dit ’n gewoonte-uitstappie te maak. Die kombinasie van bekostigbaarheid, toeganklikheid en gerief is deels hoekom iemand deesdae sal vra, “Is dit op Netflix?” as jy van ’n nuwe fliek praat, plaas van om uit te vind by watter teater jy dit gesien het. Dis nou maar so – en dis nie ’n slegte ding nie. Trouens, nie net word meer stories ontwikkel nie, maar die stemme van storievertellers – en die stories self – diversifiseer, tesame met verbeterde toeganklikheid wat kuns op dié vlak demokratiseer.
Train Dreams en Frankenstein is byvoorbeeld vanjaar se Netflix se bydrae tot die Oscar-resies en volg op flieks soos Maestro (2024), The Power of the Dog (2022), en Marriage Story (2020).
Dan is daar Apple TV se F1: The Movie (onder die vaandel van Apple Original Films), wat eers ’n speelvlak op die grootskerm geniet het voordat dit op dié platform beskikbaar gestel is. Nog ’n noemenswaardige Apple-fliek was die 2022 Oscar-wenner vir beste rolprent, CODA.
Prime Video het ’n baie lang lys van oorspronklike flieks – hulle belê ’n aansienlike bedrag geld in die ontwikkeling van nie-Engelse flieks – maar veral Jake Gyllenhaal se Road House, Red, White and Royal Blue, en die My Fault-trilogie, het kykers die wêreld oor gelok.
So, wat lê hierdie jaar op stromingsdienste voor wat die vrystelling van oorspronklike rolprente betref?
Kyk uit vir dié rolprente:
People We Meet on Vacation
Vanaf 9 Januarie op Netflix.
Die friends-to-lovers-trope kry gestalte in dié romantiese komedie waarin langafstand-vriende Poppy (Emily Bader) en Alex (Tom Blyth) hul vriendskap met jaarlikse vakansies voed. Dis geheel en al platonies – en toe nie…
The Rip
Vanaf 16 Januarie op Netflix.
Matt Damon en Ben Affleck span weer kragte saam in die misdaadriller The Rip. Die storie speel in Miami af met Damon en Affleck as veteraanspeurders wat al jare lank saamwerk. Wanneer hul span tydens ’n klopjag op ’n reuse-bedrag geld afkom, word hul vennootskap egter tot die uiterste beproef soos etiese grense vervaag, wantroue onder die spanlede broei, en jare lange lojaliteite verinneweer.
Eternity
Vanaf 13 Februarie 2026 op Apple TV.
In ’n hiernamaals waar siele een week het om te besluit waar hulle ’n ewigheid wil spandeer, word Joan (Elizabeth Olsen) met ’n onmoontlike keuse gekonfronteer. Gaan sy ’n ewigheid kies met die man met wie sy haar lewe spandeer het (Miles Teller), of met haar eerste liefde (Callum Turner) wat jonk dood is en dekades lank al wag vir haar?
Man on the Run
Vanaf 27 Februarie 2026 op Prime Video.
Dié dokumentêre fliek neem kykers op ’n intieme reis deur Paul McCartney se buitengewone lewe ná die ontrafeling van The Beatles. Die bekroonde regisseur Morgan Neville, bekend vir sy dokumentêre speelfilms oor groot musiekfigure soos The Beach Boys se Brian Williams, Rolling Stones se Keith Richards en Johnny Cash, neem die leisels. Die vertelling vat dié uitdagende era in Paul se lewe en musiekloopbaan met ’n unieke lens vas soos daar deur voorheen ongesiene beeldmateriaal en besonderse argiefmateriaal gedelf word.
Peaky Blinders: The Immortal Man
Beperkte kringloop-vrystelling (plaaslike kringloopdatum nog onbekend), en op Netflix vanaf 20 Maart 2026.
Cillian Murphy, wat ’n Oscar vir sy vertolking in Oppenheimer gewen het, klim weer in die skoene van die ikoniese karakter Tommy Shelby. Murphy het dié rol in die Bafta-bekroonde reeks, Peaky Blinders, vanaf 2013 tot 2022, gespeel. Dié grootskerm-vertelling vervang wat ’n sewende seisoen van die kultusreeks sou gewees het en bring al die storiedrade bymekaar wanneer Tommy in 1940, midde die chaos van die Tweede Wêreldoorlog, na die strate van Birmingham terugkeer. Vir sy familie om te oorleef moet Tommy sy eie demone oorwin en besluit of hy sy nalatenskap gaan omarm of finaal vernietig… Ook in die rolverdeling is die Golden Globe-wenner Stephen Graham, en die Oscar-benoemde akteurs Tim Roth en Barry Keoghan.
Crime 101
Plaaslike kringloopvrystelling 20 Februarie 2026, later vanjaar op Prime Video beskikbaar.
Amazon het vir Netflix uitgestof in die stryd om die fliekregte vir die gelyknamige kortverhaal deur Don Winslow te bekom. Crime 101, geregisseer deur Bart Layton, spog met ’n uithaal-en-wys-rolverdeling met onder andere Chris Hemsworth, Mark Ruffalo, Barry Keoghan, Halle Berry, Monica Barbaro en Jennifer Jason Leigh. Die storie draai om ’n juweeldief (Chris Hemsworth) wie se teikens die polisie hande in die hare het. Dis nou totdat sy paaie en planne met dié van ’n versekeringsagent (Halle Berry) kruis en met ’n vasberade speurder (Mark Ruffalo) op sy spoor…
Apex
Vanaf 24 April 2026 op Netflix.
Charlize Theron maak met dié prent die mantel as dié aksie-vrou in rolprente nog ’n bietjie stywer om haar skouers vas. Ná flieks soos Mad Max: Fury Road, The Old Guard 1 & 2, en Atomic Blonde, bult onse Charlize ook in Apex haar spiere as ’n rotsklimmer wat moet veg om oorlewing as ’n man (Taron Egerton) op haar – in die Australiese wildernis – jag maak.
Jip, kies maar die beer. Kies altyd die beer… #iykyk
Enola Holmes 3

Na verwagting voor middel-2026 op Netflix beskikbaar.
Soos voorheen is die derde uittog in die Enola Holmes-flieks ook op Nancy Springer se The Enola Holmes Mysteries-boekreeks gegrond. Millie Bobby Brown keer terug in die titelrol met die storie wat in Malta afspeel. Maar dié keer is daar meer op die spel en die raaisels veel meer gevaarlik as vantevore… Sal broer Sherlock (Henry Cavill) moet kom help? Louis Partridge is weer te sien as Tewkesbury, Enola’s se beminde, asook Helena Bonham Carter as Eudoria Holmes, Sherlock en Enola se ma.
Narnia: The Magician’s Nephew
Beperkte kringloopvrystelling (plaaslike datum nog onbekend), en vanaf 25 Desember 2026 op Netflix beskikbaar.
Narnia: The Magician’s Nephew sal na verwagting ’n beperkte silwerdoekvrystelling hê – minstens in die VSA – voordat dit op 25 Desember 2026 op Netflix vrygestel word. Dié fantasiefliek is geskryf en geregisseer deur Barbie se Greta Gerwig en gegrond op die 1955-roman The Magician’s Nephew, die sesde roman in C.S. Lewis se kinderboekreeks The Chronicles of Narnia, en ook chronologies die eerste storie in dié reeks. Dié fliek is ’n herverbeelding van die geliefde verhaal en volg op die fliektrilogie wat tussen 2005 en 2010 onder die vaandel van Walden Media verskyn het. Sedertdien het Netflix die fliekregte bekom.
Masterplan
Na verwagting laat-2026 op Prime Video, amptelike datum nog onbekend.
Stanley Tucci, wat ook vanjaar in The Devil Wears Prada 2 te sien is, vertolk in Masterplan ’n legendariese dief wat sy visier rig op die Mona Lisa, Leonardo da Vinci se ikoniese skildery wat in die Louvre-museum in Parys uitgestal word. Hy werf twee jong vreemdelinge om hom te help – Chiara (Simona Tabasco), ’n skerpsinnige Italiaanse kubermisdaadkenner, en Jay, ’n selfversekerde Franse plofstofspesialis (vertolk deur Victor Belmondo) – voordat hy onthul dat hulle eintlik broer en suster is én dat hý hul pa is. Midde dié chaostiese hereniging moet die trio leer om saam te werk as hulle enige hoop het om die rooftog van die eeu uit te voer.
Good Sex
In 2026 op Netflix, amptelike datum nog onbekend.
Ná ’n dekade in ’n mislukte verhouding, word die pragmatiese couple therapist, Ally, 40 jaar oud en waag sy, ietwat teësinnig, weer ’n eerste tree in New York se dating scene. Maar sy word onkant betrap as sy dan twee mans ontmoet – een in sy twintigs en een in sy vyftigs – wat haar wys dat daar geen presiese formule vir goeie seks is nie.
Girls en Too Much se Lena Dunham is hier die skrywer-regisseur met die rolverdeling wat onder andere Natalie Portman, Mark Ruffalo, Tucker Pillsbury (óftewel die sanger Role Model), Rashida Jones en Meg Ryan insluit.
Lees ook
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →