Reënboogrant is geïnspireer deur Louise van Niekerk se topverkoperboeke vir jong volwassenes wat in die negentigerjare gepubliseer is. Dié telenovela speel in Tshwane af en draai om die Brink-gesin. Minke Marais en Mila de Villiers (Wyfie) vertolk die graad 10-susters Shani en Sunette, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf, ’n matriekleerder en die skool se hoofseun.
Daar is elke Woensdag twee nuwe episodes op Showmax beskikbaar. Hier is wat jy vandeesmaand op dié telenovela kan verwag.
Woensdag, 5 Februarie 2025
Lekker is nie altyd logies nie
Sunette se emosies loop hoog oor gerugte van Pierre en Rachelle. Shani worstel met haar gevoelens vir Jacques te midde van die onrus wat Johan se toestand veroorsaak het.
Leemtes en liggies
Shani stem in om as vriende saam met Jacques na die Mei-dans te gaan, maar voel skuldig oor Johan wat steeds in ‘n koma is. Herman en Maryna het ‘n moeilike gesprek.
Woensdag, 12 Februarie 2025
SOS vir RSR
Reënboogrant se Mei-dans sorg vir opwinding en drama. Sunette en Pierre groei nader aan mekaar. Die Mei-dans affêre kom tot ’n klimaks met ’n moontlike besope Dolf en ’n histeriese gil…
Mei-dans 2.0
Die waarheid oor wat by Japie se partytjie gebeur het, ontlok ’n kettingreaksie. Ná die mislukte Mei-dans hou die tieners hul eie partytjie.
Woensdag, 19 Februarie 2025
Elke huis het sy kruis
Jacques maak ’n groot fout wat sy lewe onherroeplik verander. Johan tree vreemd teenoor Shani op. Sunette stoot vir Pierre weg.
Blinde liefde…
Jacques word dieper in die wêreld van dwelms getrek. Shani neem ’n besluit om hom te gaan besoek. Sunette soek spasie. Rachelle fokus op ’n nuwe uitdaging.
Woensdag, 26 Februarie 2025
Vrydagaand…
Die konflik tussen Johan en Japie vererger tydens die rugbymanne se braai. Johan en Shani se verhouding is op ’n slegte plek en Rachelle gebruik die geleentheid om verder onmin te saai. Ans ontdek die identiteit van die kuberboelie.
Nog ’n kans…
Rachelle beplan ’n gevaarlike speletjie en besluit om saam met Japie te werk. Sunette se ontmoeting met Japie skep verwarring. Jacques is in ’n stryd met sy pa gewikkel.
Dubbelepisodes van Reënboogrant word elke Woensdag tot en met 11 Junie 2025 op Showmax beskikbaar gestel. Rëenboogrant word ook op Vrydae op kykNET (DStv-kanaal 101) en DStv Stream uitgesaai, maar met slegs een nuwe episode per week.