Menu terloops
In Redakteurskeuse [4 Nov 2022]

Redakteurskeuse vir November 2022


Wat om te kyk: Die redakteurskeuse vir November sluit in die Addams Family-reeks, ‘Wednesday’, Showmax se ‘Donkerbos’ en ‘Tali’s Joburg Diary’, ‘The Crown’ se vyfde seisoen en Trevor Noah se ‘I Wish You Would’.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir November 2022

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir November.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Wednesday S1

Die karakter Wednesday Addams het so eie met die aktrise Christina Ricci se vertolking in die 1991-fliek, The Addams Family, geraak, dat dit moeilik is om enige ander aktrise as die weirdly wonderful witchy kreatier te verbeel. Wie anders sou die slim, sarkastiese suurknol met geniale egtheid kan vertolk? 

Sowat 30 jaar ná die vrystelling van die oorspronklike fliek, bied ’n nuwe Netflix-reeks ’n amperse eerbetoon aan die karakter. Só dan ook aan die aktrise wat haar destyds in die lewe geroep het.

Wednesday draai om die einste karakter met haar donker hare, haar groot, sielvolle/siellose oë (it could go either way), en haar ewige aardige familie. Maar nou staan Jenny Ortega in die rol. Ortega sal jy dalk onthou as die kind-weergawe van Jane in die CW-reeks Jane the Virgin, maar dié is eintlik haar grootste rol nog. 

Die reeks speel af tydens Wednesday se tyd aan Nevermore Academy. Terwyl sy haar ontluikende psigiese vermoëns probeer bemeester, poog sy ook om ’n rits moorde te stuit én die bonatuurlike raaisel oplos waarin haar ouers al vir 25 jaar gewikkel is. 

Catherine Zeta-Jones staan die skoene van die oorspronklike Morticia Addams – Angelica Huston – oortuigend vol, met Luis Guzmán as Gomez Addams en Isaac Ordonez as Pugsley Addams. Ricci is ook terug – die keer as Marilyn Thornhill. Ook in die (baie, baie groot) rolverdeling is Game of Thrones se Gwendoline Christie, Jamie McShane, Percy Hynes White, Hunter Doohan, Emma Myers, Joy Sunday, Naomi J Ogawa, Moosa Mostafa, Georgie Farmer en Riki Lindhome.

Vanaf 23 November op Netflix. 

The Crown S5

The Crown se vyfde seisoen draai om sekerlik een van die moeilikste periodes wat die koninklike familie al moes deurmaak… Minstens wat die publiek se siening van hul rol betref. 

Dié seisoen speel hoofsaaklik in die 90s af. Soos koningin Elizabeth II (Imelda Staunton) die 40ste herdenking van haar toetrede tot die troon nader, besin sy oor haar bewind tot dusver – een wat nege eerste ministers sien kom en gaan het en waarin media en televisie ’n groeiende rol speel. Daar is ook nuwe uitdagings op die horison. Die gebeure in die Sowjetunie en Hong Kong blyk net die begin van die veranderinge in die internasionale orde te wees. En dan nie eens gepraat van die shenanigans in hul eie “huis” nie. 

Prins Charles (Dominic West) dring daarop aan dat Elizabeth hom toelaat om van Diana (Elizabeth Debicki) te skei. Soos Charles en Diana al minder met mekaar te doen het, neem Diana beheer oor haar “storie”. Sy gee die koninklike reëls ’n manicured middelvinger as sy besluit om ’n boek te publiseer wat die openbare steun vir Charles – en Windsor –ondermyn. Spanning neem toe as ons vir Mohamed Al Fayed (Salim Daw) en sy seun Dodi (Khalid Abdalla) ontmoet. 

Die reeks het ’n punt van 90% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes en het al etlike pryse opgeraap – veral vir die akteurs wat dié werklike karakters met ongelooflike oortuiging vertolk.

Vanaf 9 November op Netflix. 

Trevor Noah: I Wish You Would

’n Paar dae nadat die Daily Show-aanbieder Trevor Noah aangekondig het dat hy ná sewe jaar dié program se leisels aan iemand nuut gaan oorgee, skyn ’n effense verwardheid oor mense se reaksie by hom deur. Hy verstaan hoekom mense hartseer is, sê hy toe ’n gehoorlid hom oor sy besluit uitvra… Maar ook nie. Sien dit eerder as goeie nuus. Goeie nuus vir hóm. Dit beteken immers hy het nou weer tyd vir sy eerste, groot liefde: Om op die verhoog grappe te vertel. Maar nie enige verhoog nie. Eerder ’n altyd-veranderende wêreldverhoog met al die verskillende lande, kulture, gebruike, tale, quirks en ervarings wat soos moedersmelk vir hom is.

Dít ís goeie nuus. Dit beteken meer tyd om die lewe te vertaal in iets waarvoor ons uit ons maag kan lag – vir onsself, vir ander, vir Eskom… Vir wat ook al en wie ook al ons daaglikse bestaan ’n bietjie moeiliker maak. 

Daar is uiters min bekend oor Noah se nuutste Netflix-special, I Wish You Would. Trouens, ten tye van skrywe, is daar net ’n ou kort video wat absolute niks weggee oor die temas wat hy die keer aanspreek nie. Al inligting wat Netflix deel is dat I Wish You Would deels draai om Noah se pogings om Duits te leer, wat gebeur as jy Indiese kos in Skotland bestel, en sleg praat van mense ná hul dood. Hy lyk wel baie stylvol en die gehoor skree asof hy comedy se Harry Styles is. As dit die zeitgeist enigsens so raakvat soos enige van sy vorige specials, dan wag ’n bederf op ons. 

Die regie is deur die Emmy-benoemde David Paul Meyer. Hy het al honderde episodes van The Daily Show, asook twee van sy Noah se vorige comedy specials, geregisseer.

Vanaf 22 November op Netflix. 

Kyk ook dié Trevor Noah stand-up specials op Showmax:

Ook op my moet-kyk-lys:

Donkerbos

Die onheilspellende reeks is deur die bekroonde storieverteller Nico Scheepers geskryf en geregisseer. Scheepers is ook vir sy magiese werk op Nêrens, Noord-Kaap bekend. Die eerste episode word op 29 November op Showmax vrygestel. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Dinsdae beskikbaar wees om te stroom. Lees meer oor die reeks hier.

Tali’s Joburg Diary

Tali’s Joburg Diary is vanaf 18 November op Showmax beskikbaar om te stroom. Nuwe episodes sal weekliks beskikbaar gestel word. Lees meer oor die nuwe seisoen.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies