Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Mei 2024.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Bridgerton S3, deel 1
Vanaf 16 Mei 2024 op Netflix beskikbaar.
Die trefferreeks, Bridgerton, keer terug vir ’n derde seisoen van sappige soene in die skaduwees en ’n skoot (sogenaamde) unrequited love… Dié keer draai die hoofstorielyn om Penelope Featherington (Nicola Coughlan), óftewel Lady Whistledown. Aan die einde van die vorige seisoen was sy hartgebroke toe sy die man van haar drome – en haar beste vriendin se broer – Colin Bridgerton, hoor grap met sy vriende oor hoe hy mos nooit haar rok sal jag nie. Colin (Luke Newton) het intussen gaan reis en met sy terugkeer is hy onkant gevang deur Penelope se koue skouer. Want sien, sy gaan nie vir hom wag nie en dié vrou soek ’n man. In ’n poging om hul vriendskap te herstel, bied Colin aan om haar met die maatsoekery te help, maar dan ontdek hy sy gevoelens jeens Penny is minder platonies…
Dié seisoen word in twee dele van vier episodes elk uitgereik. Die eerste sarsie is vanaf 16 Mei beskikbaar met die tweede bondel episodes wat op 13 Junie uitgereik word.
Juffrou X
Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
“Juffrou X is moeilike kykstof, maar dis ʼn fantastiese en realistiese blik op ʼn donker wêreld van skoolgeweld, bendes, dwelmmisbruik – en oor ʼn enkele onderwyser wat met Wiskunde en waagmoed, haar leerlinge se lewens wil verander,” skryf Riëtte van der Wat in haar resensie oor dié nuwe reeks.
Die reeks vertel oor ʼn onderwyser, Inge Bester (Trix Vivier), oftewel Juffrou X, wat by ʼn Suid-Kaapse skool vir haar leerlinge se toekoms veg terwyl bendes, dwelms, armoede en afwesige ouers dreig om daai einste toekoms hier in die hede te vernietig.
Die reeks, geskryf en geregisseur deur die bekroonde Tertius Kapp (Plan B) is ’n verontrustende fiktiewe blik op wat ’n harde daaglikse realiteit vir baie Suid-Afrikaners is. Dié realness lê soos ’n dik laag slik op die oppervlak en maak dat jy nie kan wegkyk soos dié mense se grootse drome van beter ontrafel en lewens ontspoor nie.
Buiten Vivier tel Clayton Evertson, Bianca Flanders, De Klerk Oelofse, Brendan Daniels, Simone Neethling en Anja Taljaard onder die rolverdeling.
Maxton Hall
Vanaf 9 Mei 2024 op Prime Video beskikbaar.
Ah, niks so lekker soos ’n bietjie teen angst-televisie as jy na ontsnapping smag nie!
Maxton Hall, gegrond op Mona Kasten se topverkoperboek, Save Me, begin met Ruby Bell (Harriet Herbig-Matten), ’n beursstudent aan die gesogte Maxton Hall-privaatskool, wat iets sien wat niemand moes nie. En dít laat die arrogante rykmanskind James Beaufort (Damian Hardung) sweet, want daar is baie op die spel as Ruby dié geheim uitlap. Maar as hy haar konfronteer en haar probeer omkoop om haar mond te hou, is daar ’n onmisbare chemie en die vonke spat… Jou mos gesê: lekker tiener-smartsagadrama om jou van als wat pla te laat vergeet.
Dark Matter
Vanaf 8 Mei 2024 op Apple TV+ beskikbaar.
Dark Matter word wyd beskou as een van die beste wetenskapfiksieboeke van die afgelope dekade en met dié dat Apple TV+ dit in ’n TV-reeks omskep het, word dié stroomplatform se sci-fi-aanbod – wat ook Silo, For All Mankind, Invasion en Foundation insluit – net al beter. Dit draai om Jason Dessen (Joel Edgerton), ’n fisikus, professor en familieman wat op ’n dag ontvoer word – na ’n alternatiewe weergawe van sy lewe.
Gou ontaard dié landskap van lewens wat hy kón geleef het in ’n nagmerrie soos hy probeer om na sy realiteit – en sy werklike familie – terug te keer.
En nog ’n paar voorstelle…
- Acapulco S3, Apple TV+ vanaf 1 Mei 2024
- Clarkson’s Farm S3, Prime Video vanaf 3 Mei 2024
- The GOAT S1, Prime Video vanaf 9 Mei 2024
- Ashley Madison: Sex, Lies & Scandal, Netflix vanaf 15 Mei 2024
- Outer Range S2, Prime Video vanaf 16 Mei 2024
- The Big Cigar, Apple TV+ vanaf 17 Mei 2024,
- Trying S4, Apple TV+ vanaf 22 Mei 2024
- The Blue Angels, Prime Video vanaf 23 Mei 2024
- DOM S3, Prime Video vanaf 24 Mei 2023
- Dancing for the Devil: The 7M TikTok Cult, Netflix vanaf 29 Mei 2024
- Raising Voices, Netflix vanaf 30 Mei 2024
- A Part of You, Netflix vanaf 31 Mei 2024