Menu terloops
In Redakteurskeuse [2 Mar 2022]

Redakteurskeuse vir Maart 2022


‘Bridgerton’ se tweede seisoen (uiteindelik!) en ‘Arrow’ se Stephen Amell in die boeiende dramareeks ‘Heels’, is deel van vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Maart 2022

Bridgerton S2

Kristen Baldwin van Entertainment Weekly beskryf Netflix se tweede grootste treffer só: “Dit lyk asof Bridgerton ’n wonderlike afleiding is vir diegene wat van Pride & Prejudice hou, maar wat wens dit het meer seks op trappe gehad.” 

’n Sexy Pride & Prejudice? Daarvoor is dié storie té heerlik vurig.

Die reeks is gegrond op die boeke van Julia Quinn en TV-skepper Shonda Rhimes het dit reggekry om kykers met haar TV-weergawe van dié kombinasie van periode-drama en sexy times, op te sweep.

Trouens – dit het rekordkykertalle in sy debuutmaand op die platform gehad en was tot onlangs die Netflix-reeks met die meeste kykers voordat dit deur Squid Game onttroon is. 

Intussen moes ons ’n miljoene leeftye vir die tweede seisoen wag. Soos met die eerste seisoen, is een van die Bridgertoon-kroos nou op pad kansel toe. 

Dié keer is dit een van die broers wat moet kys. Verwag meer drama as in The Bold and the Beautiful en Binnelanders saam as Anthony besef sy voorgenome bruid is toe nie sy perfekte pasmaat nie…eerder haar koppige ouer suster.

Die reeks is reeds vir ’n derde en vierde seisoen hernu – daar is immers nog ’n hele lot Bridgertons wat afgetrou moet word.

Onder die rolverdeling tel Jonathan Bailey, Phoebe Dynevor, Claudia Jessie, Luke Newton, Luke Thompson, Florence Hunt, Will Tilston en Ruth Gemmell. Bridgerton se eerste seisoen het ’n punt van 87% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes.

Vanaf 25 Maart op Netflix.

Kyk ook:

Curb Your Enthusiasm S11

Curb Your Enthusiasm is so na aan perfek as wat ’n komedie oor die kleinighede van die lewe kan kom.

Die reeks, nou in sy 11de seisoen, is in 2000 vir die eerste keer uitgesaai en sedertdien laat dit die stoutste onder ons cringe-skaterlag.

Larry David, mede-skepper van die immergewilde sitkom Seinfeld, speel ’n fiktiewe weergawe van homself in Curb Your Enthuasiasm.

Soos met Seinfeld, lê die humor van Curb Your Enthusiam in die verveligste dele van ons alledaagse bestaan – veral wat sosiale interaksies betref. Larry (óftewel “Larry!!!!!” – hy word nogal gereeld uitgeskel) is aldag in die een of ander moeilikheid. Hy is báie gepla met die allerkleinste irritasies van die lewe en té dikwels kan hy homself net nie help nie. Oor selfs die geringste grief of ergenis moet daar áltyd iets gedoen of gesê word. En dis juis wat dit so lekker maak – hy skroom nie om dié minder vleiende deel van ons menslikheid te wys nie.

Die episodes wentel gewoonlik om een of ander sosiale standaard wat Larry ignoreer. Hy bevind homself gereeld in die ongemaklikste situasies – soms net weens sy totale sosiale onbeholpenheid wat tot nimmereindige misverstande lei.

Hoewel die storielyn deur hom geskryf word, is dit slegs ’n geraamte – die dialoog word meedendeels deur die akteurs geimproviseer. 

Die 11de seisoen, wat meestal bemoeid is met Larry se griewe oor ouer word, het ’n punt van 94% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die reeks as ’n geheel het ’n punt van 92%.

Curb Your Enthusiasm is reeds vir 47 Emmy-toekennings benoem, waaronder nege keer as beste komediereeks. 

Dubbel-episodes om 23:30 vanaf 8 tot 14 Maart op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online. 

Heels S1

Die TV-netwerk Starz, bekend vir die gewilde Outlander-reeks, The Girlfriend Experience en Hightown, het met Heels sekerlik nog ’n treffer beet. 

Die eerste seisoen het ’n punt van 96% op Rotten Tomatoes en Arrow se Stephen Amell is deur die bank vir sy spel geloof. 

Heels is ook reeds vir ’n tweede seisoen hernu. 

Ons ontmoet Amell as Jack Spade, ’n sogenaamde heel in die plaaslike stoeiliga in Duffy, Georgia. ’n Heel is stoeitaal wat na die “skurk” in die kryt verwys. Jy weet, die een wat wild en woes te kere gaan en al wat ’n reël is, breek. Sy jonger broer, Ace (Alexander Ludwig), is weer ’n face – die good guy of held. 

Dié tweestryd speel binne en buite die stoeikryt af. Die broers kry ook stry oor hul oorlede pa se nalatenskap. As die hoof van die plaaslike stoeiliga, het King Spade destyds saam met sy vyand in die ring – Wild Bill Hancock – week ná week skares gelok. Maar daai gloriedae is lank reeds vergete. Met Jack aan die stuur, is kaartjieverkope karig en hy sukkel om sy gesin te onderhou.  

Heels is ’n slow burn en goed op pad om een van TV se beste dramas te word. Maar hê geduld. Die is ’n storie wat met lang drade vertel móét word. 

Talle kritici vergelyk ook Heels met die voetbal-drama Friday Night Lights  met Common Sense Media se resensie wat lui: “Die hart is eg in hierdie sport-in-’n-kleindorpie-sage wat aan blywende gunstelinge soos Friday Night Lights herinner.”

As jy destyds JAG gekyk het, sal jy bly wees om David James Elliot te sien as Jack en Ace se pa. 

Vanaf Donderdag, 17 Maart om 21:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.

The Adam Project

In die wetenskapfiksieprent, The Adam Project, beland ’n vlieënier per abuis in 2022 as hy terug in tyd reis om die toekoms te verander. Dis dan wat hy met sy 12-jarige self – en sy oorlede pa – kragte saamspan om sy reddingsmissie te volbring. 

Die nuweling Walker Scobell vertolk Adam as kind, terwyl Ryan Reynolds die volwasse Adam speel.

Ook in die rolverdeling is Jennifer Garner en Mark Ruffalo as Adam se ouers.

Shaun Levy, wat saam met Reynolds op Free Guy gewerk het, is die regisseur. 

Vanaf 11 Maart op Netflix. 

Kyk ook:

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies