Ons skoolhoof het selde inligting verklap wat ons ’n beter idee oor sy ánder lewe kon gee. Sy lewe weg van die skool af, ná ure. Seinfeld het dit alles verander.
Tydens die laaste periode van elke skooldag is daar ’n vyf minute lange oorsig van dié dag se skoolnuus gegee, asook inligting oor buitemuurse aktiwiteite en geleenthede wat daardie aand by die skool sou plaasvind. Soms was dit ’n onderhoof wat die boodskap oor die interkom oorgedra het, maar minstens een keer ’n week was dit ons skoolhoof self.
Dié dag het sy stem effe sentimenteel geklink, ten spyte daarvan dat ’n mens kon agterkom dat hy die oorsig van ’n papier of iets aflees.
Maar toe slaan hy skielik ’n ander rigting in en die teerheid in sy stem verdiep.
“Daar’s geen geleenthede by die skool vanaand nie, want ek het gevra dat ons dit so hou,” sê hy toe. Dié deursigtigheid en verduideliking vir ’n geleentheidlose skoolaand was ongewoon.
“Dis vanaand die laaste episode van Seinfeld, en vir my is dit die einde van ’n besonderse tyd in my lewe. Ek hoop daar is ander Seinfeld-aanhangers wat hierna luister en net so baie soos ek vir Jerry, Elaine, Kramer en George gaan mis. Geniet die laaste episode.”
Ek het nie Seinfeld geken nie, maar ek was buitendien in die koshuis, so dis nie asof ek skielik op SABC3 daardie aand kon inskakel om dan ’n geselsie met ons hoof aan te knoop die volgende keer wat ek hom in die gang raakgeloop het nie. Dit was ’n missed opportunity wat my nou nog bybly.
Die huis se eienaar het gesê as daar niks anders ooit weer op televisie is nie, hy doodgelukkig sou wees.
’n Tyd later het ek ’n Afrikaanse familie se huis in Woodstock opgepas. Slegs seisoene drie en vyf se DVD’s is langs hul televisie gebêre. Die huis se eienaar het gesê as daar niks anders ooit weer op televisie is nie, hy doodgelukkig sou wees.
Dit het vir my lank gevat om te verstaan wat presies Seinfeld se aantrekkingskrag is. My skoolhoof was in sy vyftigs, hierdie ander ou in sy dertigs. Daar was dus iets aan die program wat deur verskillende generasies geniet kon word.
’n Storie oor niks nie
Seinfeld kort amper geen bekendstelling nie maar as jy regtig nog nooit van die reeks “wat oor niks gaan nie” gehoor het nie: hier’s ’n kort opsomming.
Die komediant Jerry Seinfeld vertolk die rol van ene Jerry Seinfeld, ’n komediant in New York (ja, dis baie meta, maar die komediereeks is nié outobiografies nié). Sy eksmeisie, Elaine Benes (Julia Louis-Dreyfus), word sy beste vriendin. Sy neurotiese skoolvriend, George Constanza (Jason Alexander), ontmoet Jerry elke dag vir middagete by hul plaaslike restaurant, Monk’s Cafe. Kosmo Kramer (Michael Richards) is Jerry se buurman. Dis ’n bietjie moeilik om Kramer in een sin op te som so ek gaan vir George hier aanhaal. In die episode “Visa” eet hy, Jerry en Elaine oudergewoon by Monk’s wanneer George uitvind dat Kramer op ’n “fantasy camp” is:
“His whole life is a fantasy camp. People should plunk down two thousand dollars to live like him for a week. Do nothing, fall ass-backwards into money, mooch food off your neighbors, and have sex without dating; that’s a fantasy camp.”
George se eindelose soeke na geld, seks, kos, en sy afguns van enigiemand wat dit kry sonder om daarvoor te werk, is ’n groot, en deurlopende tema in Seinfeld. Dit maak daarom sin dat wit Afrikaanse mans jare lank reeds aanklank by hierdie legendariese televisiereeks uit die 1990’s vind.
Ten spyte daarvan dat ons hoof die hele skool in die laat-90’s aan Seinfeld oor die interkom bekendgestel het, het ek eers 20 jaar later ’n fan geword. Dit was nie omdat ek skielik myself in George se skoene kon indink nie, maar bloot omdat ek New York toe getrek het op ’n tyd toe Seinfeld-herhalings elke liewe dag op televisie was.
Ek het ontdek dat die volksvreemde situasies waarin ek myself skielik bevind – en my soos ’n seer vinger in die Groot Appel laat uitstaan het – het reeds met elke liewe karakter in die denkbeeldige wêreld van Seinfeld plaasgevind. Ek kon met Kramer identifeer as hy tussen New York se treindeure vasgedruk word omdat dit sonder waarskuwing toeslaan. Ek’t soos Elaine gevoel as sy, tot haar verbasing, die oorsprong vind van ’n vreemde reuk wat haar vir dae lank mal gemaak het. Ek’t nes Seinfeld in ’n New Jersey-winkelsentrum se verwarrende parkeergarage verdwaal.
Maar selfs al speel dit alles in en om New York af, is hul mallerige avonture universeel. Dit is immers ’n storie oor niks besonders nie, die alledaags, die vervelige minute tussen jou dag se hoogtepunte – amper enigiemand kan hiermee identifiseer en vir hulself – én vir Seinfeld – lag.
Binge…of bêre ’n bietjie vir môre
Nes George, het my skoolhoof waarskynlik ewe min sy werk geniet. Nou dat Suid-Afrikaners met ’n Netflix-rekening toegang tot elke liewe Seinfeld episode ooit het, wonder ek of hy die reeks reeds gebinge-watch het, en of hy eerder elke episode soos ’n goeie bottel wyn hanteer. ’n Slukkie op ’n slag, ná aandete, en as hy dit nie klaargekyk kry nie, bêre hy dit vir môre.
Seinfeld een van daai unieke, allesomvattende stories wat oor grense en generasies strek. Dalk is dit net die ding wat jy nodig het om beter met jou moeilike kollega oor die weg te kom, of iets waaroor jy uiteindelik met jou skoonma kan gesels. ’n Mens weet nooit.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →