Menu terloops
In Redakteurskeuse [12 Jan 2022]

Redakteurskeuse vir Januarie ’22


Die Deense dramareeks “The Investigation”, Ricky Gervais se lag-huil donker komedie “After Life”, en skitterende toneelspel van Jason Bateman in die finale seisoen van “Ozark” – hier is vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Januarie ’22
1

“Ek wens julle het my nooit ontmoet nie,” sê die Deense polisiespeurder Jens Møller aan die vermoorde Kim Wall se ouers aan die einde van die ondersoek na hul dogter se wrede dood. 

Dis nie ’n ongewone wens vir Møller nie – met elke moordsaak wat hy ondersoek word hy immers deel van ’n slagoffer se geliefdes se haglikste herinneringe. Dis hy wat met hulle grimmige waarhede moet deel, en berusting is nie gewaarborg nie.

In The Investigation, ’n fiktiewe misdaaddrama gegrond op die werklike gebeure rondom die moord op Wall, ’n jong, Sweedse joernalis, word Møller met ’n ontnugterende intensiteit deur Søren Malling (Borgen) vertolk. Pilou Asbæk (Game of Thrones) is, as die staatsaanklaer Jakob Buch-Jepsen, in perfekte balans teenoor Malling. Saam moet die twee die moord se raaisels oplos om geregtigheid vir Wall – en haar gesin in diepe rou – te laat geskied. 

Wall is op 10 Augustus 2017 deur ’n Deense duikbootbouer vermoor. Dele van haar koplose, gemutileerde lyk is 11 dae later langs die kus gevind.

Haar moord, op dieselfde dag as haar onderhoud met die duikbootbouer aan boord sy skip, het wêreldwyd opslae gemaak soos die ondersoekspan, gelei deur Møller en Buch-Jepsen, op die skuldige jag gemaak en duikers vir ’n verdere ses maande lank vir nog van Wall se liggaamsdele gesoek het.

In ’n geweldige strak verwysing na wat die reg vereis, maan Buch-Jepsen in ’n stadium vir die speurder dat hulle Wall se liggaamsdele móét vind om die teendeel van die moordenaar se verweer (of verwere – hy verander telkens sy by tye bespotlike storie) te bewys. So, tot in laat-November van daardie jaar, is die Deense kus vir Wall se kop en ander dele gefynkam. 

Oor die duur van ses somber en stadige episodes sien ons die ondersoek ontvou. Dié stadige pas is nes die skrywer-regisseur Tobias Lindholm dit wou gehad het. Die reeks se fokus is immers nou – dit is tot slegs die polisieondersoek beperk en selfs dit word met eenvoud aangebied. Briljant, boeiend, maar sonder enige skouspel wat so gewoon geword het van misdaadrillers.

Van die tonele het duidelike invloede van Lindholm se werk op die reeks Mindhunter, wat met dieselfde eenvoud en kliniese detail ’n angskombers oor alles gegooi het. Lindholm besluit ook uit die staanspoor om Wall se moordenaar nooit by name te noem nie, ’n besluit wat die moordenaar van enige verheerliking in die vertelling ontneem. (Só ook, noem ons nie sy naam in dié artikel nie.)

Pernilla August (Star Wars) en Rolf Lassgård (The Hunters) vertolk Wall se ouers, Ingrid en Joachim Wall. Die reeks is ook in noue samewerking met die werklike Møller en Wall se ouers gemaak. 

Vanaf 8 Januarie om 22:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Catch Up.

2

After Life is, soos alles anders wat Ricky Gervais al vir TV gemaak het, briljant. Dié reeks is egter heel moontlik die skepper van onder meer Derek, An Idiot Abroad en The Office, se snaakste, eerlikste, prontuit reeks nog.

Kyk, nie almal kan met die dood spot nie en nie almal kan daaroor lag nie. To each their own. Gervais maak lig uit sy eie hartseer vanaf ’n plek van pynlike eerlikheid en meegevoel en juis dáárom kom daar trane met die lag én lag met die trane.

After Life krap aan jou seerplekkies, en, soos altyd, ry Gervais ’n golf van (sogenaamde) onvanpasheid.

In die derde – en laaste – seisoen – keer Gervais terug as die norse plaaslike koerantjoernalis, Tony (Gervais), wat almal en alles verafsku nadat sy vrou, Lisa, aan kanker sterf. Hy haal sy woede op almal rondom hom met filterlose kommentaar en haglike gedrag uit. Vriende en familie kry hom jammer en laat hom daarmee wegkom…behalwe vir ’n weduwee, Anne (Penelope Wilton), wat hy by die plaaslike begraafplaas ontmoet, wat hom sommer reguit – en uit die hart uit – kasty. 

Aan die einde van seisoen 2 het dit gelyk of die aard van Tony en Emma (Ashley Jensen), die verpleegster wat Tony se pa Ray (David Bradley) voor sy afsterwe versorg het, se verhouding dalk romanties kan word. In die derde seisoen sien ons juis hoe hul dinamiek ontwikkel soos hy nou ook sy pa se dood moet verwerk.

Vanaf 14 Januarie op Netflix.

3

Dinge het darem baie verander in die jare sedert Marty Byrde sy gesin van Chicago na die Missouri Ozarks gesleep het.

Dié veelbekroonde reeks het ’n punt van 89% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes en draai om Jason Bateman se karakter, die einste Marty, ’n finansiële adviseur wat ’n dwelmbaas moet paai ná ’n geldwasseryskema wat lelik skeefloop. Marty belowe hy sal met selfs ’n groter skema binne vyf jaar $500 miljoen se dwelmgeld “skoon” kry.

Met sy vrou Wendy en hul twee kinders op sleeptou, en met hul lot wat in die weegskaal hang, dwing dié moeilike, stresvolle, en soms angswekkende omstandighede die gebroke gesin om die bande tussen hulle te herstel. En sommer ook om van die onwettige geldwassery ’n familiebesigheid te maak.

Dié reeks het al toekennings vir regie en as beste akteur vir Bateman besorg, terwyl die res van die rolverdeling ook reeds telkens benoem is. Dit is ’n fantastiese reeks met Bateman wat as regisseur ontwikkel en ook van sy beste werk as akteur lewer. Laura Linney gee ’n fynbesnaarde vertolking as Wendy.

Seisoen 4 van Ozark word in twee dele vrygestel en bestaan uit sewe episodes elk.

Vanaf 21 Januarie op Netflix.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies