Menu terloops
In Redakteurskeuse [6 Des 2021]

Redakteurskeuse vir Desember ’21


Die nuwe komediereeks ‘Harlem’, Sandy Bullock in ’n smartsage, en ’n onthutsende dokkie wat die ware boosdoeners van die opioïed-krisis ontbloot, tel onder Desember se stroom-hoogtepunte.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Desember ’21
1

Being the Ricardos (Amazon Prime)

Being the Ricardos is gegrond op die ware verhaal oor die verhouding tussen I Love Lucy-sterre Lucille Ball en Desi Arnaz. I Love Lucy word wyd beskou as (steeds) een van die beste sitkoms van alle tye. Dit is nou nog toonaangewend in die televisiekomedie genre.

Maar agter die skerms van I Love Lucy was daar soms meer drama as lag. Die biografiese prent ontsluier die egpaar se komplekse romantiese en professionele verhouding.

Dit speel af oor een week – ’n besonderse moeilike een waarin alles op die spel is. Jenelle Riley van Variety skryf op Twitter: “As jy vertolkings soek wat die gees en siel van Lucille Ball en Desi Arnaz vasvang, gaan jy bederf word. Aaron Sorkin is op sy Sorkienste met wonderlike kwinkslae, motiverende toesprake en ’n uitstekende ensemble.”

Kyk, Being the Ricardos is ’n Aaron Sorkin-film en dít opsigself beteken (99% van die tyd) dat iets magies op jou wag. En dan is daar nog Nicole Kidman, wat iets toweragtig as Lucille Ball regkry. 

Vanaf 21 Desember. 

2

Dié komedie draai om ’n groep Swart vriendinne en speel af in Harlem, New York.

Die reeks het ’n punt van 100% op die resensiewebwerf op Rotten Tomatoes en met rede. Girls Trip-skrywer Tracy Oliver het immers ’n helse lekker, relevante, tydige en ’n way overdue verteenwoordigende storie hier beet. Die vier vriendinne is uiteenlopend, redelik clichè-vry, ambisieus en spelerig met beroepe wat strek van app-skepper tot professor.

Die reeks word reeds met Sex and the City van ouds vergelyk – maar hier is daar iets ekstra. Iets meer identifiseerbaar waarby moderne vroue kan aanklank vind.

Radhika Manon van Paste Magazine skryf: “Die karakters is lekker om saam mee te kuier, en die vertonings sorg vir ’n vinnige en genotvolle binge wat nie te veel nadenke verg nie.”

Lorraine Ali van The Los Angeles Times het ook die rolverdeling – en die manier hoe die karakters geskryf is en ontwikkel – geloof: “Elke karakter word interessanter soos die reeks vorder, danksy sterk karakterontwikkeling en skerp skryfwerk.”

Vanaf 3 Desember.

3

The Crime of the Century gee ’n onthutsende blik op hoe die opioïedkrisis ontstaan het.

Die Oscar- en Emmy-bekroonde dokumentêre rolprentmaker, Alex Gibney (The Inventor), onthul as’t ware hoe farmaseutiese maatskappye in werklikheid grootliks verantwoordelik is vir die einste krisis waaruit hulle massiewe finansiële voordeel trek. Met pynmedikasie soos OxyContin (vergelykbaar met heroïene), is honderde duisende slagoffers al geëis. Maatskappye soos Purdue het tesame met politici en ander amptenare met dollartekens in hul oë bygedra tot die oorproduksie, roekelose verspreiding en misbruik van opiate.

Gibney maak gebruik van onder meer inligting van fluitjieblasers, geheime dokumente, eksklusiewe onderhoude met sleutelspelers en ontnugterende getuienis van opioïedverslaafdes om ’n deeglike prentjie van die krisis te skets.

Die dokkie, wat uit twee dele bestaan, is saam met The Washington Post vervaardig, en is net so ontstellend as wat dit ’n mens se bloed gelykertyd laat kook. Dis reeds wyd geloof en is vir verskeie toekennings benoem.

Saloni Gajjar van AV Club skryf: “The Crime Of The Century handel nie oor die slagoffers van die opioïedkrisis nie, maar oor die skurke van hierdie ramp, en bied ’n broodnodige blik op hoe intense bemarkings en bedrieglike versekeringseise gehelp het om hierdie chaos te veroorsaak.”

4

Die logline vir Don’t Look Up lui: “Based on real events that haven’t happened – yet.”

En ja, selfs net die lokprent sal ’n mens laat saamstem. Dié satiriese komedie is deur Anchorman se Adam McKay geskryf en geregisseur. Dit draai om twee sterrekundiges (Leonardo DiCaprio en Jennifer Lawrence) wat afkom op ’n komeet wat vinnig op pad aarde toe is. So enorm is die ding, dit sal die aarde eensklaps tot niet maak. Maar niemand wil die twee ernstig opneem nie. Selfs die president (Meryl Streep) maak grappies en ’n TV-aanbieder wil eerder seker maak dat dit wel sy eksvrou se huis sal tref.

Uiteindelik wend hulle hul tot sosiale media om hul stemme te laat geld. Eers dan begin mense (ook maar net-net) luister.

Dié satire oor klimaatsverandering maak grappies oor iets baie ernstig – maar dalk, hopelik, is dit net die ding om mense te laat luister.

Vanaf 24 Desember.

5

Dié Sandra Bullock-drama het tot dusver nie veel van ’n indruk op resensente gemaak nie. Trouens, dis eintlik net Sandy se toneelspel as Ruth Slater wat dit die moeite werd sou maak om te kyk, lui dit op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes: “The Unforgivable bewys dat Sandra Bullock meer as in staat is om teen-tipe te speel, maar haar vertoning is gemors op ’n onverbiddelike meedoëlose storie.”

Die prent vertel die storie van Ruth wat ná 20 jaar agter tralies vir moord haar plek in die samelewing probeer vind.

Die gemeenskap is egter hard op haar en vergifnis kom nie. Sy word gedryf deur haar begeerte om haar vervreemde jonger sussie op te spoor en só heling te vind. Dít ten spyte van oordeel wat fel uit alle oorde kom.

Vanaf 10 Desember. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk op DStv in Mei 2022

Wat om te kyk op DStv vandeesmaand: Die treffende 'Hightown' keer terug met ’n tweede seisoen terwyl die topverkoperboek 'The Time Traveler's Wife' uiteindelik in ’n TV-reeks omskep is.

Meer

Wat om te kyk op Netflix in Mei 2022

Wat om te kyk op Netflix vandeesmaand: Dié stroomdiens se eerste oorspronklike Nigeriese fiksiereeks, 'Blood Sisters', ’n nuwe Suid-Afrikaanse rillerreeks, 'Savage Beauty', en ’n fiktiewe vertelling van die man wat die term Stockholm-sindroom geïnspireer het.

Meer

Wat om te kyk op Showmax in Mei 2022

Wat om te kyk op Showmax vandeesmaand: 'Troukoors' loop weer hoog, 'The North Water' maak sy debuut, en die skreeusnaakse 'The Righteous Gemstones' keer terug.

Meer

‘Anatomy of a Scandal’: Dié kragtoer se houvas kan jy nie sommer afskud

'Anatomy of a Scandal' se ystergreep laat ses episodes na veels te min voel.

Meer
Sien alle opsies