Menu terloops
Editor's Pick of the Month
In Redakteurskeuse [1 Apr 2025]

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’


Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir April 2025.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

The Last of Us S2

Weekliks, vanaf Maandag, 14 April op Showmax. Ook regstreeks op M-Net (DStv-kanaal 101) om 04:00 met ’n herhaling om 21:00. 

Pedro Pascal en Bella Ramsey keer terug vir die tweede seisoen van dié bekroonde – en briljante –  post-apokaliptiese drama.

The Last of Us, gegrond op die gewilde en gelyknamige videospeletjie, se eerste seisoen het verlede jaar etlike toekennings opgeraap, waaronder agt Emmys. Die tweede seisoen speel af sowat vyf jaar ná die gebeure van die eerste seisoen met Joel (Pascal) en Ellie (Ramsey) se verhouding wat deur donker dieptes gaan soos die wêreld om hulle selfs meer gevaarlik en onvoorspelbaar as voorheen word.

The Handmaid’s Tale S6 

Weekliks, vanaf Woensdag, 16 April, op Showmax. 

In die sesde – en laaste – seisoen van The Handmaid’s Tale, word June genoodsaak om nie die stryd teen Gilead gewonne te gee nie. 

Die bekroonde Elisabeth Moss keer terug as June; só ook haar mede-Emmywenners Ann Dowd, Bradley Whitford en Samira Wiley, asook Emmy-benoemdes Yvonne Strahovski, Max Minghella, O-T Fagbenle en Madeline Brewer. Die reeks, wat op Margaret Atwood se distopiese en gelyknamige boek gegrond is, word deesdae as meer relevant en tydig as ooit beskou met etlike vergelykings tussen die fundamentalistiese teokratiese diktatorskap van Gilead en Trump se Amerika. 

Die eerste vyf seisoene het 15 Emmys opgeraap, met kritici wat deur die bank net lof vir Moss se klinkhelder en meesleurende spel het. 

You S5 

Vanaf 24 April op Netflix. 

In die vyfde en finale seisoen van dié sielkundige rillerreeks, keer Joe (Penn Badgley) terug na New York. Hy dink nog hy gaan sy happily ever after geniet, maar helaas… Ou geraamtes val uit die kas en spoke uit sy verlede dreig om die appelkar om te neuk. 

Hans Steek die Rubicon Oor 

Vanaf 20 April op Showmax. 

Hans Steek die Rubicon Oor is gegrond op die gelyknamige trefferroman deur Rudie van Rensburg.

Die geliefde veteraan-akteur Pierre van Pletzen (7de Laan se Oubaas) vertolk die wewenaar Hans, wat in ’n aftreeoord gedwing word, maar vinnig in opstand teen die drakoniese bestuur kom. Die rolverdeling van dié hartverwarmende fliek sluit ook Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo en June van Merch in.

Juffrou X  

Vanaf 30 April op Showmax.

“Juffrou X is moeilike kykstof, maar dis ʼn fantastiese en realistiese blik op ʼn donker wêreld van skoolgeweld, bendes, dwelmmisbruik – en oor ʼn enkele onderwyser wat met Wiskunde en waagmoed, haar leerlinge se lewens wil verander,” skryf Riëtte van der Wat in haar resensie oor dié reeks. 

Die reeks vertel oor ʼn onderwyser, Inge Bester (Trix Vivier), óftewel Juffrou X, wat by ʼn Suid-Kaapse skool vir haar leerlinge se toekoms veg terwyl bendes, dwelms, armoede en afwesige ouers dreig om daai einste toekoms hier in die hede te vernietig. Die reeks is geskryf en geregisseur deur die bekroonde Tertius Kapp (Plan B). Dit bied ’n verontrustende fiktiewe blik op wat ’n harde daaglikse realiteit vir baie Suid-Afrikaners is.

Buiten Vivier tel Clayton Evertson, Bianca Flanders, De Klerk Oelofse, Brendan Daniels, Simone Neethling en Anja Taljaard onder die rolverdeling. 

Die stories van Afrikaans

Vanaf Sondag, 27 April om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Ook na uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Dié nuwe dokumentêre reeks van agt episodes vier en verken die taal se merkwaardige geskiedenis. Met ryk argiefmateriaal en meer as ’n 100 gesaghebbende stemme vertel dié reeks die storie van hoe Afrikaans deur vier eeue gebrei en aan die Afrika-grond gebind is.

Die navorsing en inhoudsregie is deur twee bekroonde joernaliste behartig: Erns Grundling, wat ook ’n medevervaardiger van die reeks is, en die digter Danie Marais. Die Safta-bekroonde kinematograaf PJ Kotzé het die reeks geskiet, met Frankie Opperman as die regisseur.

Pulse

Vanaf 3 April op Netflix.

Pulse is Netflix se eerste hospitaal-prosedurereeks – hul eie weergawe van ’n tipe Grey’s Anatomy as jy dit so kan stel. En, met eerste oogopslag, lyk dit heel belowend… Dit begin reeds met baie op die spel. Daar’s ’n oorkaan wat verwoesting in Miama saai en soos die ongevalle-eenheid oorval word, is daar ook drama onder die dokters.

Willa Fitzgerald vertolk die hoofrol van dr. Danielle ‘Danny’ Simms, wat onverwags bevorder word nadat haar geheime verhouding met dr. Xander Phillips (Colin Woodell) – ook haar baas – op die lappe kom en hy geskors word. Soos die storm buite die hospitaal woed, blyk dit dat hul gekompliseerde verhouding ook verreikende gevolge op hul kollegas het. 

Nog voorstelle:

The Wild Robot, vanaf 13 April op Showmax. Die fliek is gegrond op Peter Brown se topverkoperboek. Dit vertel die storie van Roz, ’n robot wat op ’n onbewoonde eiland gestrand is en moet leer om aan te pas by die harde omstandighede. Geleidelik bou Roz verhoudings met die diere op die eiland, en neem selfs ’n jong wees-eendjie aan.

Redakteurskeuse
Lupita Nyong’o is die stem van Roz in die pragtige The Wild Robot.

Mary & George, vanaf 16 April om 22:00 op M-Net/DStv Stream (DStv-kanaal 101). Dié historiese sielkundige drama is gegrond op die nie-fiksieboek, The King’s Asssassin. Oscar-wenner Julianne Moore speel Mary Villiers, die gravin van Birmingham, wat in 17de eeuse Engeland ’n slinkse plan bedink om haar gesin se invloed, rykdom en status te verewig deur haar seun, George, te oortuig om koning James I te verlei. Die Suid-Afrikaner Oliver Hermanus (Moffie) is een van die reeks se regisseurs. 

Reyka S2, vanaf 8 April op Showmax. Die reeks volg die lewe van die briljante misdaad-profiler, Reyka Gama (Kim Engelbrecht). In die tweede seisoen is Reyka op die spoor van ’n moordenaar wat paartjies by ’n uitkykpunt langs die kus teiken. Intussen spook haar verlede steeds by haar. Angus Speelman (Iain Glen, Game of Thrones), die Skotse boer wat haar as jong kind ontvoer het, is nou in ’n instelling vir seksoortreders. Reyka sukkel egter steeds om tot verhaal te kom en haar trauma te verwerk. 

Étoile S1, vanaf 24 April op Prime Video. Dié reeks is deur die skeppers van onder meer Gilmore Girls en The Marvelous Mrs. Maisel, Amy Sherman-Palladino en Daniel Palladino. Dit draai om twee balletgeselskappe in New York en Parys wat, in ’n poging om te keer dat hul deure sluit, ooreenkom om hul talentvolste sterre uit te ruil.

Luke Kirby en Charlotte Gainsbourg vertolk die hoofrolle in Étoile.

Your Friends and Neighbours, vanaf 11 April 2025 op Apple TV+. Jon Hamm speel in dié dramareeks ’n geskeide man wie loopbaan as beleggingsbestuurder in skande geëindig het. As hy dan begin om die huise van al sy ryk bure te beroof, ontdek hy ook ’n klomp verborge geheime.

Redakteurskeuse, Your Friends and Neighbours
Jon Hamm in Your Friends and Neighbours. Foto: Verskaf

Government Cheese, vanaf 16 April op Apple TV+. Dié surrealistiese gesinskomedie speel in 1969 af. Dit vertel die storie van die Chambers-gesin, ’n aweregse klomp wat hulle nie veel aan die wêreld se realiteite steur nie. Chaos ontstaan dan as Hampton Chambers (David Oyelowo) uit die tronk vrygelaat word.

Redakteurskeuse, Government Cheese
David Oyelowo in die surrealistiese komedie Government Cheese. Foto: Verskaf

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies