Menu terloops
In Redakteurskeuse [5 Apr 2022]

Redakteurskeuse vir April 2022


Vandeesmaand se redakteurskeuse sluit in die einde van ‘Ozark’, een van TV se beste reekse, en Westworld se Evan Rachel Wood se stryd vir geregtigheid in die boeiende, beklemmende dokkie ‘Phoenix Rising’.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir April 2022

Showmax se nuwe waremisdaad-dokkie, The Last Blue Ride: The Hannah Cornelius Story, vertel oor ’n verkragting- en moordslagoffer se laaste oomblikke in die blou Citi Golf wat sy as geskenk by haar ouma gekry het. Dit is ’n afgryslike verhaal, tog nie ’n onbekende een nie. As dit maar was. Die gruwelike dade wat op Hannah Cornelius op 27 Mei gepleeg is, is een van duisende daaglikse stories wat die realiteite van vroue in Suid-Afrika weerspieël. Dis die hartseer, patetiese stand van sake wat gendergebaseerde-geweld in dié land betref. 

Binne hierdie groter konteks, is die fokus op Hannah se hel ’n manier om dié gewelddadige, vernietigende pandemie te verpersoonlik; dit as sulks nader aan die kyker se moontlike realiteit te stuur. 

Hannah en haar vriend, Cheslin Marsh, beide Maties-studente op Stellenbosch, is in 2017 buite Cheslin se woonstel in haar blou Golfie aangerand. Cheslin is met bakstene aangerand, maar het ten spyte van ernstige kopbeserings wonderbaarlik oorleef. Maar terwyl hy vir dood agtergelaat is, het die aanvallers vir Hannah ontvoer. Sy is later om die beurt verkrag en vermoor. 

Die fliek se regie is deur die joernalis Anthony Molyneaux wat slim van kringtelevisie-beeldmateriaal van die aand gebruik maak, asook beeldmateriaal van die gedenkdiens en die hofsaak wat sou volg. En dan is daar Cheslin se vertelling van wat hy van die aand kan onthou. Die aand wat hy vir dood agtergelaat is. En sy vriendin doodgemaak is. 

Daar is altyd ’n fyn balans wat met waremisdaadverhale gehandhaaf moet word. ’n Allerbelangrike oorweging, natuurlik, is die impak op die geliefdes wat agterbly. Daar is die gevaar dat dit hul trauma kan vererger, of die trauma opnuut kan beleef. Sensitiwiteit en empatie is van uiterse belang – en hier word dit getoon – maar terselfdertyd moet skeppers hulself ook afvra wanneer die storie ’n groter rol in die samelewing kan speel. Dis hier waar Molyneaux met die ontvouing aarsel.  

Stroom op Showmax vanaf 1 April.

Ozark S4 Part 2

Dit het begin as ’n poging om ’n dwelmbaas te paai om sy gesin te beskerm. Nooit sou Marty Byrde kon dink dat daar soveel bloed van sy hande sou drup nie. 

Met noukeurige, gefokusde spel het Jason Bateman van Marty Byrde, ’n finansiële adviseur wat sy gesin van Chicago na die Missouri Ozarks sleep, ’n ineengestrengelde karakter gemaak. Die lig en donker, die goed en sleg in hom – dis nooit duidelik wie of wat Marty werklik as persoon is nie. Sy moraliteit hang immers altyd saam met sy familie se lewens in die weegskaal. Telkens, oortuig hy beide kyker en homself, die doel heilig tog die middele as dit kom by jou familie. Maar dan, soos dit deur die loop van die reeks uitspeel, wíé is jou familie? Is dit altyd bloed? Of is dit ook ’n sekere blonde balbyter wie se toegewydheid aan Marty uiteindelik haar lewe laat verkrummel. Tot daar net begrafniskiste oorbly.  

Met die tweede helfte van die laaste seisoen kom die doele en die middele uiteindelik tot ’n punt. 

Marty en Wendy word van alle kante bedreig en moet sowel die owerhede, as die dwelmkartel gelukkig hou, terwyl hulle ook die verstrooide skerwe van hul familie aanmekaar moet plak. 

Stroom op Netflix vanaf 29 April. 

Phoenix Rising

Phoenix Rising is so kragtig soos die vurige beelde wat die titel by ’n mens laat opkom. Hier verwys die Phoenix na beide ’n wet oor gesinsgeweld, asook die aktrise en aktivis Evan Rachel Wood (Westworld, True Blood). A force to be reckoned with, if ever there was one. 

In HBO se tweedelige dokumentêr, nou op Showmax, vertel Wood van haar beweerde mishandelaar, Brian Warner – óftewel die musikant Marilyn Manson – en hoe sy die slagoffer van fisieke, seksuele en emosionele mishandeling geword het. Maar, om geregtigheid te laat geskied, moet wetgewing oor seksuele en gesinsgeweld eers drasties verander. Sy en ander aktiviste beywer hul dan om vir die Phoenix-wet te veg. Dié wet verleng die tydperk waarin slagoffers sake teen hul geweldenaars kan aanhangig maak. 

Dit is ’n onrusbarende dokumentêr wat wys hoe moeilik dit is om nie net mishandelaars te oorleef nie, maar ook die regstelsel en in ’n samelewing wat steeds soms volstrek weier om na slagoffers te luister, wat nog te praat van glo. My bloed het gekook; die trane het van my wange afgerol.

Die dokumentêr het ’n punt van 97% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die konsensus lui: “Evan Rachel Wood is vreesloos in Phoenix Rising, ’n ontstellende openbaring oor mishandeling…en die lang proses van genesing.”

Vanaf 1 April op Showmax.

Ook op my moet-kyk-lys:

Anatomy of a Scandal

Kyk op Netflix vanaf 15 April.

Somebody Somewhere

Kyk op Showmax vanaf 1 April.

The Alpinist

Op Showmax vanaf 8 April.

Russian Doll S2

Stroom op Netflix vanaf 20 April.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies