Menu terloops
In Recaps & Resensies [16 Mei 2024]

‘Plaasjapie’ S2: Verbrande brood en moles in die melkstal


Gaan daar op iemand anders ’n onaangename verrassing wag in die vyfde episode van kykNET se werklikheidsreeks, ‘Plaasjapie?

Deur Annelene Oberholzer

Kyk nou 'Plaasjapie S2'

‘Plaasjapie’ S2: Verbrande brood en moles in die melkstal

Danielle Reinecke (24) van Rustenburg is deur haar Oranjezicht-spanlede huis toe gestuur tydens die laaste Koöperasie-kuier, ten spyte daarvan dat sy vol selfvertroue was dat sy nog op die plaas sou agterbly.  

‘Oggendstond het goud in die mond’

Dis aldus die briefie wat by Groenkloof opdaag in ’n mandjie met ’n heerlike Franse brood, melk en dan natuurlik die plaasbestuurder-lootjies. 

Maar hierdie keer kom die plaasbestuurder-lootjie met ’n uitnodiging om die programaanbieder, Ewan Strydom, by die Koöperasie te ontmoet vir meer inligting oor die volgende uitdaging.

Blue vestig sy hoop daarop dat hy vir die tweede keer die regte lootjie gaan trek. Dit klink asof hy dit geniet om plaasbestuurder te wees. Maar dis Milandie wat die tweede vroue-plaasbestuurder van die seisoen word.

“Ôgh, Milandie is kaptein, spaar my,” sug Etienne.

“Dis presies waarvoor ek gehoop het, want ekke wil net hê my groepie moet die mag hê,” kom dit van Milandie wat nou die “mag van die mes” in haar hand het.

By Oranjezicht het die lootjie op André geval. Hy kry dieselfde uitnodiging om Ewan by die Koöperasie te ontmoet.

Wat brou by die Koöperasie?

Glanssjef Herman Lensing het ’n draai kom maak. Foto: Verskaf

Ewan stel die nuwe plaasbestuurders voor aan glanssjef , kosskrywer en SARIE-kosredakteur Herman Lensing, wat volgens Ewan landwyd as “die ghoeroe van kosmaak” bekend staan. Dit is ook die rede agter sy kuier, want die uitdaging van die dag gaan oor bak.

Elke span moet vir Ewan en Herman ’n regte plaasbrood bak en hulle word toegerus met ’n boks vol bestanddele. Dan is daar lekker ekstra bestanddele wat hulle by hul brode kan voeg, maar elke span kan net twee bestanddele kies – goed soos soetmielies, bier, biltong, vye, pikante pepers en nog meer.

Vandag se wenspan gaan boonop die kans kry om ook ’n beloning uit die Koöperasie te kies.

Herman se broodwenke

“Temperatuur is die heel belangrikste ding. Onthou, brood is ’n lewende organisme. Daai gis hou van liefde, hy hou van aandag, hy hou van geduld,” sê hy.

“Dan, die nommer 1-ding van brood wat my hart gaan steel, is daai veerligte smelt-in-die-mond-tekstuur. As ek my oë toemaak, sien ek die plaas, sien ek die botter wat wegsmelt.

“En daai tekstuur kry jy net deur geduldig te wees met die rys-proses en dis waar tydsbestuur baie belangrik gaan wees,” is Herman se raad.

Herman deel sy broodwenke met André en Milandie. Foto: Verskaf

Keuses, keuses, keuses

Milandie kies vye en mozarella vir Groenkloof se brood. André mik vir die soetmielies en biltong. En daarmee moet die twee koers kies na hul onderskeie spanne, met Ewan wat nie kan wag om die resultaat te proe nie.

Soetmielies vir die gis

André verduidelik die beloning aan sy span en wat hulle moet doen om dit hulle wen te maak. Hy wys vir hulle Herman se resep.

“Ek kon twee bestanddele kies en ek hoop ek het ’n goeie keuse gemaak: soetmielies wat gaan help met die gisproses, wat suiker in het wat soet is mos, en dan het ek gevat biltong,” en dis duidelik uit hul uitroepe dat sy span baie gelukkig is met die keuses.

Dit gis verkeerdom by Groenkloof

Milandie verduidelik die uitdaging aan haar span en noem dat sy vye en mozzarella gekies het. 

“Ek sou meer vir ’n souterige brood gegaan het, so ek sou eerder biltong en kaas gedoen het, of ’n Marmite en kaas,” kom dit van ’n skeptiese Etienne.

Milandie beklemtoon Herman se versugting na ’n brood wat smelt in die mond en hoe belangrik die gis-proses is.

Riaan steek hand op om te help met die brood bak terwyl Zanie net gou eers die koei wil gaan melk. Anelda sal “goeters” rasper en Blue het weet nie wat hy wil doen nie. Milandie sê  hulle twee sal inval waar hulle nodig is. Tussendeur sit Etienne op die stoep en sê niks.

Maar dis ’n ander storie voor die kamera.

“Ek dink met Herman wat nou die bestanddele vir Milandie gegee het, dink ek gaan ek dit nou baie fyn speel. Maar ek meen, dit is nou wat dit is. Nou kan ons net letterlik hoop vir die beste,” sê hy.

Gemeet . . . en dalk te lig bevind?

Die Groenklowers sukkel met die hoeveelhede volgens Herman se resep. Hoeveel gram is hoeveel milliliter? 

Plaasjapie
Nou hoe maak mens? Foto: Verskaf

“Etienne het ôk ’n manier van wanneer hy in leiding is van iets, of in beheer is van iets, dat hy nie graag sal luister na voorstelle nie,” som Blue sake op. “Maar ek dink die span het redelik goeie mense wat weet wat hulle doen en ek dink die idee is daaroor die tipe brood wat ons wil maak.”

Monique is nie seker hoe groot die broodjie moet wees nie. Maar almal is dit eens: die deeg moet tot dubbel die volume rys.

Op Oranjezicht besluit Michelle en Liovian dat hulle hul oog op die brood sal hou. Stanley is nie in die minste gesteur deur brood op die vuur te maak nie. Hy sê hy kook gereeld op die vuur en dan is die kos baie lekker.

Paniekstasies! 

Liovian besef hul deeg rys nie.

“Dit is soos 30 minute nádat ons die brood begin knie het en bietjie laat staan het om te rys, en ons brood rys nie,” laat sy bekommerd hoor.

“Ons het in plaas van 500 g . . . het ons 500 ml meel ingegooi,” kom die besef by haar op. “Die maatbekertjies was in milliliter en nie in gram nie, so ons het vergeet om daai conversion te maak.”

Gelukkig is daar nie te veel paniek by Michelle te bespeur nie. Sy glo hul balletjies deeg gaan die probleem omseil en dan hoef hulle nie weer die deeg te “ontstel” nie.

Terug by Groenkloof lyk dit asof die sjefkursusse wat Monique gedoen het, dalk tot die span se redding gaan kom. Sy het bowendien al ’n paar keer vir die span heerlike brood gebak met baie min bestanddele.

Nadat Milandie die vye in klein stukkies opgesny het om by die deeg te voeg, is die meeste van die spanlede beïndruk met wat tot dusver vermag is. Almal, behalwe Etienne natuurlik.

“Vye gaan ook die brood baie pap maak en ek voel as daar te veel suiker of stroop in die deeg ingewerk word, gaan hy glad nie rys nie. Ek het nie noodwendig ’n sjefkursus gedoen nie, maar alles wat ek geswot het, is hospitality

“Dis hotelle en kos, en launches en kos, en events en kos. En troues en kos. So, ek weet presies hoe werk wat en dalk ’n vytjie bo-op ’n broodjie of ’n bruschetta’tjie of iets soos dit is ’n ander situasie as om ’n vy ín ’n brood te sit,” kritiseer hy die proses, alhoewel hy tjoepstil gebly het tydens die besluitnemingsfase.

Wat maak die twee daar?

“Ek weet nie, hulle twee hardloop net vir my los soos afkophoenders, en ek voel net ons moet óns besluite maak oor wat hulle wil hê. Dis . . . altwee van hulle probeer mekaar uitkry, né? Maar áltwee van hulle is die heeltyd bymekaar,” sê Monique vir Blue toe Milandie en Etienne weer saam koers kies.

Etienne bewerk natuurlik vir Milandie: “Ek gee nie eintlik nou eers om nie, ek wil sien na die volgende vote wie kan ek vertrou en wie nie. En my enigste beskerming ís my pekelpennie,” verkoop Etienne sy leuen aan Milandie en sê vir haar hy gaan nie “met daai ding” huis toe nie.

Tussendeur gesels Blue en Monique oor wie se sout afgetap gaan word as hulle by die Koöperasie-kuier opeindig. Milandie, kom dit van Monique.

Great minds think alike,” kom dit van ’n ingenome Blue en hy voel sy het dit op haarself gebring.

“Dit is ôk ’ie altyd goed om na almal te hardloop en met almal te praat nie want obviously sal die mense beginne praat om te hoor ‘wat het Milandie jou gesê?’ en dit lat mense ongemaklik voel,” sê hy.

‘Deeg’-like stories

Dinge gaan nie so ‘deeg’-lik by Oranjezicht nie. Daar is nie sprake van rys nie en Michelle probeer almal moed inpraat deur te sê die deeg het twee ure om te rys – en dat twee ure nog nie verby is nie. Die deegbolletjies lyk kwalik of daar enigiets gebeur het vandat dit in die swart pot gesit is.

“Eerder dit, as wat ons sit met ’n rou ding,” kom dit van Michelle en almal is op dieselfde bladsy as sy.

’n Gelate Pieter is spyt hy was nie meer betrokke by die hoofbesluite nie. Hy help darem die span om die swart pot op die kole te kry en stapel nog ’n paar ekstra kole op die deksel vir meer hitte.

“Julle kan dalk miskien dalk van daai mooi pers blommetjies pluk want die koek-‘decorator’ wat nou konsuis weet van decorating . . . niemand is hier nie,” is Monique se versoek aan Anelda en Zanie omdat Etienne en Milandie weer elders heen verdwyn het.  

“Hóé vergeet jy om ’n brood te bring?” wil Riaan weet wat in die tussentyd die vuur met fyn houtjies aan die gang hou. “Ek wag op jou vir die proses, ek kry alles reg. Ek kan julle nie forseer nie. En die tyd hardloop uit.”

Eindelik word Milandie en Etienne deur die span nader geroep omdat die brood volgens Blue ’n “decision” nodig het.

“Jy gaan moet kole bo-op sit. Hierdie houte rook net, hulle brand nie,” kom dit van Etienne. Riaan is nie te gelukkig met die inmenging nie.

“Terwyl Milandie rondhardloop om plannetjies te maak met almal, het sy vergeet dat sy die plaasbestuurder is en besluite moet neem en vir ons daaireksie moet gee. So, nou’s dit weer ’n rondspartel, die tyd is kort, die brood moet klaarkom – en ek hoop ons verloor dié uitdaging want dan gaan dit definitief net meer ’n spyker in haar doodskis wees,” kom dit van Blue.

Bleep, bleep, bleep

Treurige tye vir Oranjezicht en kragwoorde vul die lug. Daai deegballetjies bly hardkoppig vasklou aan hul oorspronklike grootte. Van rys is daar geen sprake.

Sh*t, nou steek ons die hele span in die skande,” kom dit van ’n ontstelde Michelle.

“Dis lekker bunny-tjies, klein buns,” probeer Stanley die span moed inpraat. Liovian is verlig hulle het hul aanbieding vooraf verfyn, maar oor die smaak van die klein broodjies kan sy nie kommentaar lewer nie.

André kies koers na die Koöperasie met hulle offerande onder luide aanmoediging van die oranje span.

Op Groenkloof sit Etienne hand by om die brood uit die pot te lig en Milandie is baie beïndruk met die geur daarvan.

“Al wat my so ’n bietjie laat stres, is nou maar net die . . . of dit reg gaar is,” laat hoor sy. 

Sy en André kom gelyk by die Koöperasie aan en sit hul gebak baie versigtig op die toonbank voor Ewan neer.

Wat dink Herman?

Ewan gee ’n lang, uitgerekte fluit en roep Herman nader – en hy reageer deur te sê: “Dis die eerste keer dat iemand my soos ’n skaap roep!”

Oranjezicht se bunny-tjies word eerste geproe. Ewan sê dis ’n bietjie gebrand toe Herman opmerk dat daar ’n hitte-probleem was.

“Jinne, dis baie ordentlik . . . Bietjie gebrand?” kom dit laggend van Herman.

Hy proe wel daaraan en sê dis nog baie rou en dat dit duidelik is dat die brood nie gerys het nie. Tog voel hy die biltong en die mielies werk goed saam.

“Die vye roer my diep,” sê hy toe hy Groenkloof se vye-en-mozzarella-brood bydam. En hy dink hul brood is beautiful.

“Dit kort definitief ’n bietjie sout, maar definitief hier was meer geduld betrokke gewees. So, ek dink beter tydsbestuur en dis ’n brood wat ek sal geniet op die plaas. Dis ’n plaasbrood,” is Herman se gevoel en hy kies Groenkloof se brood as die wenner.

Groenkloof se beloning

Milandie vertel dat sy moes kies tussen biltong, lekkers, ys vir elke dag, ’n “grasmasjien-snyer – daai elektriese goed wat die gras so sny” [randsnyer oftewel “weed-eater”] en ’n watertenk wat op ’n kruiwa pas.

Sy het die watertenk gekies en maak dit duidelik aan die span: Solank Milandie in die span is, solank het hulle die gebruik van die watertenk . . .

“Milandie dink die watertenk wat sy gekies het, sal ons laat anders voel oor haar. Maar, come on, ons kan sonder Milandie klaarkom en ons kan sonder daai watertenk klaarkom. Ons sal nie een van hulle twee mis nie,” erken Blue.

Geluk by die ongeluk

“Ag, jirre, hy lyk nie happy nie,” is Michelle se reaksie toe André stadig-stadig aangestap kom met hul brood. En dis in die kol.

“Die beloningsuitdaging het ons verloor. Onse yeast het nie geaktiveer nie, dit het nie gerys nie en die ander span s’n het so bietjie meer as ons s’n gerys,” vertel hy die span. 

“Gelukkig was dit net ’n beloningsuitdaging, so laat dit ons motiveer by ’n uitskopuitdaging laat ons daar weer alles insit,” probeer hy die span motiveer.

By die dam betrek Pieter vir Stanley en sê: “Ek het vir jou gesê dis ’n groot verantwoordelikheid om daai vuur te hardloop. So, as daar so-iets is en ek sê vir jou ‘Stanley, dis ’n groot verantwoordelikheid’, dan moet jy maar net vir my sê dan moet ek ’n handjie bysit of so want ons moet net mooi fokus.”

Stanley hou nie daarvan as hy geblameer word vir goed nie. Hy sê as die brood mooi gerys het, sou hy die vuur beter hanteer het. Hy was gedruk vir tyd, vandaar die gebrande deel van die brood.

“Ons help mekaar, dis hoekom ons hier is. Darem is ons nie drama queens nie,” is sy antwoord aan Pieter.

Karring-karring vir uitskop-tyd!

Ewan ontbied beide spanne na die Klein Werf, maar benadruk dat al hul take afgehandel moet wees en al die diere van kos en water voorsien moet wees.

Die uitdaging? Die spanne gaan leer hoe om botter te maak. Die beste melkmens van elke span moet die koeie gaan melk. Daarna moet die vol emmer melk na Ewan geneem waar 4 liter room aan die span oorhandig word. Die res van die span gaan dan botter maak. 

Daar gaan ’n paar karringopsies vir elke span wees en as botter gevorm word, moet dit gewas word. As die water skoon is, is die botter korrek gewas. Die eerste span wat 500 g kwaliteit botter kan lewer, wen die uitdaging. Die ander span gaan by die Koöperasie kuier . . .

Moles met die melkkoei!

Plaasjapie
Zanie het gemelk dat dit bars! Foto: Verskaf

Pieter en Zanie is die twee wat die melkemmers gaan volmaak en Ewan soek 10 liter van elkeen!

Groot moles toe Pieter se melkemmer deur die koei omgeskop word en heelwat melk verloor word. Pieter moet melk dat dit bars om by Zanie op te vang. Sy kry eerste die room.

Anelda, Riaan en Etienne gaan karring vir Groenkloof. En Ewan besluit om Oranjezicht ’n billike kans te gee. Vir ’n halwe emmer melk sal hy vir hulle die helfte van die room gee sodat hulle intussen kan begin karring. As hy nog ’n halwe emmer kan lewer, kry die span die res.

Pieter se koei speel steeds nie mooi saam nie en hy word vol melk geskop. 

Michelle is eerste by die skaal, maar die naald haak vas op 400 g. Dis wel Groenkloof wat met hul volle kwota room en melk die naald tot 530 g opstoot!

Stanley probeer vir Pieter troos: “Dis nie jou skuld nie, jy’t nie gesê die koei moet vol k*k wees nie.”

’n Moeilike besluit

Dis ’n moedelose Oranjezicht-span wat huiswaarts keer. ’n Emosionele Pieter besluit dis tyd om homself onder die bus te gooi en moedig die ander aan om hom uit te stem. Maar hy kry baie steun van almal, in besonder van André se kant.

“Ek glo hy’s nog ’n bietjie harder op homself as die res van ons. Hy het al voorheen met die beeste gewerk, meer gereeld. Hy’s die persoon wat die beeste eerste kalm gekry het, die persoon wat hul eerste begin melk het . . . vir almal van ons begin wys hoe om dit reg te kry en ek dink dis hoekom dit vir hom so hard gevat het.”

Maar Stanley wil die persoon wat die span die uitdaging gekos het, uitstem. 

“Hy het my in die oë gestaar om te sê die verantwoordelikheid wat ek geneem het van die broodjie te bak . . . Asof dit my skuld was dat die vuur te warm was. Noudat die koeie lelik was, nou’s almal ‘ag sjym, Pieter het seergekry’ maar Pieter was te jumpy om die koeie. Die koeie het dit aangevoel.”

Gaan André met sy hart of met sy kop besluit? Sy kop sê vir hom Pieter moet gaan, maar nie omdat hy hom blameer vir die moles met die koei nie. Maar Pieter het immers gevra hulle moet vir hom stem . . .

“As ek die koeie moes melk soos Pieter dit moes doen, as ék bietjie jumpy was, wat hy was . . . sou hy daar aan die kant waar ek gestaan het, op my geskree het en gevloek het en tekere gegaan het deur om te sê ‘moenie dit doen nie! Doen eerder dit’ want hy doen dit die heeltyd.

“As hy so tekere gaan in ligte situasies, wil ek nie weet hoe gaan hy panic as dit ’n moewiese ernstige situasie is nie,” kom dit van Stanley.

Terwyl die moraal tuis oor die algemeen laag is, help die botter darem om van die wonde te genees.

’n Nuwe naam word rondgegooi

Met die fokus nou op Pieter en dan Stanley, wat erken hy’s benoud oor wat voorlê, is dit Michelle wat geheel en al vanuit ’n ander hoek kom. Sy stel aan Pieter voor dat hulle twee vir Liovian stem omdat sy en André ’n baie hegte band gevorm het. Daarna vir Stanley.

“En dis hoe ek en jy in die game bly,” sê sy vir Pieter. En sy noem ook dat sy bekommerd is dat Stanley sy pekelpennie gaan gebruik. 

André sluit by hulle aan en sê hulle moet bly soos wat hulle van die begin af was: Pieter, Michelle, Liovian en hyself. Hy is ook bekommerd dat Stanley sy pekelpennie gaan speel.

Hy vertel op sy beurt vir Michelle dat hy sy pekelpennie iewers gesit het en dat hy nie eers weet waar dit is nie. Hy hap-hap aan die Liovian-aas wat Michelle voor hom rondswaai.

Koöperasie-kuier

Die pekelpennie se prys bly styg – en tydens hierdie kuier beloop dit R40 000 en die pryspot is reeds verminder tot R915 000.

Twee soutemmertjies word eenkant gesit en die “mag van die mes” is ingespan. Liovian en Stanley word deur die twee emmertjies verteenwoordig.

“Die persoon wat nie hul sout werd is nie, is Stanley,” kom dit van Ewan.

Plaasjapie
Totsiens, Stanley. Foto: Verskaf

Stanley groet

Sh*t happens,” sê Stanley. “En ek sal definitief in die toekoms weer so-iets doen. En ek is bly dat ek deel was van Plaasjapie en ek het my álles gegee, hard gewerk, ek het my beste gedoen, gedoen wat ek kon doen.

“Somtyds draai dit nie uit soos wat ’n mens dink dit gaan uitdraai nie. Maar ek is nog jonk en ek het ’n bright future ahead en ek dink op so ’n jong ouderdom om die bietjie wat mens het, te waardeer, is wonderlik.”

Plaasjapie
Stanley moes groet. Foto: Verskaf

Volgende keer

Het Pieter dalk sy hand oorspeel tydens die Koöperasie-kuier? En Milandie dring daarop aan om Etienne se pekelpennie te sien. Die wipwa-verhouding tussen die twee mag dalk ’n verrassing of twee oplewer.


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies