Menu terloops
In Recaps [19 Feb 2026]

‘Op my eish!’: ‘I’m not everyone’s cup of tea. I’m champagne, baby!’


Die naels is uit en die vroue se vuil wasgoed uitgehang in dié week se episode van kykNET se maatsoekreeks, ‘Op my eish!’.

Deur Annelene Oberholzer
‘Op my eish!’: ‘I’m not everyone’s cup of tea. I’m champagne, baby!’

In die vyfde episode van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish! met Ruan Smith, was Maritha die tweede persoon wat lippe gekruis het met die bonkige voormalige rugbyspeler. En net soos met die eerste soenery tussen hom en Cindy in die vierde episode, het die twee ook besluit om dit vir eers geheim te hou. 

Op my eish
Maritha en Ruan se lippe het nie in dié episode weer kennis gemaak nie… Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

Maar kykers weet nou al teen dié tyd dat daar ’n spreekwoord is wat lui dat ’n geheim tussen twee mense net ’n geheim bly solank die een persoon dood is… En almal is nog springlewendig by Kilima.

‘Sip-n-slide’

Almal moes aan hierdie aktiwiteit deelneem en JP het sommer vroeg gedreig dat al die “budgies” en “Faffies” uitgehaal en gewys moes word. Maar toe die reëls van die spel verduidelik word, was dit duidelik dat die sip-kant van die speletjie party deelnemers se bene gaan laat wankel: Mors op die waterglybaan terwyl jy ’n vol drankie probeer balanseer en daar moet gedrink word. Haal Ruan met ’n vol drankie aan die ander kant van die waterglybaan en hy moet ’n sluk vat. 

Op my eish
Die sip-n-slide-uitdaging was definitief meer slide as sip...

Uiteenlopende taktieke het gevolg, maar toe Charlene dit gewaag het om op die baan te loop (sonder om te mors) het sy haar die argwaan van Cindy op die hals gehaal. Tegnies kroek sy mos . . .

Hoe later, hoe natter. En Ruan met sy kaal bolyf het baie beslis die meisies se aandag getrek. Toe hy nog dink hy ontspan in die glybaan, het een meisie dit as ’n gulde geleentheid gesien om ’n kans te waag. “Toe tackle ek daai man onderstebo, agterstevoor in daai water in.” 

Op my eish
Charlene se tegniek het vir veral Cindy ontstig.

Ja, teen die tyd weet kykers natuurlik watter meisie kan iemand plettervat. Cindy, Cindy . . .

“Ek wonder of die man nog kan kinders hê?” wou Charlene weet na afloop van daai woeste plettervat. As dit op die rugbyveld gebeur het, sou Cindy waarskynlik ’n geel kaart wat opgradeer kon word na ’n rooie, ontvang het vir gevaarlike spel.

Op my eish
Ná afloop van Cindy se woeste plettervat, wou Charlene weet of Ruan nog sou kon kinders hê…

Toe die spannetjie in die spa gaan rondhang het, is daar oor koeitjies en kalfies gesels. En verskeie dubbelsinnige opmerkings wat sommige laat giggel en ander ongemaklik laat voel het.

Wat?!

Ruan het gedink dat die ruil van kamermaats waarskynlik die vrede onder die meisies sal bewaar. Wie wil ’n kamermaat met drie bokse en ses tasse hê? Nie Hermi nie – en haar verwysing na Cindy se hope bagasie het tot ’n redelike rimpeling in die water gelei. 

Die twee ken mekaar al baie lank vanweë modelwerk en skoonheidskompetisies, maar hierdie voorstel van Ruan het hulle beslis onkant betrap.

‘Fifty Shades of Whispers’

JP het aangekondig dat die aand se tema iets in die lyn van Fifty Shades of Grey gaan wees. 

Toe klap die tonge eers. Gelukkig nie swepe nie… Tog was die opdrag aan die meisies om iets gewaagd aan te trek. En elkeen het twee keuses gehad: Óf iets in Ruan, wat geblinddoek was, se oor te fluister óf hom uitdaag om iets te doen.   

Op my eish
Charlene het haar serpie ingespan vir dié meer gewaagde speletjie…

Die fluistery het gewissel van eerlike stellings tot sleutelwoorde wat hy in alle waarskynlikheid aan die fluisteraar sou kon koppel. Maar Charlene het beslis die fliek baie goed onthou – en sy’t haar eie serpie saamgebring. En daarna het die fluisteringe al hoe meer riskant geraak.

“Van waar ons gesit het, het dit gelyk of sy hom dik vry,” het dit van ’n ontstigte Saartjie gekom toe Cindy vir Ruan behoorlik om die nek beetgekry het. Ruan het dit kalm gespeel ná die tyd en gesê dit hy was nie seker of dit ’n soen of ’n kopstamp was nie.

Op my eish
Cindy – en haar tong – het nie op haar laat wag nie.

“Jô, as daar nie meisies was nie, het ek letterlik wéér my tong in sy keel afgedruk,” het Cindy op haar beurt verklap.

Toe het die tyd aangebreek om uit te vind hoe goed Ruan die meisies ken. Met die blinddoek nou verwyder, moes hy hulle volgens hul optrede tydens die sessie identifiseer.

Die soen is uit die sak, of is dit?

Terwyl Ruan voortgeploeter het deur te probeer uitwerk wie watter nommer was tydens sy geblinddoekte sessie, het hy sy mond liederlik verbygepraat. 

“Cindy, jy’t my gesoen,” het hy bekend gemaak. Die woorde het skaars sy mond verlaat toe die vraag gevra word: “Hoe het jy geweet dit was Cindy?”.  

Praat van in die kopligte vasgevang!

“Want sy kyk weg, sy lyk skuldig,” het hy hulle geheim weer netjies terug in die sak gesit.

Die lang naels kom uit

Net toe almal weer rustig is, los Ruan die bom – daar gaan beslis kamers geruil word. En hy sal help pak. Sy plan was om kamermaats te ruil sodat van die meisies wat nie juis van mekaar hou nie, ’n kamer moet deel.

Apparently is daar mense wat nie van my hou nie,” het Charlene laat hoor, en toe Ruan wou uitvis waar sy dit gehoor het, het sy vinnig reageer: “Mense, ek weet ek is blond, maar darem is ek nie doof nie.”

Saartjie was skoon die hoenders in vir Charlene want sy wou weet hoekom is daar gewag tot waar almal bymekaar is en die tyd saam met Ruan geniet voordat sy die vuil wasgoed uitgehang het.

Op my eish
Daar het effe twis-vonke tussen Hermi en Charlene gespat.

En daar het Hermi ook tot die stryd toegetree en vir Charlene gesê sy praat in sirkels. Met ’n klipharde oogrol en ’n talk to the hand-gebaar het Hermi soort van om verskoning gevra. Maar die vonke het bly spat.

Dit het so warm om die vuur geraak dat min van die meisies registreer het dat hulle nie kamermaats gaan ruil nie.

En Charlene het die laaste sê: “Almal gaan nie van my like nie. I’m not everyone’s cup of tea. I’m champagne, baby!

‘Easy, Tiger’

Ruan het weldra genoem dat hy met Charlene wil gesels. Eenkant. Glo omdat hy nog nie juis tyd met haar spandeer het nie. Hy’t sommer met die deur in die huis geval en gesê hy dink sy word misverstaan, en dat sy nie haarself so baie hoef te verduidelik nie.

Op my eish
Ruan het sy hart teenoor Charlene oopgemaak.

Toe hy by haar wou hoor of sy darem “ietsie” voel, was haar onmiddellike reaksie: “Easy, tiger, week one!”

“Nee man, ek bedoel nie f*kken trou nie!” het hy homself gou verdedig. En toe die bom: “Nee f*k, ek gaan definitief nie weer trou nie.” 

Nou hoe dan nou? Charlene het besluit om haar siening oor die huwelik met hom te deel want dis iets waarin sy glo. “Ek glo die Here het dit design, en omdat dit Sy design is, dink ek is dit baie mooi.”

Ruan het duidelik baie op die hart gehad en hy het op sy beurt baie persoonlike inligting met Charlene gedeel rondom sy ouers en die skeuring tussen die familie.


Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
As jy hou van tranetrekkers
13

Wat om te kyk: Die beste tranetrekkers om jou hart te ontdooi

Romanse? Check. Voorspelbaarheid (en tog ook nie). Check. Tranetrekkers? Check.

Meer
Sien alle opsies