Menu terloops
In Recaps [12 Feb 2026]

‘Op my eish!’: ’n Man is nie ’n eiland nie – en ’n spesiale aand eindig in ’n fiasko!


Verlede week het die vroue mekaar fisiek op die veld getakel, maar in vandeesweek se episode het die vroue mekaar met snedige kommentaar en beledigings probeer plettervat. En so tussendeur het Ruan nog ’n vry-tjie ingepas…

Deur Annelene Oberholzer
‘Op my eish!’: ’n Man is nie ’n eiland nie – en ’n spesiale aand eindig in ’n fiasko!

Wilder as die wildtuin. Dit was hoe die touch-rugby en ’n romantiese piekniek by lanterns iewers in die veld afgeloop het in verlede week se episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! 

Eers het Cindy gewys sy kán enige meisie plettervat op die veld – en later het die voormalige rugbyspeler Ruan Smith ook met haar vaardighede weg van die veld kennis gemaak toe die twee vurige soene uitgeruil het. 

Maar gaan Ruan se kierankies in hierdie episode heerlik uitbraai? Die man het mos kluitjies aan Caitlin verkondig toe hy ontken het dat daar al reeds lip-op-lip-aksie was. Die liefde is immers ’n kontaksport, of hoe? 

En elke sport het mos maar sy beserings – soos Chantal moes ervaar toe die eindfluitjie vir haar geblaas het. Dan . . . hoe gaan Saartjie, oftewel Kaartjie soos Cindy haar summier gedoop het, in die losgemaal om Ruan se hart vaar? Ruan het alreeds besluit hy wil haar van naderby leer ken.

Ja, op Kilima gaan daar nog harde klippe gekou word. Gaan iemand ongeskonde hiervan afkom?

Wie verdwaal en wie word gevind?

Charlene, Minette, buiteperd Saartjie en Maritha het saam met Ruan na Amorentia-landgoed en kwekery sowat 25 km buite Tzaneen gegaan waar hulle hul pad na hom deur ’n ware doolhof moes vind.

Op my eish Ep 5
Charlene, Minette, buiteperd Saartjie en Maritha moes hul pad deur ’n doolhof na Ruan vind. Foto’s: Skermgrepe

Charlene was uit haar vel van blydskap want vir die eerste keer het hy haar gekies om saam te gaan – en nie as ’n vuller omdat Caitlin nie die vorige uitnodiging kon aanvaar nie. Die landgoed vol berge en dale het almal se asem weggeslaan. Om nie van die doolhof te praat nie. 

Dis gebaseer op die Hampton Court-doolhof en Engeland wat in 1520 deur die bekende (of dalk berugte) koning Henry VIII ontwerp is, die einste koning wat 6 vrouens gehad het. Gaan dit Ruan inspireer om ook ses meisies te kies? 

Op my eish Ep 5
Doolhof of die pad na Ruan se hart?

Ongelukkig nie. Net een het daardie dag ’n afspraak met hom gewen – en dit was die een wat hom eerste in die doolhof gevind het.

Gehok?

Tuis by Kilima kan die res nie help om oor ’n glasie of twee langs die swembad te bespiegel waarmee die viertal en Ruan besig was nie. Maar hoekom is Cindy gehok? Daar word nie verder daarop uitgebrei nie. 

En toe iemand wou weet wat hulle van die nuwe meisie gedink word, het ’n baie ongemaklike stilte gevolg. Een na die ander het toe erken hulle het gaan “navorsing” doen om uit te vind of Saartjie haar regte naam is. Party het gedink dis oulik dat sy haar naam van “Sarie” na “Saartjie” verander het, maar Cindy was geensins beïndruk nie. 

Op my eish
Skindersessie langs die swembad.

“Nee, dit klink ’n bietjie oud. Sarie . . . dis tannie Sarie,” het sy sydelings bygevoeg. So tussen die gesels deur was daar gevra hoe hulle sou voel as daar nog ’n nuwe meisie opdaag.

“As daar een girl hier inkom . . . soos wat sy inkom, so bliks*m ek haar hier uit!” Ja, Cindy was nie een wat terughou nie. En sy het gesê sy jeuk al lankal vir ’n lekker geveg.

‘Ek hou nie van verloor nie’

Charlene was gou om op te merk sy’t nêrens in haar kontrak gesien van sommetjies maak nie – want hoe dan anders sou sy die doolhof kon takel? 

Maritha het dit op haar beurt duidelik gemaak dat sy nie so sterk kompeterend is soos ander mense nie, maar sy hou glad nie van verloor nie. Maar watter meisie het die regte ingang uit vier moontlike ingange gekies om by die “prys” uit te kom?

Maritha se besluit om regs te draai toe Minette links gedraai het, was in die kol. Want net daar in die middel van die doolhof het Ruan, kortbroek en al met ’n groot glimlag op haar gewag. Die lieflike piekniek tussen die bome het beslis gehelp om die verloorders te troos. Daar was mos ekstra tyd met Ruan as deel van die pakket.

Op my eish Ep 5
Maritha se besluit om regs te draai, was in die kol en sy het die doolhof-kompetisie gewen.

’n Klip in die bos

Maar was Ruan voorbereid op wat uit daai einste bos sou uitspring toe hy genoem het dat hy spanning opgetel het onder die groep die vorige aand?

Maritha het vertel dat daar al goed oor haarself gesê is wat glad nie waar is nie en daarom het sy tot nou toe haarself uit sekere gesprekke gehou. Charlene het by haar aangesluit en gesê dat mense reeds al verskillende konneksies begin waarneem.

Ruan het erken dat hy in die verlede al sy Moses teëgekom het omdat dit lyk asof hy flankeer, maar dit was glad nie sy bedoeling nie. Hy het wel vir Minette en Charlene gekies vir eenkant-gesels en beloftes gemaak dat Saartjie weldra ook daardie geleentheid sou kry.

By Charlene wou hy uitvis of sy ’n konneksie met hom voel. Natuurlik, het sy reageer. Daar’s selfs ’n bietjie chemistry tussen hulle twee, glo sy. Volgens Ruan was daar klagtes dat hy te veel tyd met Charlene spandeer.

Op my eish Ep 5
Charlene het uiteindelik bietjie alleentyd met Ruan gehad…

“Kyk, ek is gemaklik met jou,” het hy vir haar gesê – waarop sy dadelik reageer het: “Soos met daai kussing?” Dis natuurlik die stoelkussing wat hy styf teen hom vasgehou het. 

“Jis, ek wens ek was daai kussing,” het die versugting van haar kant gekom. Maar toe sy hom vra of hy nog kinders wou hê, het dit gelyk asof daar ’n emmer koue water oor hom uitgegooi is. Nadat hy so bietjie ge-hum en -ha het, het hy erken dat hy nie nou nog kinders wou hê  nie.

Ná heelparty komplimente vir Charlene, was dit Minette se beurt om onder Ruan se goue tong deur te loop.

“Jy’s anders, jy’s fun . . . net daai glimlaggie van jou. Jy raak soos ’n klein kind . . . maar dis f*kken oulik,” het die stroop geloop. Ook hier het Ruan erken dat daar potensiaal is. Net soos met Charlene.

Wat gaan gebeur as die “klippe” met mekaar begin praat en notas gaan vergelyk?

Op my eish Ep 5
Nes met Charlene, was Ruan ook vol mooi komplimente vir Minette toe dit haar beurt was om eenkant met hom te gesels.

’n Kombers, ’n kabbelende riviertjie en heerlike jenewer

“Wil jou pa my al bliks*m?” wou Ruan by Maritha weet toe hy haar uitvra oor haar gereelde kontak met haar ouers. Hierdie romantiese piekniek mag hom dalk motiveer . . . want kort voor lank was daar meer as bloot net ’n piksoentjie tussen die twee op die kombers.

Op my eish Ep 5
Gaan Ruan ook oor dié soen met Maritha jok soos oor sy soen met Cindy?

“ ’n Man is nie ’n eiland nie, en ’n soen kan definitief baie vertel van ’n meisie en of daar ’n konneksie is, verseker,” was Ruan se verdediging.

En, net soos met Cindy, het die twee besluit om vir niemand daarvan te vertel nie. Maar, het Ruan glo bygelas, as iemand hom gaan vra of hy al iemand gesoen het, gaan hy eerlik wees. Hmm? Soos verlede week toe Caitlin wou weet of hy al iemand gesoen het?

Vroegoggend-besoek bring ’n wending

Na ’n skynbaar slapelose nag het Caitlin vroegoggend aan Ruan se deur gaan klop. Sy het iets groot op die hart gehad. Sy het oorweldig gevoel en het gedink om die reeks te verlaat sodat iemand anders wat meer teenwoordig as wat sy kan wees, die geleentheid kry om Ruan beter te leer ken.

Op my eish, Ruan Smith, Caitlin
Caitlin en Ruan groet ná sy hom meedeel sy gaan die reeks verlaat.

“Budgies” en bikini’s

Wingman JP het die meisies vertel dat hulle pret gaan hê. Daarvoor het hulle ’n paar dingetjies nodig: swembrille, vlerkies, drankies en . . . net daar het hy sy kortbroek laat sak en in sy Faffie-Speedo die uitnodiging voltooi. 

Hy het dadelik vir hulle aangesê om hom in die oë te kyk, maar hoe dan nou gemaak as die budgie smuggler so trots-Suid-Afrikaans voor hulle gepryk het. Al wat Cindy wou weet was of hy nie ’n groter piesang kon uitruk nie. Sy het in alle waarskynlikheid nie na die vrugtebak verwys nie.

Ironies is die woord “budgie smuggler” afkomstig van Doer Onder. Dis gelykstaande aan wat Suid-Afrikaners as Speedo’s ken en natuurlik hoef daar nie verder verduidelik te word hoekom juis ’n “budgie” nie . . .

Die vraag wat (amper) alles ontspoor het

Charlene het nie op haar laat wag toe daar tydens speletjiestyd ruimte gegee is om vir Ruan enigiets te vra nie.

“Het jy al ooit iemand hiersô in die regte lewe voor die show ontmoet?” wou sy weet. Vir ’n oomblik het Ruan gelyk soos ’n bokkie wat in die hoofligte vasgevang is. Maar hy moes eerlik wees en hy het “ja” gesê.

Van hulle wou weet of hy die persoon gevra het om in te skryf. Hoekom het Cindy skuldig gelyk? Dit was toe al die tyd Bejanke.

Maar Ruan het gou die potensiële ontploffing in die kiem gesmoor toe hy vir die groep vertel dat hulle mekaar nog nooit fisiek ontmoet het nie. Soos in persoon nie. Hulle ken toevallig dieselfde pêl en hulle het almal saam op Facetime gesels.

Kleiner kan die wêreld nie. Minette ken dieselfde gemeenskaplike vriend en vir haar was Bejanke se teenwoordigheid op die stel glad nie verdag nie.

Toe tref dit die waaier

Op my eish Ep 5
Ruan wou by die vroue weet wie so sleg praat van mekaar.

Maar Ruan was nog lank nie klaar met potensiële drama nie. Hy wou weet wie skinder en sleg praat van mekaar.

“Weet almal wie die persoon is wat k*k praat?” het hy voortgedreun. 

Cindy het vertel dat daar twee meisies is wat “teamie-uppie” is en “hulle praat k*k van almal en hulle hou hulleself so . . .” en daarmee het sy haar hande onder haar ken ingevou en die aller-skynheiligste glimlaggie gegee. En sy het gedreig dat sy almal dophou om seker te maak hulle antwoord reg toe Ruan wou weet of dit persoonlike aanvalle was.

“Geniet jy jou wyn, Cindy,” het dit van die sykant af gekom. Minette, Charlene en Maritha het langs mekaar gestaan en ontken dat daar spanning tussen hulle drie is.

Aan die ander kant was dit Hermi, Bejanke en Cindy wat duidelik anders gedink het. Agterbaks, tweegesig, oneerlik, beledigend was maar net ’n paar van die woorde wat Cindy na hulle kant toe geslinger het.

“Hulle moes vir my nog f*kken tequila gegee het,” was Hermi se reaksie.

“Ek is nie hier vir kinderk*k nie. Jammer,” het dit van ’n emosionele Charlene gekom. 

Die aand was ’n fiasko van gevoelens… Behalwe vir Ruan wat die geleentheid benut het om vir Saartjie beter te leer ken.

Op my eish Ep 5
Terwyl Cindy beledigings rondgeslinger het, het Ruan sy tyd benut om vir Saartjie beter te leer ken.

Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies