Menu terloops
In Sepies [19 Feb 2026]

Ontmoet die eks wat wraak soek en amok maak in ‘Diepe Waters’


Die gevaarligte flikker, maar sal ‘Diepe Waters’ se geliefde Pam betyds besef haar man se eks is op ’n wraaktog? Die aktrise Eve Rasimeni vertel meer oor haar uittog op dié telenovela as Siseko se gewese verloofde, Vuyelwa Dlamini.

Deur Redaksie

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

Ontmoet die eks wat wraak soek en amok maak in ‘Diepe Waters’

Wie sal nou so sprokiesmooi troue soos die van Pam (Tracey-Lee Oliver) en Siseko (Chumani Pan) sommer kan vergeet? Byna ’n jaar later praat die inwoners van Boskruin nog oor hoe dié spesiale dag hulle in vervoering gehad het. Maar vir sommige mense – wat nie eers op die gastelys was nie… – is dié troue ’n teerpunt. Vra maar vir Vuyelwa Dlamini (Eve Rasimeni), Siseko se eks-verloofde.

Siseko en Vuyelwa se familie was besig met lobola-onderhandelings toe hy vir Pam ontmoet en hul toekomstige huwelik, wat deur die familie gereël is, beëindig het.

“Ek hou regtig daarvan dat hierdie kulturele aspek tot die storielyn bygevoeg is. Dit gee vir ons meer diepte in terme van hoe ons kulture ons verhoudings werklik beïnvloed,” vertel Eve.

Eve Rasimeni as Vuyelwa Dlamini, Siseko (Chumani Pan) se eks-verloofde. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Gevaarligte flikker in dié storielyn

Deur gesprekke met Vuyelwa se jarelange vriendin Akhona (Katlego Mohoaduba), leer kykers dat die verbrokkeling van Vuyelwa en Siseko se verlowing, en die skande wat dit vir haar familie veroorsaak het, Vuyelwa tot wraak gedryf. Pam móét eenvoudig betaal vir die leed en vernedering wat sy veroorsaak het.

Die intrige begin met Pam wat aanvanklik genader om te help om ’n nuwe modereeks, Mhlaba, vanuit Vuyelwa se suksesvolle bestaande maatskappy, V Fashion, bekend te stel. Maar kykers kon sommer vinnig sien iets is nie pluis nie.

En selfs ná Siseko se waarskuwings oor Vuyelwa, voel Pam dat sy eenvoudig net nie hierdie geleentheid deur haar vingers kan laat glip nie. 

“Om die antagonis te wees was ongelooflik. Ek is ’n lighartige persoon wat dikwels meer in komedie speel,” vertel Eve. “Wanneer jy in iemand anders se skoene klim, weet jy jy tree in iemand se storie in. Jou eerste prioriteit is om reg te laat geskied aan die karakter, ongeag hoe sy ontvang sal word,” meen sy.

Volgens Katlego, wie se karakter vanuit die staanspoor weet van Vuyelwa se slinkse plannetjies, bevraagteken dié storielyn ook waar die grense van vriende se lojaliteit teenoor mekaar is. “Daar is beslis lyne en persoonlike grense wat oorskry word,” sê Katlego.

Diepe Waters, Siseko
Chumani Pan vertolk die rol van Siseko.

“Dit was senutergend om aan ’n storie te verfilm waar mense absoluut mal is oor die karakters teen wie jy vyandig moet optree.”

Dit sou dalk ietwat makliker gewees het om Diepe Waters se geliefde paartjie te wil leed aandoen, as sy nie self so mal oor Tracey-Lee en Chumani was nie, voeg sy by.

Eve stem saam. “Dit is altyd vreemd en ongemaklik om by ’n gevestigde stel in te stap waar jy anders is, maar almal het ons so welkom laat voel,” verduidelik Eve. Die Diepe Waters-span het haar dadelik soos deel van die familie laat voel.

Diepe Waters
Pam (Tracey-Lee Oliver) het skynbaar nie al die gevaarligte sien flikker met Vuyelwa (Eve Rasimeni) se toetrede tot haar lewe nie…

Volsirkeloomblik

Om aan Diepe Waters te verfilm, was ’n soort volsirkeloomblik. Haar eerste groot deurbraak in die vermaakbedryf was in Z’bondiwe. Dié e.tv-reeks is ook deur Penguin Films, die produksiemaatskappy agter Diepe Waters, vervaardig.

Eve het ook al voorheen saam met Chumani op die mediese dramareeks Wounds gewerk.

Dit was vir Eve lekker om saam met gesoute akteurs soos Tracey-Lee en Chumani hierdie rol en storielyn haar eie te maak – veral in Afrikaans, sê sy. As boorling van Harrismith het sy kleintyd Afrikaans geleer, en kon sy nou die geleentheid aangryp om Eve so geloofwaardig moontlik te vertolk.

“Die mense van Harrismith is ongelooflik. Dis einste hulle wat vir my laat weet: ‘Ons kyk vir jou nou op Diepe Waters!’”

Eve is ook tans op die kassie in die splinternuwe SABC2-sepie Pimville te sien.


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies