Lanklaas het ’n Amerikaanse president hoofopskrifte wêreldwyd gehaal soos wat die oënskynlike los kanon, Donald Trump, dit regkry. Suid-Afrika ingesluit. En in die nuutste episode van Onthul, word uiteenlopende opinies blootgelê. In Onthul: Trump-tornado tref Suid-Afrika word daar gekyk na die dekade-lange geskiedenis en ook vriendskappe wat tussen ons land en die groot Verenigde State van Amerika geheers het. Ekonomiese ooreenkomste, toerisme, sosiale ooreenkomste.
Is die huidige Amerikaanse president ’n “politieke barbaar wat nie weet wat in die wêreld aangaan nie”, of, “ ’n lekker ou om mee te kuier”? Die lys van eerstes agter sy naam is nie almal benydenswaardig nie. Hy was immers die eerste president van die Land van Vryheid wat aan misdaad skuldig bevind is. “He is done,” het die nuusagentskappe dit uitgegil. Maar nee, noem hom liefs Teflon Trump, want hy het oënskynlik ongeskonde daarvan afgekom en is nog steeds Amerika se 47ste president.
Lourensa Eckard, aanbieder van In Gesprek, erken sy het in 2016 met die aanvang van sy eerste ampstermyn gedink dis die einde van die wêreld. Selfs komediant Trevor Noah het dieselfde daaroor gevoel.

Prof. Johann Rossouw, politieke filosoof: Universiteit van die Vrystaat glo Trump wil die instansies, waaronder Harvard Universiteit en die staatsdiens, meer verantwoordbaar en doeltreffend maak. Hy dink die Trump-administrasie wil binnelands ’n konserwatiewe rewolusie deurvoer.
“Maar ’n rewolusie hoef nie bloed op die strate te hê nie, maar dit het net so ’n ingrypende impak omdat dit mense se lewens so geweldig raak,” sê prof. Jo-Ansie van Wyk, politieke wetenskap: Unisa.
Van die kenners, meningsvormers en belanghebbendes wat aan dié Onthul-episode deelneem, sluit in:
- Alida Kok (Politieke wetenskap: Akademia)
- Prof. Piet Croucamp (politieke ontleder: Noordwes Universiteit)
- Prof. Jo-Ansie van Wyk (politieke wetenskap: Unisa)
- Prince Mashele (politieke ontleder)
- Christo van der Rheede (uitvoerende hoof: De Klerk-stigting)
- Emma Louise Powell (DA-woordvoerder: Internasionale skakeling)
- R.W. Johnson (politieke ontleder)
- Flip Buys (voorsitter: Solidariteit Beweging)
- Prof. Johann Rossouw (politieke filosoof: Universiteit van die Vrystaat)
- Frederik van Dyk (prokureur & stigtersbydraer: OntLaer)
- Pieter du Toit (assistentredakteur: News24)
- Lourensa Eckhard (aanbieder: In Gesprek)
Onthul: Trump-tornado tref Suid-Afrika word op Sondag, 22 Junie 2025, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.