Om die draai van Suid-Afrika se grootste vlootbasis in Simonstad woon ’n wêreldberoemde kolonie Afrika-pikkewyne. Die pikkies wat so waggel-waggel tussen die graniet-inhamme van die beskutte Boulders-strand, is soos Tafelberg, een van Kaapstad se top-toeristebestemmings. Nou is dit ook die fokus van ’n Netflix-dokkie, Penguin Town, wat oor agt episodes strek.
Die komediant, stemkunstenaar en akteur Patton Oswalt, bekend vir sy spel in Brooklyn Nine-Nine en Veep, asook sy stemwerk in flieks soos Ratatouille en reekse soos The Simpsons en American Dad, is die reeks se verteller. Hy is ook een van die uitvoerende vervaardigers. Die reeks is deur Netflix, in samewerking met Red Rock Films, ’n Amerikaanse produksiemaatskappy, vervaardig.
Pikkewyne is – en hieroor kan jy moeilik stry – die ene oulikheid. Op land is hul vluglose waggel te dierbaar, terwyl hulle ook met gladde, vinnige barste deur die water kan skiet. En dan lyk hul pelse boonop soos ’n swaelstertjie-aandpak. ’n Hart vermurwe mos maklik vir sulke koddige lyfies.
Penguin Town strek oor die ses maande van die jaar wat dié Afrika-pikkewyne in dié baai swem en in en om Boulders se rotse tuisgaan. Hier lê en broei die pikkewyne hul eiers voordat die kleintjies gevoed word en die see invaar om in die yskoue Atlantiese oseaan te swem.
Netflix se nuwe troos-kyk oor lieflike pikkewyne wat in ’n Suid-Afrikaanse stad woon, is pandemie-perfek.
The Guardian
Die reeks se formaat is nie die van ’n droë opvoedkundige natuurdokkie nie; dit ken antropomorfiese benamings, persoonlikhede en selfs agtergrondstories aan die pikkewyne – die reeks se karakters as’t ware – toe. Terselfdertyd word feite en statistieke slim, amper terloops, weergegee. Dié tipe leer is opwindend en interessant en ’n goeie voorbeeld van die voortdurende ontwikkeling van televisievermaak se opvoedingsrol.
Die kamerawerk is uitstekend. Klein versteekte kameras vang ook oomblikke vas wat andersins ’n onbegonne taak sou wees. Die visuele vertelling is grotendeels vanuit die pikkewyn-oogpunt. Buiten enkele tonele – soos die vrylating van gerehabiliteerde pikkewyne – is mens-gesigte nie te sien nie, net bene en voete. Soos dit hoort – dis mos die pikkewyne se storie hierdie.
Plaaslike kykers sal dadelik opmerk dat ’n deel van die reeks voor Maart 2020, en dus voor die begin van (wat nou al voel soos ’n ewigheid) lockdown, geskiet is. Die res is daarna geskiet en in latere episodes geïntegreer.
Terwyl die pikkewyne – ’n bende boelies, ’n enkelouer-gesin (mamma-pikkewyn het klaarblyklik ter see verdwyn…) en ’n pasgetroude paartjie wie se huis en eiers tragies verwoes is – ongetwyfeld die sterre van Penguin Town is, word Simonstad ook pragtig vertoon. Dit is altyd interessant om dit deur ander oë te sien en herinner te word: Die plek is verstommend.
“Netflix se nuwe troos-kyk oor lieflike pikkewyne wat in ’n Suid-Afrikaanse stad woon, is pandemie-perfek,” sê The Guardian. Dis ’n uitstekende punt. Ek is vir ewig getraumatiseer deur David Attenborough, seën sy sokkies, wat so kalm klink wanneer hy vertel van baba-olifante wat voor hul hulpelose trop beswyk terwyl die aasvoëls bolangs sirkel. Daar is natuurlik gevaar ter sprake in Penguin Town, en dit raak soms gespanne, maar die pikkewyne oorleef!
Pandemie-perfekte kykstof, ja – want ná die amper twee jaar wat ons deur is, kort almal ’n bietjie (baie) mooi.