Tot nou toe het 44 dorpe regoor Suid-Afrika baat gevind by Lottoland help ’n dorp. Dis nie net praatjies nie – danksy dié reeks is daar reeds meer as R30 miljoen in die platteland belê.
Nou kan jóú dorp ook deel van dié projek – wat op die voortbestaan en vooruitgang van kleiner dorpies in die land gemik is – word. Luidens ’n mediaverklaring gaan ses dorpe vir gekies word om die dorp op die beste moontlike manier aan die land bekend te stel. Dink net wat kan alles met ’n maksimum begroting van R1 miljoen in jou dorp verrig word…

Suksesverhale
Nog nie oortuig om in te skryf nie? Kyk net na ’n paar van die suksesverhale wat reeds deur kykers gesien is.
Een van die beste voorbeelde is Coligny in Noordwes, die dorpie wat voor Lottoland help ’n dorp se hulp as die “dorpie wat in duie gestort het” bekend gestaan het. Dit was ook die dorp wat vir al die verkeerde redes die nuus gehaal het. Ná ’n R1 miljoen-inspuiting het die inwoners hul hoofstraat en dorpsingange opgeknap. Die gemeenskap het ook saamgestaan en ’n nuwe storie vir hul dorp begin skryf.
In die Oos-Kaap het Rhodes met minder as 30 permanente inwoners ’n groot oplewing in besoekers én belangstelling in die dorp beleef.
Die impak van die nuwe sportterrein wat by Vanwyksdorp in die Klein-Karoo tot stand gebring is, het so wyd uitgekring dat die inwoners sélf hul huise met ’n vars lagie verf verfraai en die dorp verder begin opknap het.
Maar dis nie net in die dorpe waar daar winde van positiewe verandering waai nie. Buurdorpe klop gereeld aan vir hulp en leiding om ook dieselfde oplewing in hul dorpe te bewerkstellig.
So skryf jy in:
Is jou dorp gereed om met groot visie, goeie beplanning en samewerking ’n merkwaardige omwenteling mee te bring? Wat belangrik is, is dat die projekte ook ’n duidelike visuele verskil toon. Kykers én besoekers moet dus die verandering kan sien.
- Stuur ’n e-pos na dankielottoland@gmail.com.
- Inskrywings sluit 30 Januarie 2026.










