“Lottoland help ’n dorp gee is ’n program waar dorpe werklik hoop kry . . . en ek ook,” sê die programaanbieder en sangeres, Leah van Niekerk oor dié kykNET-werklikheidsreeks. “Elke dorp maak daai standaard net ’n bietjie hoër en ’n bietjie hoër.”
Dis jou huis . . .
Die padtekens wat teen koedoes waarsku op pad na Burgersdorp in die Oos-Kaap is nogal iets wat Leah aanvanklik ’n bietjie bang gemaak het. “Maar dan sien jy hierdie pragtige dorp wat omring is deur hierdie heuwels en berge. Hy lê daar in die vallei en hy groet jou sommer met ’n groot glimlag,” vertel Leah. En sy dink dis dalk die koudste dorp wat sy tot nou toe met haar Lottoland help ’n dorp-span besoek het.
“Ons kantore het bokke wat elke twee dae ons gras kom eet,” kom dit laggend van Jolindy Dreyer, projekleier. “Die beeste loop gereeld in die pad af. Dis ’n fantastiese plaasdorp.”
Oos-Kaapse baken
“Burgersdorp is ’n baken in die Oos-Kaap en as jy rondkyk sal jy sien daar is ’n klomp mense wat terugkeer na die plase, hier kom boer of weer besighede kom oorneem by hul ouers,” vertel Wicus Jansen van Rensburg, projekspanlid.
Burgersdorp is nou wel nie op ’n hoofroete nie, maar die dorp se ryk geskiedenis maak tóg dat mense bietjie ompad ry om daar te gaan inloer. Wat min mense deesdae van bewus is, is dat die Potchefstroomse Universiteit (nou bekend as NWU) hier sy oorsprong gehad het. So ook die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk. Dan was dit ook ’n baken tydens die Boere-oorlog. “Hier’s nogal baie om te sien en ek dink ons is so stadig besig om die dorp bietjie terug op die map te sit,” sê Wicus.
Jolindy is hier gebore en het onder moeilike omstandighede grootgeword. Maar sy het haar vlerke gesprei en die wêreld deurkruis. Tog het sy teruggekeer want, soos Leah dit stel, hierdie is haar plek.
“Kyk, ek was aan die verkeerde kant van die treinspoor en ek is op die ouderdom van 15 weggeneem deur die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) en ek was gelukkig genoeg om ’n beurs te kry. En vandaar af het ek net vorentoe gekyk,” vertel Jolindy . “Ek het altyd vir myself gesê, eendag wil ek terugkom en kom teruggee en kom dankie sê vir die mense wat dáár was vir my toe ek hulle nodig gehad het. Hier was soveel avonture toe ek ’n kind was. Ek dink ek wil net dieselfde hê vir die kinders wat vandag hier grootword.”
Sy vertel vir Leah die skool is die anker wat die dorp bymekaar hou. Wicus pleit partydigheid want hy’s ’n onderwyser by een van die skole en beskryf die hoër- en laerskool as ongelooflike skole.
Jolindy vertel ook dat een van die dorp se verskeie mooi kerke, die NG-kerk, se koepel ongeveer 4 jaar gelede in duie gestort het en die kerk afgebrand het. En die hele dorp het saamgestaan en gehelp om die kerk tot volle glorie te herstel.
Sy sê daar is maar diegene wat geneig is om te kla, maar haar leuse is: “Less yadda-yadda, meer aksie! As jy nie geld het nie, tel ’n graaf op en plant ’n blommetjie. Jy moet net besef jy’s óf deel van die probleem óf deel van die oplossing.”
Help, Lottoland help ’n dorp
Die swembad is deesdae ’n reservoir wat deur die skool gebruik word om die rugbyveld nat te gooi. Die ablusiegeriewe word net gebruik wanneer daar groot wedstryde teen ander skole plaasvind. Of wanneer dit die somerfees is. Vir Leah lyk die ongebruikte swembad erger as wat sy gedink het. Vir haar voel dit asof hierdie swembad oor sy eie ekostelsel beskik. Daar’s lewende goeters in die water en sy besef dis ’n baie diep swembad wat aansienlik baie werk gaan verg.
“Dit lyk terrible,” som Wicus dit eenvoudig op. Weg is die lieflike grasperke en nou is daar net onkruid en gebreekte sementblokke.
Jolindy erken dat daar baie verskillende behoeftes in die dorp is, maar omdat hierdie swembad die kern van die dorp is, glo sy dit kan ’n groot gemoedsverskil teweeg bring in die gemeenskap.
“Ons wat hier met die swembad grootgeword het, hunker daarna om dit weer aan die gang te kry, want ons besef ons generasie se kinders weet nie wat hulle mis nie.
“Die duikplank van daai stadium het so ’n spesifieke klankie gehad, en as daai klankie gehoor word en jy is nog nie daar nie, weet jy jy mis uit,” onthou Wicus.
Jolindy is dankbaar dat daar ’n fantastiese verhouding met die munisipaliteit in plek gestel is want die swembad is op munisipale grond. En die swembad is net die eerste fase van verskeie projekte wat in samewerking met die munisipaliteit getakel gaan word. Sy sê sy het verskeie oproepe van mense ontvang toe die kwessie van die swembad aangeroer is. Hulle het haar probeer ontmoedig en gesê dis onmoontlik om die swembad te herstel. Maar dit was net vet op die vuur vir hierdie doelgerigte vrou.
Toe gesels hulle met Frans Cronjé van Senekal wat in die tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp verskyn het. Senekal se swembad was vir 27 jaar in onbruik, maar danksy die inwoners en die skenking van Lottoland help ’n dorp is daardie swembad omskep in ’n absolute juweel waarin die dorp se kinders (én bejaardes) nou sorgeloos kan baljaar.
Frans het haar aangemoedig om nie ontmoedig te word nie, maar om aan te hou en die swembad te red. En van die belangrikste wenke wat hy aan haar gegee het, was om ook die moeilike mense aan boord te kry, want op die einde van die dag is dit ook hulle dorp.
Die groen koevertjie
Goed gepantser teen die koue, haal Leah nie hierdie keer die groen koevertjie nie van agter haar rug uit nie, maar met hande in handskoene vind sy dit wel iewers diep in daai baie knus baadjie.
“Is hierdie regtig?!” wil Jolindy by haar weet. Ja, dis beslis regtig, ’n hele R500 000 se regtig.
“Whoa!” en die trane loop. Selfs Leah se hart het sommer in haar keel geklop vir Jolindy.
“Dit is iemand wat regtig al deur baie is, vir en saam met hierdie dorp. En sy kom terug. Sy’s maar ’n rukkie weer terug op die dorp en kyk wat het sy letterlik nou-net vermag!” kom dit van Leah. En vir Jolindy voel dit asof die afgelope ses maande se harde werk soos mis voor die son verdwyn.
“Die groen koevert was vir my ’n ‘ja vir verandering’,” sê Jolindy. Ook Wicus is oorstelp van blydskap oor wat met die swembad gaan gebeur en dat daar iets vir die volgende generasie agtergelaat gaan word. “Ons gaan hard moet werk. A journey of a 1 000 miles begin met ’n single step,” kom dit van ’n vasberade Jolindy.
Agt weke later
Met Leah se vorige besoek aan Burgersdorp was die swembad binne en buite vir haar soos ’n oerwoud. Maar Jolindy weet dat sy aangenaam verras gaan wees met wat intussen vermag is.
“Die dorp was baie positief. Die Tuinbouklub het vir ons plantjies gebring, die ATKV-kinders het kom help skoonmaak,” vertel sy vir Leah.
Daar was baie uitdagings. Halfpad met die veselglas-gedeelte van die swembad het die kontrakteur ’n lek opgespoor. Dit het ’n week geneem om te herstel.
Leah het seker gemaak Jolindy loop eerste in by die swembad omdat sy nie seker was wat om te verwag nie. Maar haar uitroep van verbasing het die hele storie vertel. Jip, Leah se asem was byna weggeslaan.
Jolindy vertel hulle het langer ure ingesit en harder gewerk, maar koue weer het hulle wel effe gekortwiek. Toe’s daar ’n waterkrisis en hulle het besef die swembad gaan nie heeltemal vol wees teen die einde van die projek nie. Maar sy glo hulle het die heel beste moontlik gedoen met die regte mense vir die regte werk, en natuurlik uitstekende spanwerk waar mense nie teen mekaar nie, maar saam met mekaar skouer aan die wiel gesit het.
Daar is ook ’n gimnasium (die enigste in die dorp) wat nou aanmekaar gesit is. En die kiosk is waar die besoekers iets lekker kan koop of oor ’n koppie koffie sake van die dag kan bespreek. Ook die kinders het nou ’n nuwe speelplek met swaaie en ruimte om in rond te hardloop.
“Hierdie swembad is nou ’n samekomsplek vir ’n ieder en elk van Burgersdorp,” vertel Leah.
Op haar beurt vertel Jolindy dat die lewendige visse eers uit die swembad verwyder moes word sonder om hulle skade aan te doen. Daarna was daar soveel slyk op die bodem van die swembad wat verwyder moes word. Die grootste verrassing was hoe diep die swembad se diepkant nou eintlik was: ’n allemintige 6 m! Die monster-pomp van toentertyd moes weggesleep word om plek te maak vir die nuwe pomp. Die klein swembadjie was aanvanklik op die gevaarlys vir toegooi, tot waar dit skoongemaak is. Nou is dit ’n heerlike oplossing vir kleingoed wat nog nie kan swem nie.
Deon de Lange, projeklid, vertel dat hy sedert sy aankoms in Burgersdorp net bossies by die swembad gesien het. En die swembad vol modder. Hy is ook baie ingenome met die transformasie wat plaasgevind het.
“Dit het baie sleg gelyk,” vertel Nico Marais, spanlid. Maar die ommeswaai van toe tot nou is verstommend.
Thulani Nteto, spanlid, sê daar was hard geswoeg om die swembad skoon te maak en die plaveisel te herstel. “Dit was vuil en die modder in die [swem]bad is deur ons skoongemaak.”
“Dit was baie besig rondom hierdie swembad. Dis die beste woord wat ek kan kry om dit te beskryf, besig,” vertel Misha Nel, projeklid. Sy noem ook dat groot spanne van die munisipaliteit ook kom help het en dit was vir haar ’n aangename verrassing.
Lorettha Wilken van Straaten sê swembad-herstel is nie sommer jou maat nie en dis maklik om so ’n projek te onderskat. “Ek moet vir jou sê, party dae was my moed maar ook laag, dat ek nie geweet het ons het die regte ding gedoen nie,” erken sy. “Maar dan, môre as jy die bodem sien, dan is jy weer opgewonde.”
Jolindy vertel ook dat daar tannies was wat kwalik kon loop, wat plante help aandra het vir die swembad.
’n Uithangplek vir jou Saterdae
Die projek het tot dusver byna R600 000 gekos en hulle is lustig besig met fondsinsameling om die tekort te delg. Weet nie wat om op Saterdag te doen as jy in die omgewing is nie. Wat van heerlike boereworsrolle en pannekoek by Burgersdorp se swembad – soos net op die platteland gemaak kan word?
Toe ek vanoggend hier inloop, toe wil ek sommer huil. Toe dink ek, ‘Wow! Ons het dit gedoen.’ Daar was dae wat ’n mens net nie moed gehad het nie. Sorrie dat ek nou huil, maar dis regtigwaar vir my ’n groot dag, ’n baie groot dag.
Lorettha Wilken van Straaten
Daar gaan wel ’n toegangsfooi gevra word by die swembad, maar dit gaan nie duur wees nie. Hierdie fondse sal aangewend word vir die instandhouding van die swembad tot voordeel van die gemeenskap.
“Toe ek vanoggend hier inloop, toe wil ek sommer huil. Toe dink ek, ‘Wow! Ons het dit gedoen.’ Daar was dae wat ’n mens net nie moed gehad het nie. Sorrie dat ek nou huil, maar dis regtigwaar vir my ’n groot dag, ’n baie groot dag,” kom dit so tussen die trane deur van Lorettha.
Terwyl bykans die hele dorp langs die swembad byeenkom, is daar toesprake van dank en erkenning, en gepaardgaande daarmee ’n liedjie spesiaal vir Burgersdorp.
“Ek dink my gebed is nou verhoor, dat die swembad nou daar is. En ek dink die gemeenskap, en die kinders veral van Burgersdorp, sal die swembad baie geniet,” sê Arnold Campher, gemeenskapsleier.
Jolindy erken sy’s hondmoeg, maar as hierdie die resultate is van iets wat die gemeenskap takel, sal sy dit weer en weer en weer doen. Dis mos nou die mens wat jy in jou dorp nodig het . . .
En Leah? Sy’t weer ’n stukkie van haar hart hier verloor.
Volgende week
Is julle gereed vir die Vrystaatse vlaktes? Leah en haar Lottoland help ’n dorp-span draai hul voertuig se neus na Fauresmith waar daar ’n baie groot projek op die gemeenskap wag.
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.