kykNET se gewilde werklikheidsreeks Lottoland help ’n dorp het landwyd reeds die onblusbare vlam van hoop en inspirasie by 25 dorpe aangesteek. Maar hoe hoog vlam dit nou?
“Die mense het my almal aangeraak op verskeie maniere en ek het geleer by almal,” kom dit van die sangeres en aanbieder, Leah van Niekerk. Sy sê haar keel trek sommer toe as sy aan die groen koevert dink. En al het sy dit reeds 25 keer gedoen, is elke oorhandiging ’n wonderlike meeleef-ervaring.
Senekal – waar daar geswem word ‘dat die stof so staan’
Ses maande gelede is die swembad herstel en oopgemaak – iets wat min gedink het ooit sou gebeur!
R500 000 en vier weke later het duisende reeds gaan afkoel in die pragtige nuwe swembad, vertel Frans Cronjé, komiteelid: Senekal/Matwabeng-gemeenskapsforum.
“Dis ’n wonderlike, wonderlike seëning vir ons dorp gewees. Wanneer ons die swembad oopmaak, dan’s daar al ’n ry van mense buitekant. Kinders wat nooit die geleentheid gehad het om te swem nie, en nou moet jy sien . . . Hulle maak summersaults, hulle hardloop, hulle duik in.
“Twee van die mense wat die meeste hier kom swem, is al in hul tagtigs,” sê hy. Dan is daar die man wat in 1984 laas in hierdie einste swembad geswem het.
Frans noem dat die eerste fase van die swembad afgehandel is. Hul volgende mikpunt is ’n dak vir die gebou en om die swembad te verhit sodat dit heeljaar deur gebruik kan word.
“Ons het nou besef dinge is moontlik. Ons gaan dit doen,” kom dit vasberade van hom. Hy sê voordat hulle die swembad herstel het, was dit ’n dwelm-nes met baie misdaad. Vandag is dit nie meer vuil nie, dit stink nie en die vermeende dwelmhandelaar het glo koers gekies Goudstad toe . . .
‘’n Plaaslike maatskappy en individue het intussen na vore gekom en gehelp met sekuriteitskameras op plekke waar die omheining laag is. Dan is daar iemand wat weekliks ’n grassnyer vir hulle borg.
Leah onthou haar eerste kennismaking met die swembad as iets wat nie baie aangenaam was nie. Maar dan die wonderlike nuus: Vir die eerste keer in 30 jaar kon Senekal onlangs ’n swemgala aanbied!
“Frans Cronjé, hy sal alles gee vir daai dorp. Hy is letterlik soos ’n cheerleader vir Senekal. Sy energie is absoluut aansteeklik . . . en die passie. Jy wil dit net in jou lewe ook hê,” kom dit van Leah.
“As jy die glimlagte op die kindertjies se gesigte sien, as jy die tannies sien wat 80 jaar oud is, wat hier kom swem en positief is,” is van Frans se redes wat hom staande hou.
Hofmeyr trek haar honeymoon nighty aan
Hofmeyr was die eerste dorp wat in die tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp baat gevind het by die projek.
“Ons het fantastiese terugvoer gekry. En toe begin die klein dorpies my die een na die ander bel om te sê ‘maar ons wil ook’. En hier sit ons nou, nege maande later, en alles is nog steeds pragtig. Almal wil dit net nóg mooier maak,” vertel Teresa Opperman, stigter: Hugs of Hope.
Leah erken sy’t nooit vantevore by Hofmeyr besoek afgelê nie. Met haar eerste besoek was die dorpie baie verwaarloos. Van die geboue is geplunder, die strate was nie skoon nie en dit het oor die algemeen nie ’n goeie indruk gelaat nie.
“Binne vier weke nadat ons daai groen koevert ontvang het, het ons Hofmeyr se honeymoon nighty vir haar aangetrek en sy was reg vir haar troue én haar honeymoon,” sê Teresa.
“Dis nou een van daai dorpies wat jy nou sommer so ’n glimlag op jou gesig kry as jy deurry,” vertel Leah.
Hofmeyr se span het binne vier weke ’n onwettige stortingsterrein opgeruim. Die asgat wat nou as die stortingsterrein dien, is toe geskep. Drie huisies is geverf, sewe muurpanele is geskilder en bome in die dorp is met linte getooi ter herinnering van inwoners wat aan kanker gesterf het. En so byna vergeet Teresa van hulle vrolike vullisblikke wat nou in die dorp pryk.
Binne vier weke nadat ons daai groen koevert ontvang het, het ons Hofmeyr se honeymoon nighty vir haar aangetrek en sy was reg vir haar troue én haar honeymoon.
Teresa Opperman, stigter van Hugs of Hope in Hofmeyr
Teresa, duidelik baie trots op haar dorp en sy mense, vertel dat die bereidwilligheid van die inwoners se kant verstommend was. Die groen koevert het R240 000 bevat, en daardie klein gemeenskap het dit reggekry om ’n verdere R100 000 by te voeg – in dienslewering en gratis projekte wat hulle bedryf het!
Vier boere het na vore gekom met hul trekkers om van Teresa se grootste nagmerrie ontslae te raak: die onwettige stortingsterrein. Al wat hulle in ruil versoek het, was brandstof vir die trekkers. Vanweë dié besparing was daar fondse beskikbaar om die dorp skoon te maak.
“Toe ons daarmee begin het, het hier ’n entoesiasme in hierdie klein dorpie losgebreek – ek kry eintlik koue rillings. Ons wou ’n klomp mure mooi maak en so het iemand wat bande met Hofmeyr het, vir ons vertel van ’n kunstenaar in die Baai, Sarel de Wet.
“En Sarel het onmiddellik op sy rekenaar gespring, ’n klomp ontwerpe vir ons stories gemaak en Sarel het vir ons die prente op die mure geteken. En almal wat ’n kwas kon vashou, of jy nou vier jaar of 84 was, het kom help verf,” vertel Teresa.
Hofmeyr het een van sy beste toeriste-seisoene ooit gehad. Die dorp was vol bespreek vanaf Desember tot en met 16 Januarie vanjaar! Daar is ook gekuier by die plaaslike restaurante en die basaar van 16 Desember het ’n stewige R80 000 ingebring. (Die beste basaar-opbrengs ooit!)
Bloemfontein herleef weer as die Stad van Rose met Boeta van Bloemfontein
Agt maande gelede was die Lottoland help ’n dorp-span daar gewees. Boeta Swart, stigter: Anchor of Hope, borrel oor van opgewondenheid oor wat alles sedertien hier gebeur het.
“Boeta van Bloemfontein. Daai man. Sjoe, hy het regtig sy lewe omgekeer. Hy was deur diep, donker tye en daar het hy besluit hy gaan alles vir sy dorp gee,” sê Leah.
Die Eiland en die Konings-rosepark is gedoen met die skenking van Lottoland.
“Ons het al daai rose teruggeplant, ons is besig om die spuitfontein se dam te seël, die damme te seël. Dan is daar nog ’n park aan die oorkant van die straat wat hulle noem Koningspark. Ons sny hom ook op ’n gereelde basis.
“Ons het die parkeerarea hier buite geverf, ons het al hierdie braai-areas reggemaak. Ons het sekuriteit ingekry, die ligte is reggemaak, die badkamers het ons oorgedoen. Ons het die gras gesny, ons het die riete terug gesny,” is van die goed van Boeta en sy binne vier weke verrig het.
“Daai fontein… Toe dit die eerste keer spuit, toe voel ek net water is lewe, en hier is weer lewe op Bloemfontein,” sê Leah.
Boeta vertel dat baie goed gebeur het sedert die Lottoland help ’n dorp-span uit Bloemfontein weggery het. In die park is daar al verskeie groot funksies gehou. Daar was selfs ’n familiedag wat Bloemfonteiners weer bymekaar gebring het.
Maar daar was ook uitdagings. Die eende het die rose begin eet, maar Boeta-hulle het intussen weer 50-60 rose aangeplant.
Daar is besighede wat betrokke begin raak het. So is daar nou ’n hele span wat elke twee weke na die park kom om die gras te sny en die beddings word ook gedoen. Boeta sê dit beweeg nou in die rigting van ’n volhoubare projek omdat die gemeenskap daarop inkoop.
Boeta vertel dat besighede nou betrokke geraak het. Sommige maak aan die straatkant van die park, en ander aan die agterkant van die park, skoon. Hulle is ook deur Vrystaat Tennis genader om daar te gaan gras sny, moontlik gemaak deur ’n borgskap. Nou sny hulle ook gras vir die Cheetahs rugby-unie op hul B-velde by Old Grace.
Die munisipaliteit het self hand opgesteek en het begin om die mini-gholfbaan op te ruim.
“So, deur die klein saadjie wat geplant is deur Lottoland om hier te begin, is hy besig om uit te kring soos ’n klippie in die water,” sê Boeta.
Boeta vertel dat hy in November, nadat die Lottoland-episode oor Bloemfontein uitgesaai is, ’n oproep ontvang het van iemand wat vir hom ’n gebou aangebied het. Anchor of Hope bied skuilings vir vroue en kinders, asook vir mans. Vir hom was dit ’n baie groot wonderwerk.
Raad aan ander dorpe
Frans raai mense aan om met die munisipaliteit saam te werk en dat daar in die gemeenskap nie teen mekaar gewerk moet word nie.
“Sit jou eie ego eenkant. Sit jou eie politiek eenkant. Sit jou eie interpretasie van die Bybel eenkant en werk saam,” is Frans se advies.
“Die eerste wenk is: betrek jou hele gemeenskap. Die tweede wenk is: beplan fyn want die tyd is kort waarin dit gedoen moet word. En die derde wenk is: doen aansoek!” is Terese se top-3 wenke.
“Kies ’n deel in die dorp wat die hele gemeenskap raak. En dan kies jy mense wat dieselfde droom het as jy, wat nie negatief gaan raak. As mense dieselfde droom het, het hulle dieselfde dryf,” kom dit van Boeta.
Groetnis en dankie!
Frans erken laggend hy het nie besef hoeveel mense die program kyk nie. Daar’s gereeld ’n tannie wat hom herken. Alhoewel hy wou dink dis van die films wat hy gemaak het, is dit inderwaarheid vanweë Lottoland help ’n dorp.
Maar ’n diep-dankbare Frans wonder of diegene betrokke Lottoland help ’n dorp werklik besef watter ongelooflike impak dit op hom as mens en in die gemeenskap het.
“Weet julle, ek gaan emosioneel raak want dit was vir my ’n fees. Dit was vir my ’n fees. Ek het daai tyd besef nou’s my kans om hierdie Hofmeyr te skep wat ek wil hê vir die 150ste verjaarsdag. En . . . dit het gebeur! Lottoland het Hofmeyr gered,” sê Teresa. Sy noem dat hulle nog ’n paar dingetjies wil regruk want volgende op dié lieflike dorp se agenda is om in te skryf vir Kwêla! Dorp van die jaar.
“Maar 2025, hou ons dop!” waarsku sy.
“Nou-die-dag, toe ’n tannie my voorgekeer het en sy sê vir my sy bly nou al amper 60 jaar in Bloemfontein. En toe sy die ding op Lottoland sien en sy sien die fontein spuit . . . Watse merkwaardige impak in haar lewe het dit gemaak, en hoop vir haar gebring en hoe opgewonde sy is, en hoopvol sy is,” kom dit van Boeta.
Lottoland help ’n dorp is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.