“Ek het altyd hierdie fenomenale vrou op televisie bewonder,” vertel Lekker en goed se Carmen Niehaus. “Sy’t soveel cool aan haar . . . grace,” sê sy oor vandeesweek se kuiergas, die aktrise Antoinette Kellermann, wat vanjaar ook vyf dekades op die planke vier.

Oggenddop met skop
Carmen hou daarvan om die dag met haar gaste met ’n verfrissende drankie te begin. Vir Antoinette maak sy ’n fynbos-mojito met ment. Vir Antoinette lyk dit na baie wyn, maar Carmen verseker haar daar kan nie suinig te werk gegaan word met die wyn nie.
Sy voeg ook Carmién Tea se appel-en-ment by. En dan volg daar nog skop: brandewyn, alhoewel rum ook ewe goed sal werk.

Wie is die kok in Antoinette se kombuis?
Nee, vertel Antoinette vir Carmen, sy kan nie kos maak nie en sy’s baie bly dat dit nie haar beurt is om kos te maak nie. “My man is die kok. Ek sal slaaie maak, maar ek kan nie bak nie, want ek bak en brou glad nie, ek kan nie naaldwerk doen nie. Maar ek kan eet,” verklaar sy.
‘Inkommer’
Carmen wil weet hoe lank Antoinette reeds aan die Weskus bly. Sy sê sy voel nog steeds soos ’n inkommer, al het hulle reeds sewe jaar gelede hierheen verhuis. Antoinette voel tog wel dat daar nou ’n tipe aanvaarding besig is om te gebeur en dat dinge hier anders is as in die stad.
“Inkommers is ’n groot ding in die Weskus, en ek dink ook in die platteland. Ek meen, jy word nie net sommer aanvaar hier nie. Hulle kyk vir jou baie mooi uit voordat jy nou deel en part and parcel van die dorp se gemeenskap is,” vertel Carmen.
“Weet jy, ons het ’n klein ou kreefbakkie en ek en Anton het opgevaar met die Bergrivier tot . . . verby Kersefontein [Hopefield]. En ons het in daai stadium net een hond gehad. En ek onthou hy het voor op die boeg gesit en ek het ’n sambreel gehad vir as die son te warm geraak het vir hom.
“Ons het in al die inhampies ingegaan en geswem. Dit was my beginjare hier, toe’t ons nog nie hier gebly nie,” vertel Antoinette toe Carmen wil weet of sy en haar man visvang of ander avonture doen.
Antoinette gooi gou wal, want sy voel sy praat nou te veel oor haarself. “Ons moet babbel oor kos,” kom dit van haar.
Op die spyskaart

Carmen belowe vir Antoinette ’n ware Weskus-gereg en sy doen haar woord gestand deur snoek met pekanneute op haar spyskaart. Daarmee saam is daar gebakte baba-aartappeltjies met ’n rooi uie-piekel.
Niks, maar niks, sê duideliker as bokkoms dat hier aan die Weskus gekuier word nie. Haar soetigheid is mosbolletjies wat sy met bokkombotter voorsit. “Want soet en sout is mos nou die Weskus se ding,” verklaar sy.
Smoorsnoek is glo Antoinette se groot gunsteling, maar Carmen doen vandag die snoek in die oond. “Verskoon my!” kom dit van ’n verbaasde Antoinette toe sy die neute gewaar, want neute en vis saam maak nie werklik vir haar sin nie.
Carmen in die kollig
Antoinette wil weet of Carmen ooit toneel gespeel het. Carmen vertel dat sy ’n groot introvert is wat op skool ook nie juis veel met ander gepraat het nie. Dit het sy aan haar tweelingsuster Mien oorgelaat wat ook sommer namens Carmen sou gepraat het.
“Ek sou die boom gewees het,” vertel Carmen van haar destydse gevoel oor toneelspel. In reaksie daarop erken Antoinette dat sy nooit die inspirasie of die moed gehad het om kos te kook nie.
Die “venstertjie”
Deeg kan nogal ’n moeilik ding wees om reg te kry. Carmen verduidelik dat sy graag rooibostee by haar mosbolletjie-deeg voeg vir ’n ekstra geur-hupstoot. Sy meng die deeg aanvanklik in haar elektriese menger, en dan knie sy dit verder met die hand.
Dis vir haar terapeuties om met deeg te werk en sy knie daai deeg soos ’n maestro. Maar hoe weet jy wanneer die deeg reg is vir bak? Carmen wys vir Antoinette hoe sy ’n stukkie van die deeg afbreek en dit dan tot ’n vierkant bewerk. Sodra sy die deeg kan rek en ’n deursigtige “venstertjie” verskyn, is die deeg reg. As die deeg vinnig skeur voordat die “venstertjie” vorm, moet daar maar verder geknie word.
Die tafel

Die op-en-wakker Weskus-wind noop die twee om op die agterstoep by die tafel aan te sit eerder as buite in die veld. Die pienk tema is besonder aanloklik en Antoinette is baie beïndruk met hoe dit lyk. Natuurlik moet daar ’n wyntjie geproe word en vandag is dit ’n Piekenierskloof Grenache Blanc, en van die vlagskepe van Piekenierskloof se wyne.
Wat nog?
’n Nuwe vriendskap word gesmee. Hoe het Antoinette die neute saam met die snoek ervaar? En daai bokkembotter? Is daar dalk weer ’n resepteboek in Carmen se toekoms?
Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.