Menu terloops
In Wat om te kyk [31 Jan 2025]

‘Lekker & Goed’: Episode 5 se resepte


Van Marrokaanse hoenderpastei tot ’n legendariese bymekaargooi-sjokoladekoek – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die vyfde episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker en Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker & Goed’: Episode 5 se resepte

Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus

Bellini 

’n Belllini is ’n Italiaanse drankie wat met vars perskes en vonkelwyn gemaak word. Ons gee dit nog verder geur en goedheid met die byvoeging van Carmientea se Passion & Peach-rooibostee, gemaak met natuurlike bestanddele.

3-4 vars perskes, in skyfies gesny

30-45 ml (2-3 e) heuningstropie (heuning verdun met bietjie water)

125 ml (½ k) Carmien Passion & Peach-rooibostee, gemaak met 2 teesakkies (koud)

500 ml (2 k) Piekenierskloof Wilhelmina MCC, yskoud

  1. Plaas die perskes in die voedselverwerker en maak dit fyn saam met die heuningstropie. 
  2. Voeg die tee by en meng.
  3. Voeg die vonkelwyn by en skink in lang glase.
  4. Geniet yskoud.

Marrokaanse hoenderpastei 

Lekker en goed met Carmen Niehaus

Met hierdie hoenderpastei gedenk ek en Mientjie die hoenderpastei van ons tannie Martie wat altyd Sondae en met spesiale geleenthede op tafel was. Haar vulsel was merendeels fyngekookte (plaasvars) hoender (die velletjies was ook daarby ingekap) met haar tuisgemaakte skilferkorsdeeg oor. Ons het ons ooreet. 

My hoenderpastei maak ek met dytjies (of filette) waarvan die velletjies afgetrek is om sodoende ontslae te raak van die versadigde vette. Die pastei wemel van Marrokaanse speserygeure met ’n sitrus-chai-rooibosteeaftreksel daarby ingemeng om die geure lekker bymekaar te bring en te “versag”. 

In my tannie se pastei was daar geen groente bygevoeg nie, ons het die groente as toekos apart voorgesit gekry (en dan was dit mos gerieflik om dit maklik maar eenkant toe te skuif). Om die pastei gesonder te maak, werk ek sommer die groente by die vulsel in. WildeKlawer se uie en wortels is van hoogstaande gehalte en dra by tot die goedheid van die pastei. Wortels bevat baie vesel en beta-karoteen asook vitamien K en kalium. Dit kan help met gewigsverlies, en die verlaging van cholesterol en sekerlik die bekendste gesondheidswaarde is dat dit help met goeie oogsig. 

Vir bietjie soetigheid rasper ek ’n appel by en gebruik minder-suikerblatjang saam met ’n paar Turkse appelkose. Groen olywe sorg vir heerlike kontras. Ek gebruik ook jogurt pleks van room om ’n “romerigheid” te verskaf sonder dat dit die gereg ryk maak. 

En pleks van skilferkorsdeeg, wat wemel van botter en baie ryk kan wees, gebruik ek papierdun velletjies filodeeg wat ek net bietjie olyfolie oorsmeer pleks van botter, ook om te verhoed dat dit te ryk raak, maar tog lekker bros is. Alles dra by tot ’n gesonder en byderwetse weergawe van tannie Martie se legendariese hoenderpastei.  

Genoeg vir 8 mense 

Bereiding: 30 min

Gaarmaak en bak: 1 1/2 uur

VLEIS

1,5 kg ontbeende hoenderdytjies of andersins hoenderborsfilette, in klein blokkies gesny 

Sout

60 ml (4 e) olyfolie

3 uie, geskil en gekap

4 knoffelhuisies fyngedruk

3 kaneelstokke

15 ml (1 e) fyn koljander

15 ml (1 e) fyn komyn

5 ml (1 t) fyn neutmuskaat

5 ml (1 t) fyn gemengde speserye

500 ml (2 k) rooibostee-aftreksel gemaak met Carmien Citrus Chai (6 sakkies)

Sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene

2 wortels, geskil en in stukke gesny

1 patat, geskil en in stukke gesny 

1 appel, gerasper

’n groot handvol elk gekapte ment en koljanderblare

60 ml ¼ k) minder-suikerblatjang

80 ml (¼ k) natuurlike volroomjogurt

Handvol Turkse appelkose, fyner gesny 

Paar groen olywe, in stukkies gesny 

AFRONDING

6 velle filodeeg

olyfolie

  1. Vleis: Geur die vleis met sout. Braai dan in lotte in olie tot effe bruin. Skep uit. 
  2. Braai die ui en knoffel saam met die kaneelstok tot die uie sag is. Voeg die fyn speserye by en meng deur.
  3. Voeg die vleis weer by asook die aftreksel, suurlemoensap, wortels, patat en appel.
  4. Bring tot kookpunt, verlaag dan die hitte en laat dan stadig prut tot die groente sag is.
  5. Voeg die res van die vleisbestanddele by en meng goed. 
  6. Skep in ’n pasteibak of klein ramekinbakkies en laat afkoel. 
  7. Afronding: Frommel elk van die velletjies filodeeg en stapel bo-op die vulsel in die bak. Verf met olyfolie en bak sowat 20 minute of tot die filodeeg goudbruin is. Sit warm voor saam met slaai.

Appel- en beetslaai met joghurt-slaaisous

Lekker en goed met Carmen Niehaus

Ek kan bykans nie ’n dag onthou wat daar nie beet op ons tafel op die plaas was nie – beet net so saggekook voorgesit (ons gunsteling) of andersins ingemaak in ’n soetsuursous. Pleks van hierdie soet sous, sit ek die beet voor met ’n jogurtsous wat bietjie geur kry met knoffel en suurlemoen.

In die voedingstofryke grond onder die warm Noord-Kaapse son, word daar heeljaar lank by Wildeklawer topgehalte beet geproduseer. Nes wortels is die beetknol die penwortelgedeelte van die plant en is dit reeds sedert die Middeleeue vir verskeie medisinale doeleindes gebruik – soos vir beter spysvertering agv die hoë veselinhoud en ook skoner bloed. In die 1800’s is tot wyn daarvan gemaak. 

Beet help dat jy meer stamina het en sodoende kan dit beter prestasie meebring op die sportveld. Beet se goeie kalium-inhoud help om moegheid en swakheid te voorkom, beet help ook veg teen inflammasie, versterk beenkwaliteit en help met ’n gesonde lewer. Daarby help dit om kanker te beveg en bloeddruk te verlaag. 

Wildeklawer is ook groot uiprodusente, van wit en bruin tot rooi en ook nou soet uie. Rooi uie werk veral goed in slaai omdat jy dit rou kan gebruik a.g.v. die matiger geur en pragtige kleur. Dit het merendeels dieselfde gesondheids-eienskappe as wit en bruin uie.

SLAAISOUS

2 knoffelhuisies, fyngedruk

250 ml (1 k) romerige jogurt

45 ml (3 e) olyfolie

30 ml (2 e) suurlemoensap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoenskil

Sout en peper

SLAAI

1 Cos blaarslaai, in blare gebreek

2-3 gaar bete, in stukke of skyfies gesny

2 Cripps-appels, in stokkies of papierdun skyfies gesny

Halwe rooi ui, in klein stukkies gesny

Paar stukkies gruyère-kaas

Okkerneute  vir bo-oor sprinkel

  1. Slaaisous:Kap al die bestanddele goed saam in ’n NutriBullet tot goed gemeng.
  2. Slaai: Rangskik die blaarslaai, beet en appel op ’n slaaibord, giet die slaaisous oor en sprinkel die ui, kaas en okkerneute oor. 

Rooibos-sjokoladekoek 

Hierdie is my legendariese bymekaargooi-sjokoladekoek wat ek altyd nadergeskraap het as ek vinnig ’n koek moes aanmekaarslaan, hetsy vir ’n skool se koekverkoping of kinderpartytjie. Maar destyds was dit gelaai met suiker. Deesdae is die suiker heelwat minder en gebruik ek Carmien se verskeidenheid blomtees soos Turkish Delight of Very Berry om ’n unieke geur en hope goedheid aan die koek te verleen. 

Ek het ook sommer intussen die koekmeel minder gemaak en ’n koppie daarvan met fyngekapte hawermout vervang. Dit sorg vir ’n nog klammer koek en addisionele oplosbare sowel as onoplosbare vesel. Al wat nodig is bo-oor is bietjie gesifte kakao en mooimaak met vars vrugte soos nektariens of pruime. 

Ek rond die koek partymaal ook af met ’n maaskaasversiersel met slegs ’n klein bietjie versiersuiker bygeroer. Andersins kan jy maar donker sjokolade smelt en bo-oor drup.

Maak een groot koek, 

Bereiding: 20 min

Baktyd: sowat 40 min 

KOEK

500 ml (2 k) koekmeel 

125 ml (½ k) kakao

10 ml (2 t) koeksoda 

Knippie sout 

250 ml (1 k) hawermout, fyn gekap 

250 ml (1 k) suiker 

160 ml (⅔ k) canola-olie

30 ml (2 e) appelasyn 

500 ml (2 c) Very Berry of Turkish Delight CarmienTea-rooibostee, gemaak met 4 sakkies 

AFRONDING 

Kakao vir bo-oor sif

Vars nektariens of pruime, in skyfies gesny

  1. Voorverhit die oond tot 180°C (of stel bak by AirFryer, ook 180°C) 
  2. Koek: Meng die koekmeel, kakao, koeksoda, en sout saam, voeg die hawermout en suiker by en meng goed. 
  3. Giet die olie, asyn en rooibostee in ’n groot beker en klits goed. 
  4. Voeg die teemengsel by die droë bestanddele en meng goed.
  5. Spuit ’n silikoon-bundtpan goed met kossproei. Giet die beslag daarin en bak sowat 40-45 min lank of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
  6. Bedek die koek halfpad deur die baktyd met ’n vel tinfoelie om te keer dat die bokant nie te donker bak nie (as jy dit in die Airfryer bak).
  7. Laat afkoel in die pan en verkoel tot stewig. 
  8. Plaas die koek op ’n koekstaander.
  9. Afronding: Sif kakao oor die koek en versier met skyfies vars vrugte.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies