Menu terloops
In Wat om te kyk [10 Jan 2025]

‘Lekker & Goed’: Episode 2 se resepte


Smullekker vinkelvark, pampoentert en tuisgemaakte roomys – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die tweede episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker & Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker & Goed’: Episode 2 se resepte

Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus

Dis gin, vriendin

Carmien se gewilde ryk, speseryagtige citrus chai teemengsel is ook gedistileer in ’n unieke jenewer wat die lieflikste drankies oplewer. Voeg vir ekstra geur en mooi ook ’n citrus chai piramiedteesakkie by en rond dit af met tonikumwater. Die citrus chai teemengsel is ’n geurige kombinasie van rooibos en groen heuningbos, droësitrusskille gemeng met ’n ligte chai-speserymengsel van kaneel, kardamom, borrie, gemmer, naeltjies en swartpeper. Dis verpak in ’n pragtige driehoekige teesakkie wat ook bio-afbreekbaar is. Bygevoegde calendula-blomblaartjies dra by tot ’n ligte gelerige kleur.

Genoeg vir 1 drankie

Bereiding: 5 min

1 sopie (25 ml) Carmien Citrus Chai jenewer

1 Carmien citrus chai- piramied teesakkie

Baie ys  

Tonikumwater om mee op te vul

  1. Giet ’n sopie jenewer in ’n glas en voeg ’n citrus chai-teesakkie by. Laat effe staan sodat die tee net effe kan trek. 
  2. Voeg lekker baie ys by en vul die glas verder met tonikumwater.

Vinkelvark-oondbraad met koolwortelslaai

Lekker & Goed

Die oorspronklike resep vir hierdie geurige varkvleisresep met vinkel was met varklies gemaak, maar omdat varklies redelik ryk is met baie tussenspiervet, het ek dit vervang met ’n varkboud en dit sodoende gesonder gemaak. Vark per se is van die gesondste rooivleistipes wat daar is in die sin dat die vet alles aan die buitekant sit en dus maklik verwyder kan word. Die vleis is ook altyd sag en sappig. Waak net daarteen om dit oorgaar te maak, want dan is dit droog. Varknek kan ook gebruik word. Anders as wat baie mense dink, is die “wit strepies” wat mens in die vleis van die varknek sien loop nie vet nie, maar meestal kollageen wat dit heerlik sag en sappig maak. 

Ek maak die vark in ’n aftreksel van Carmien se groen rooibostee met vinkel en fenugriek (Nursing) gaar, ’n tee wat eintlik gebruik word deur mammas wat borsvoed. Maar die ekstra geurigheid van die vinkel saam met die kruierigheid van die groen rooibos dra baie by tot die heerlike geur wat die boud van alle kante binnedring. Die groen rooibos is gelaai met antioksidante. 

Pleks van om die boud met gebraaide aartappels voor te sit, dien ek dit op met ’n heerlike bros, vars slaai van kool en wortel met ’n Oosterse sousie van sojasous en asyn oor, pleks van die gewoonlike mayonnaise wat mens met ’n koolsaai sou verwag. Ek roer ook natuurlike jogurt deur die pansappe om ’n heerlike romerige sous te maak, maar sonder die rykheid van room.

Onthou, vir sout geregte gebruik mens merendeels groen rooibostee, terwyl rooi rooibostee ’n wonderlike soeter geur aan soeter geregte verleen.  

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: sowat 3 uur

Staantyd: oornag

VARK

2 kg ontbeende varknek of -skouer of boud, swoerd klaar ingekeep

sout

60—80 ml (1/4—1/3 k) soet sojasous of andersins heuning gemeng met bietjie sojasous

Paar repe gemmerwortel en suurlemoenskil

1—2 uie en appels, in skywe gesny 

1 liter (4 k) Carmien Nursing tee (groen rooibostee met vinkel-en-fenugriek, gemaak met 8 sakkies of helfte daarvan lemoensap 

10 ml (2 t) vinkelsaadjies om bo—oor te sprinkel

natuurlike jogurt

SLAAI 

10 ml (2 t) elk ment en koljanderblare, gekap

15 ml (3 t) gekapte piekelgemmer

Kwart kopkool, in dun repies gesny

1—2 wortels, skoongeskraap en gejulienne

1–2 nektariens of pruime of ’n pynappel, in blokkies en skyfies gesny

Goeie skoot Japanese rysasyn 

Goeie skoot sojasous

Bietjie suiker of heuning 

  1. Plaas die vark op ’n draadrakkie oor ’n oondpan. Giet kookwater oor die swoerd en druk droog met handdoekpapier. Vryf die swoerd goed met sout in en laat staan oop oornag in die yskas. Voorverhit die oond tot 230°C.
  2. Vryf die vleiskant van die oondbraaistuk in met die soet sojasous of andersins heuning-en-sojasousmengsel. 
  3. Pak die gemmerwortel, suurlemoenrepe, appels en uie in ’n oondbak, plaas die oondbraaistuk met die velkant na bo in die bak, Oondbraai by 230°C of tot die swoerd mooi bruin is, sowat 20 min. 
  4. Verlaag die temperatuur na 160°C. 
  5. Giet die groentee en lemoensap indien gebruik, in die bak, maar moenie dat dit die vetlaag en vel bedek nie, sprinkel die vinkelsade bo-oor, bedek liggies met tinfoelie of bakpapier en oondbak by 160°C vir sowat 2½ uur of tot die vleis heerlik sag is, verwyder die laaste halfuur die tinfoelie sodat die vel weer lekker bros kan word. 
  6. Kook die sous af tot lekker geurig en meng bietjie natuurlike jogurt by.  
  7. Meng die kruie, kool en wortel saam en skep in ’n glasbak. Meng die asyn, sojasous en suiker of heuning saam, giet oor die slaai en sit voor saam met die oondbraaistuk. 

Pampoentert met roomys 

Lekker & Goed

Almal onthou oudag se soet, ryk pampoentert wat so gewemel het van die suiker en die botter en wat as toekos op tafel opgedien is. Die het ek nou heelwat gesonder gemaak deur die suiker en botter met heelwat meer as die helfte te sny (mens kan selfs die botter sommer heeltemal uitlaat) en natuurlike jogurt deur te meng wat nou vir al daardie romerigheid sorg. Pleks as ’n toekos, sit ek dit ook voor vir poeding saam met ’n tuisgemaakte roomys wat ek met rooibostee maak.

1 kg pampoen of botterskorsie, in blokkies gesny 

250 ml (1 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

5 ml (1 t) elk fyn kaneel en sout

180—250 ml (3/4 –1 k) bruinsuiker

3 eiers

250 ml (1 k) volroom natuurlike jogurt 

60 g botter (opsioneel) 

5 ml (1 t) vanieljegeursel 

Gekapte pekanneute vir bo-oor sprinkel 

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ’n groot oondbak se holtes met kossproei.

  1. Stoom pampoen of botterskorsie tot sag en plaas in die bak van ’n voedselverwerker. 
  2. Meng die koekmeel, bakpoeier, fyn kaneel, sout en bruinsuiker saam en voeg by die pampoen. 
  3. Voeg die eiers, natuurlike jogurt, gesmelte botter en vanieljegeursel by en verwerk tot glad. 
  4. Skep die mengsel uit in ’n gesmeerde oondbak en bak sowat 40–50 minute tot gaar. 
  5. Sprinkel gekapte pekanneute net voor opdiening oor. 

TUISGEMAAKTE ROOMYS

My ma se tuisgemaakte roomys was ’n treffer en tog so maklik om te maak – sy het onder andere ’n blik kondensmelk gebruik wat sy by die ryk, styfgeklopte room ingemeng het. Hierdie is my weergawe om daardie roomys na te maak, maar minder soet en ryk – waar ek die dik room deels met skinkroom en natuurlike jogurt vervang en vanielje-rooibostee in skinkroom laat trek het wat ’n heerlike volronde geur aan die roomys verskaf. Carmien se vanielje-rooibostee is die ideale wegspringplek as mens swart tee vir rooibostee wil verruil. Die vanielje saam met die volronde soeterige smaak van rooibos is ’n treffer.

Absoluut heerlik saam met die pampoentert asook malvapoeding.

Maak sowat 750 ml (3 k) roomys

Bereiding: 15 min

Bevriesing: oornag

2 sakkies Carmien vanielje-rooibostee

125 ml (½ k) suiker

125 ml (½ k) skinkroom

500 ml (2 k) volroomjogurt

  1. Voeg die rooibossakkies en suiker by die room en verhit tot net onder kookpunt, roer sodat die suiker kan oplos en verwyder van die hitte. Laat 5 minute trek. Druk die vloeistof uit die sakkies en verwyder die teesakkies.
  2. Voeg die jogurt by en meng deur. 
  3. Giet in ’n plastiekbak en vries. 
  4. Roer ’n paar keer tydens die vriesproses sodat die yskristalle kan opbreek. 

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies