Menu terloops
In Wat om te kyk [17 Jan 2025]

‘Lekker & Goed’: Episode 3 se resepte


’n Smullekker bolognese-gereg, ’n rooibos spritzer, groenslaai en ’n heerlike sjokolade-happie – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die derde episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker & Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker & Goed’: Episode 3 se resepte

Kopiereg op Lekker & Goed-resepte: Carmen Niehaus

Rooibos spritzer

lekker & goed

Vir hierdie liplekker spritzer gebruik ons vonkelwyn pleks van witwyn en gee dit verder geur met ’n lekker sterk rooibos-espresso. Carmien se espresso word met tiptop suiwer rooibostee gemaak is natuurlik kafeïenvry en het ’n lekker sterk amperse fluweelagtige smaak. Die besonderse Cap Classique Brut Rosé van Piekenierskloof met sy aarbei en rooivruggeure is goeie pasmaats met die rooibos-espresso.

Genoeg vir 1 mens

Bereiding: 10 min

15 ml (1 e) Carmien rooibos espresso

ys

30 ml (2 e) Carmien rooibos-en-suurlemoenstroop

Piekenierskloof Wilhelmina Cap Classique Brut Rosé, verkoel

  1. Skep die espresso in ’n teepot en giet 200 ml kookwater oor. Laat goed trek. (Of berei andersins soos beskryf op die pak).
  2. Giet ’n tot (25 ml) van die getrekte espresso in ’n glas en voeg ys by.
  3. Voeg die boegoe-en-suurlemoenstroop by en vul die glas verder met die Cap Classique.
  4. Sit dadelik voor.

Bolognese met spinasie-roomkaas pastaskulpe

Hierdie is ’n variasie op die lasagne wat my ma altyd graag vir ons gemaak het as ons Vrydae dood van die honger by die huis ingestorm het.

Die geurige bolognese-sous is gelaai met groente, uie, soetrissies, eiervrug, murgpampoentjies en lekker baie wortels om dit sodoende gesonder te maak. Wildeklawer se uie en wortels is van absolute topgehalte as gevolg van die goeie boerdery-metodes, wat toegepas word op hul plase. Het jy ook geweet dat Wildeklawer een van Afrika se grootste uie produseerders is en ’n primêre produsent van wortels, beet en aartappels vir beide locale en internasionale markte is?

Soos vir lasagne pak ons gebraaide eiervrugskywe pleks van lasagnevelle tussen die vleislagies en rond dit af met pastaskulpe wat met spinasie-en-roomkaas gevul is.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 40 min

Gaarmaak en bak: 40—50 min

lekker & goed

BOLOGNESE-SOUS

olie

2 uie, gekap

Sowat 250 ml (1 k) Carmien groen rooibostee, gemaak met 2 sakkies

4 knoffelhuisies, fyngedruk

1 rooi of geel soetrissie,in blokkies gesny

1 eiervrug, in klein blokkies opgesny

2–3 murgpampoentjies, gerasper

2 wortels, gerasper

125 g  fyngekapte spekvleis

500 g maer bees maalvleis

3 blikke (400 g elk) gekapte tamaties

250 ml (1 k) Piekenierskloof Tannat rooi wyn 

Groot handvol basilieblare, gekap

Knippie suiker, sout en peper na smaak

SPINASIE-PASTASKULPE

100 g spinasie, fyn gekap

125 g geroomde maaskaas

125 ml (½ k) gerasperde parmesaankaas

24 reuse pastaskulpe (conchiglioni)

SAMESTELLING

4 eiervrugte

Sout

olie

250 ml (1 k) gerasperde wit Cheddarkaas

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n oondbak met kossproei.

  1. Bolognese-sous: Verhit bietjie olie in ’n pan en roerbraai die ui en knoffel tot sag, voeg rooibostee by en smoor tot heerlik geurig. Voeg die soetrissie, eiervrug, wortel en murgpampoentjies daarby en smoor verder tot lekker sag. Voeg die spekvleis by en braai tot gaar. Roer die maalvleis by en braai tot gaar en goed bruin indien verkies. 
  2. Voeg die tamaties en wyn by, verlaag die hitte en laat prut sowat 20–30 minute tot heerlik geurig en meeste van die vloeistof verdamp het. Meng die basilieblare by en geur met suiker, sout en peper.
  3. Spinasie-pastaskulpe: Meng die spinasie, maaskaas en parmesaankaas. Skep in die pastaskulpe. 
  4. Samestelling: Sout die eiervrugskywe en laat staan minstens 10 min vir die vog om uit te trek. Spoel af, druk droog en braai in verhitte olie tot bruin en sag (of bak in die lugbraaier).
  5. Skep ’n laag bolognese-sous in ‘n oondvaste bak en pak ’n laag eiervrugte bo-op. Skep orige maalvleismengsel bo-oor. Rangskik die gevulde pastaskulpe bo-op die bolognaise-sous.
  6. Sprinkel die Cheddarkaas oor en bak sowat 25 tot 30 minute of tot die kaas gesmelt en gereg lekker geurig en warm is. Sit voor met slaai.

Groenslaai in glaspot 

Die rooibosteeslaaisous met sy effense boegoegeur is heerlik saam met die eenvoudige lagieslaai van groenigheid, linte wortels, beet en rooi ui. Wortels wat ryk is aan karoteen, is bekend vir al sy gesondheidswaardes en word nes beet heeljaar lank by Wildeklawer verbou. 

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min

VINAIGRETTE

60 ml (1/4 k) kruie soos Italiaanse pietersielie en basilie, grof opgesny

4 knoffelhuisies, opgekap

60 ml (¼ k) olyfolie

60 ml (¼ k) Carmien Buchu (rooibos en boegoe), gemaak met 1 sakkie

45 ml (3 e) druiwe-asyn of sjerrie-asyn

5 ml (1 t) Dijon-mosterd

Suiker, sout en peper na smaak

SLAAI

baba-spinasie of Cos of roketblare

Wortels in repe gesny met ’n groenteskiller

Beet, in dun skyfies gesny

Rooi ui, in dun-dun skyfies gesny

Boontjiespruite bo-op vir afronding

  1. Vinaigrette: Plaas al die bestanddele in die NutriBullet en kap rofweg fyn.
  2. Slaai: Pak lae blare en groente in ’n glasbak en giet die vinaigrette oor en rond af met boontjiespruite.

Sjokolade-clusters

Donker sjokolade is ryk aan minerale soos yster, magnesium en sink. Dit het ook verskeie gesondheidsvoordele soos dat dit inflammasie verminder en ook die risiko vir hartsiektes verminder. Donker sjokolade kom van kakao, ’n plant wat baie antioksidante bevat. Kommersiële melksjokolade bevat kakaobotter, wuiker en melk en klein hoeveelhede kakao. Daarenteen het donker sjokolade groot hoeveelhede kakao en minder suiker as melksjokolade. 

Die een is ook gelaai met die goedheid van neute en sade asook bosbessies en Turkse appelkose.

Maak 18—20 happies

Bereiding: 15 min

Gaarmaak:  sowat 2 minute

Stoltyd: 1 uur

200 g donker sjokolade, in stukkies gebreek 

200 g amandels, effe gekap (helfte kan ongesoute grondbone wees)

100 g sonneblomsade, gerooster of pampoensade of andersins ’n mengsel van twee

100 g bosbessies 

100 g Turkse appelkose, fyner gesny

  1. Voer 2 bakplate met bakpapier uit en spuit goed met kossproei.
  2. Vryf die skilletjies af van die grondbone indien gebruik.
  3. Plaas die sjokolade in ’n glasbak en mikrogolf 30 sekondes op ’n slag, roer telkens goed en herhaal tot heeltemal gesmelt. 
  4. Meng die die gesmelte sjokolade met die grondbone of amandels, sade en vrugte tot heeltemal bedek.
  5. Skep dan hopies daarvan bykans so groot soos ’n R5-stuk, op die bakplate en laat staan om weer te stol. 
  6. Plaas in die vrieskas tot heeltemal gestol. Bêre in lugdigte houer.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies