Menu terloops
In Wat om te kyk [28 Mar 2025]

‘Lekker en goed’: Episode 13 se resepte


Hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die laaste episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker en Goed’, se eerste seisoen voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker en goed’: Episode 13 se resepte

Kopiereg op Lekker en goed-resepte: Carmen Niehaus

Tequila Sunrise

Die Cranberry Hibiscus-rooibostee is ideaal om ’n pragtige rooi stropie mee te kook en verskaf nie net kleur nie, maar ook ’n spesiale geur aan die drankie.

Per glas:

Suurlemoensap
Sout
Enkel of dubbel sopie tequila
Vars lemoensap
Grenadine-stroop gekook met Carmien se Cranberry Hibiscus Cold Brew rooibostee

  1. Druk die rand van elke glas in suurlemoensap en dan in sout. Laat staan eenkant om droog te word.
  2. Giet ’n sopie tequila in elke glas en voeg lemoensap by tot die glas sowat half vol is.
  3. Voeg ’n sopie van die rooibosstropie versigtig by en sit voor.

Wenk: Gebruik ’n familiegrootte Cranberry Hibiscus-rooibosteesakkie en voeg sowat 500 ml water by. Trek tot sterk en verwyder die sakkie. Voeg sowat 180 ml (3/4 k) suiker by en kook tot ’n stropie. Laat afkoel voor gebruik.

Beesfilet in rooiwyndoek op sout 

Lekker en goed

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min

Filet:

Sowat 150 g botter
1 groot beesfilet, sowat 1,6 kg
1 skoon teedoek of vadoek
750 ml (1 k) Piekenierskloof Pinotage
1 pakkie (500 g) growwe sout
500 ml (2 k) vars kruie soos basilie, pietersielie, roosmaryn, fyngekap
Paar skoongemaakte knoffelhuisies

Roketsous:

1 rooi ui, geskil en in stukke gesny
30 ml (2 e) geroomde peperwortelsous (opsioneel)
2 knoffelhuisies, skoongemaak 
160 ml (⅔ k) roketblare
30 ml (2 e) olyfolie
Sout en swartpeper na smaak
125 ml (½ k) romerige jogurt
Ekstra roketblare

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. 
  2. Smelt die botter in ’n groot plat pan en braai die filet vinnig daarin tot alkant effe bruin.
  3. Plaas ’n groot vadoek in ’n bak en giet ’n bottel rooiwyn daaroor uit. Sorg dat die hele doek met wyn deurdrenk is.
  4. Plaas die doek oop op die tafel en sprinkel die sout oor, hou ’n randjie van so 1 cm reg rondom.
  5. Pak nou kruie en knoffel bo-op en plaas die filet daarop.
  6. Rol die doek oor die filet toe en bind vas met tou. Plaas in ’n oondbak en bak sowat 20 min (groot filet) of 15 min (kleiner filet) tot gaar volgens jou keuse.
  7. Verwyder die doek, sout en kruie en plaas die filet op ’n dienbord. Laat 10 minute lank rus. Sny in 2 cm-skywe en sit voor saam met die roketsous.

Roketsous: 

Plaas al die bestanddele vir die sous in die voedselverwerker en verwerk tot glad. Skep oor die filet indien verkies en rond af met roketblare.

Romerige tamatiesop  

Die sop word met ’n groen rooibostee-aftreksel gemaak. ’n Aartappel sorg vir ’n lekker romerige tekstuur.

Lewer 2,5 liter sop
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 40 min

1,2 kg Romatamaties, gehalveer
8 knoffelhuisies, fyngedruk
1 ui, gekap
1 rooi soetrissie, in stukke gesny
1 aartappel, geskil en in klein stukkies gesny
Olyfolie
Sout en peper na smaak
1 sakkie tamatiepasta
1 liter (4 k) teeaftreksel, gemaak met Carmien se Revive groen rooibostee (brandrissie en gemmer), gebruik 8 sakkies 
5 ml (1 t) cayenne-peper of na smaak
15 ml (1 e) bruinsuiker
30 g basilieblare, gekap

  1. Voorverhit die oond tot 200°C.
  2. Pak die tamaties, knoffel, ui, soetrissie,en aartappel in ’n oondvaste bak, sprinkel bietjie olyfolie oor en geur met sout en peper. Oondbraai 25-30 minute tot die tamaties sag en die rante effe geskroei is.
  3. Skep uit in ’n kastrol, voeg die tamatiepasta en aftreksel by, geur met cayenne-peper, suiker en nog sout en peper soos nodig. Voeg van die basilieblaartjies by.
  4. Bring tot kookpunt en laat prut sowat 15-20 minute tot geurig. 
  5. Maak fyn met ’n staafmenger.
  6. Skep op in bakkies en rond af met basilieblare.

Sorghum-en-saadplatbrode 

Sit hierdie platbrode voor met ’n groentesalsa, Midde-Oosterse piekel en beethoemoes.

Lewer sowat 6 platbrode
Bereiding: 15 min
Rus: 15 min.
Bak: 5-8 min.

Deeg:

160 ml (⅔ k) yswater
60 ml (4 e) olyfolie
250 ml (1 k) klipgemaalde witbroodmeel
250 ml (1 k) sorghummeel
5 ml (1 t) phylliumvesel
sout
ekstra olyfolie
hand vol elk chia-, sesam- en vlassade

Marinade: 

sap van 5-6 lemmetjies of 3 suurlemoene
fyngerasperde skil van 1-2 lemmetjies of 1 suurlemoen
sout en peper
2,5 ml (½ t) komyn
2,5 ml (½ t) paprika
5 ml (1 t) fyngekapte vars knoffelhuisies

Groente: 

625 ml (2½. k) bruin-en-knopiesampioene, in dun skyfies gesny
8-10 baba-Romatamaties, gehalveer
1 groen soetrissie, ontpit en gekap
1 brandrissie, gekap
1 avokado, ontpit en in skyfies of blokkies gesny
1 middelslag-rooi-ui, geskil en gekap
125 ml (½ k) vars mieliepitte
125 ml (½ k) koljanderblare, gekap

  1. Voorverhit die oond tot 230°C. Smeer ’n groot bakplaat en bestuif met meel.
  2. Meng die water en olyfolie.
  3. Plaas die mele, phylliumvesel en sout in die bak van ’n voedselverwerker of elektriese menger met die plastiek- of deeglem. Voeg die
  4. water stadig deur die tuit by terwyl die masjien loop en meng goed tot ’n stywe deeg wat in ’n bol vorm in die bak – meng minstens 5 min. – dan hoef ’n mens dit nie te knie nie. Laat rus 15 min. Deel in 6 bolletjies. 
  5. Rol elke bolletjie so dun as wat jy kan op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Strooi sade oor. Verf met die ekstra olyfolie en bak 5-8 min. tot gaar met ’n paar bruin vlekke en blase. Smeer weer met die olyfolie en sit voor saam met die gemarineerde groente. 

Voorsit: 

  1. Marinade: Meng al die bestanddele.
  2. Groente: Plaas al die groentebestanddele in ’n groot mengbak, giet die sous oor en meng goed.
  3. Maak toe en verkoel sowat 30 min. in die yskas sodat die geure kan ontwikkel. Sit voor saam met die platbrode.

Midde-Oosterse blomkool- en broccoli-piekelslaai 

Ek is gek na Midde-Oosterse smake en daarom het hierdie maklike piekel my dadelik geval. Dit word glad nie gekook nie en kry slegs ’n knippie suiker in. Dis heerlik op slaaiblare saam met sultanas, olywe en feta-kaas of geniet dit saam met platbrode en hoemoes.  

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15-20 min
Gaarmaaktyd: geen

Piekelmengsel:

2 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml (3 e) kappertjiesade
1 brandrissie, fyn gekap
15 ml (1 e) komynsaad
4-6 suurlemoentiemietakkies 
125 ml (½ k) olyfolie
125 ml (½ k) appel-balsamieke asyn met 4% suurgraad of appelasyn
Knippie sout, suiker en varsgemaalde swartpeper

Slaai:

1 rooi ui, in dun ringe gesny
1 kop blomkool, in blommetjies gebreek 
1 kop broccoli, in blommetjies gebreek
Knippie koeksoda
125 ml (½ k) sultanas

Vir voorsit: 

Verskeidenheid jong slaaiblare
50 g okkerneute, gerooster
50 g groen olywe 
1-2 stukke fetakaas
Varsgebakte platbrood, hoemoes (sien resepte)

  1. Piekelmengsel: Meng al die bestanddele saam.
  2. Slaai: Blansjeer die ui, blomkool en broccoli in aparte kastrolle vinnig in kookwater. Voeg ook ’n knippie koeksoda by die broccoli, dit help om die groen kleur te behou. Dreineer en verfris onder koue lopende water.
  3. Pak die ui, blomkool en broccoli in ’n bak, voeg die sultanas by, giet die piekelmengsel oor en laat 3-4 dae in die yskas staan voordat jy dit voorsit.

Voorsit: 

  1. Pak die blare in ’n bak, rangskik die groente bo-op en skep van die piekelmengsel oor. Voeg die olywe, kaas en okkerneute by. 
  2. Sit voor met platbrood en hoemoes (sien resepte).

Beethoemoes 

Maak sowat 750 ml (3k)
Bereiding: 15 min 

Hoemoes 

500 ml (2k) gaar beet 
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer 
3 vet knoffelhuisies, geskil 
1 cm gemmer, gerasper
3 ml (ruim ½ t) sout
Skil en sap van 2 groot suurlemoene
sesamsaadolie (sien resep)
3 ml (ruim ½ t) fyn komyn
3 ml (ruim ½ t) fyn paprika 
Gedreineerde bonevloeistof  soos nodig

Plaas al die bestanddele vir die hoemoes in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.

Aartappelslaai met bros kappertjiesade 

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 30 min

Slaaisous: 

2 knoffelhuisies, fyngedruk
45 ml (2 e) goed fyngekapte kappertjiesade
15 ml (1 e) heelkorrelmosterd
15 ml (1 e) aangemaakte mosterd
80 ml (⅓ k) goeie olyfolie
125 ml (½ k) appelasyn
15-20 ml (3-4 t) suiker
Sout en swartpeper na smaak

Slaai: 

1 kg baba-aartappels, saggekook en skilletjies afgetrek indien verkies
1 rooi ui, in ringe gesny
125 ml (½ k) swart olywe
100 g feta-kaas, grof gebreek
Goeie handvol gekapte pietersielie
Paar repies spekvleis, gebraai en gekap

Afronding:

6-8 langsteel kappertjiesade
Meel (opsioneel)
olie

  1. Slaaisous: Meng al die bestanddele goed saam.
  2. Slaai: Plaas die warm aartappels in die slaaibak en giet die slaaisous oor. Koel af.
  3. Voeg die res van die bestanddele by en meng liggies deur.
  4. Afronding: Druk die kappertjiesade effe droog met handdoekpapier en rol in bietjie meel indien verkies. Braai dan in verhitte diep olie tot net bros. Stapel bo-op die aartappelslaai.

Portugese tertjies 

Lekker en goed

Omdat die suikerstroop redelik soet is, verkies ek om ’n gedeelte versoeter hier te gebruik.

Maak 9-10 tertjies
Bereiding: 40 min
Baktyd: 30 min

Stroop: 

180 ml (¾ k) water
4 Carmien Boost-rooibossakkies 
80 ml (⅓ k) versoeter soos Erythritol
80 ml (⅓ k) suiker

Kors: 

5 velle filodeeg 
kossproei of gesmelte botter
kaneelsuiker gemaak met Erythritol indien verkies

Vulsel: 

325 ml (1⅓ k) volroommelk 
60 ml (¼ k) koekmeel 
Knippie sout 
4 groot eiers, geklits  
5 ml (1 t) vanieljegeursel 
suiker vir bo-oor sprinkel 

  1. Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit die holtes van 9-10 medium muffinpannetjies goed met kossproei. 
  2. Stroop: Plaas die water, teesakkies en versoeter en suiker in ’n kastrol, verhit en roer tot die suiker opgelos het.  Laat kook, sonder om te roer, tot die mengsel lekker stoperig is, sowat 5 minute. Laat afkoel en haal die teesakkies uit. Hou eenkant. 
  3. Kors: Vou elke vel filodeeg in die helfte (in die lengte), herhaal nog ’n slag. Sny nou oop langs die voukante – ek gebruik sommer ’n skêr sodat jy lang repe het. Sny die repe in twee blokke (ek stapel sommer ’n klompie opmekaar op ’n slag).
  4. Spuit nou elke stuk filodeeg met kossproei en pak 2 blokke filodeeg in elk van die muffinholtes. Stuif met kaneelsuiker. Pak nog twee blokke filodeeg bo-op. Bak sowat 10 minute tot net gaar maar nie bruin nie.
  5. Vulsel: Meng 50 ml van die melk met die koekmeel, sout en eiers. Verhit res van die melk tot net onder kookpunt – ek doen dit sommer in die mikrogolfoond. Roer eers net ’n klein bietjie van die warm melk by die meelpasta in, voeg die res stadig by terwyl geroer word. Giet in ’n kastrol en verhit oor stadige hitte terwyl geroer word tot die melkpap verdik.
  6. Verwyder van die hitte en klits die afgekoelde rooibosstroop stadig by. 
  7. Giet die melkpap in die voorbereide filodeegdoppies, vul dit goed tot bo. Bak sowat 30 minute of tot die vulsel gestol is en die melkpap effense swart kolle bo-op maak. 
  8. Koel af en sprinkel suiker oor. Skroei met ’n blaasvlam tot effe geskroei. 

Lekker & Goed se eerste seisoen op kykNET het pas sy laaste episode uitgesaai. Al die episodes van die eerste seisoen is egter nog op Catch Up/DStv Stream beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies