Lee-Ann Gerber en haar swaer, Johann, het kykers vroeër vanjaar op die punte van hul stoele in die laaste episode van die eerste seisoen van Klein Paradys gehad. Daar was groot feesvieringe toe hulle as wenners aangekondig is en R1 miljoen in hul sakke gesteek het.
Haar gewildheid op Klein Paradys het daartoe gelei dat die Fiësta-span haar genader het toe hulle ’n nuwe aanbieder gesoek het. Sy maak Sondag, 6 Julie, haar debuut as aanbieder.
“Ek moes myself ’n paar keer knyp om te besef dat dit nie ’n prank call is nie,” vertel Lee-Ann. “Ek het besluit om ’n kans te waag en het my oudisie-skakel ingestuur. Ek was aangenaam verras toe ek as die nuwe aanbieder gekies is!”

Taai én eg
Lee-Ann het vanaf haar eerste oudisie die produksiespan van Fiësta beïndruk. “Fiësta is outentiek. Met die oudisies het Lee-Ann se egtheid so mooi deurgekom, en ons het gevoel dis wat ons op die program soek,” sê Marius van der Wall, vervaardiger van Fiësta.
Dat sy met Klein Paradys vir ’n maand in ’n tent kon bly, het beslis in haar guns getel. “Fiësta mag glansryk lyk, maar ons skiet soms onder moeilike omstandighede. Die span moet ver reis, in vreemde beddens slaap, spandeer ure op die pad en ontmoet derduisende mense. So, jy moet taai genoeg daarvoor wees, en ons het gevoel sy het daardie toets reeds geslaag. Met die eerste opname het sy net ingeval – dit het gevoel asof sy al lankal deel van die span is.”
“Die vertroue wat Fiësta en kykNET in my as amateur-aanbieder plaas, is groot. Ek voel werklik bevoorreg en dankbaar,” sê sy.
Sy is baie opgewonde oor dié nuwe uitdaging. “Ek sien veral uit na al die verskillende mense wat ek gaan ontmoet en om die dorpies waarvoor mense so lief is te besoek.”
Fiësta word Sondae om 18:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.