Menu terloops
In Gons [5 Sep 2023]

Kyk nou: Eerste lokprent vir ‘Taktiek’, kykNET se nuwe, lawwe komediereeks


Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Marion Holm en Mandri Sutherland is van die grapjasse wat eersdaags in ’n splinternuwe kykNET-komedie, ‘Taktiek’, te sien is.

Kyk nou: Eerste lokprent vir ‘Taktiek’, kykNET se nuwe, lawwe komediereeks
Kyk lokprent

Van Afrikaans se snaaksste komediante en akteurs binnekort in ’n splinternuwe komediereeks op kykNET te sien. Taktiek, vervaardig deur Nagvlug Films wat ook vir die trefferreeks Hotel verantwoordelik was, spog met, onder andere, Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Marion Holm, Mandri Sutherland en Keeno-Lee Hector in die rolverdeling. Hotel het deur die jare verskeie SAFTA-toekennings gewen en is vanjaar vir ’n merkwaardige 13 toekennings benoem. Hotel is ook nou op Showmax beskikbaar as jy lus het vir ’n lekker binge-sessie.

Die plot

Iewers in Suid-Afrika is daar ’n dorpie genaamd Schusterton. En soos enige ander dorpie in die land, het Schusterton ’n sekuriteitsmaatskappy wat na die veiligheid van die inwoners omsien. Daar is net twee probleme. Eerstens is Schusterton die veiligste dorp in die land waar daar min tot niks aangaan nie. Tweedens is die grootbaas tronk toe gestuur vir allerlei ongerymdhede en is die sekuriteitsmaatskappy, Taktiek, nou in die hande van sy dogter.

“Die idee het gekom van ’n behoefte om ’n cop show te maak,” sê Bennie Fourie, wat nie net die rol van Goose speel nie, maar ook een van die skrywers en regisseurs is.

“In Suid-Afrika is daar egter reëls en regulasies oor hoe die polisie weergegee word en die naaste wat ons toe kon kom, is ’n sekuriteitsmaatskappy, maar hierdie een is die veiligste dorp in die land. Dit het ons baie ruimte gegee om te speel.”

Dieselfde span skrywers wat vir Hotel verantwoordelik was, het ook Taktiek geskryf. “Saam met my was Ryan Metcalfe, wat al die pad van Australië help skryf het, Beer Adriaanse, ook die mede-regisseur van Taktiek, en Stiaan Smith, wat gehelp het met die konsep en ook een episode geskryf het. Ons het sowat ’n jaar aan die reeks geskryf, en ons het so ’n noue band dat dit regtig lekker was.”

Hoekom Schusterton?

“Toe ons op die naam van ons fiktiewe dorp moes besluit, het ons gedink om so ’n klein huldeblyk aan Leon Schuster te bring omdat hy vir almal van ons ’n komedie-held was toe ons jonk was,” verduidelik Bennie.

Wie is wie in die reeks?

Bennie is Goose. Sy familie het na Nieu-Seeland geëmigreer, maar hy het gebly om die land veiliger te maak sodat hulle kan terugkom. Hy is bang vir niks nie, behalwe vir emosie.

Schalk Bezuidenhout is Attie, en Mandri Sutherland is sy tweelingsuster, Mignon. Attie doen IT by Taktiek, maar het drome om ’n sekuriteitswag te word, en Mignon hanteer al die oproepe. As sy dit net ’n bietjie vinniger kon doen…

Deon Lotz is Jorrie, die skelm sakeman wat tjoekie toe gestuur word, en Marion Holm is Karen, sy eksvrou met ’n onbetaamlike liefde vir geld. Hulle dogter is Lisa, gespeel deur Leché Joubert, wat deur haar skatryk verloofde Arend (Ludwig Binge) verlaat word omdat hy nie kans sien vir haar familie se skandes nie.

Keeno-Lee Hector is Willy Brown, Goose se beste vriend en ook ’n sekuriteitswag. Hy is verlief op Bronwyn (Melissa de Vries) wat by die plaaslike kroeg werk. James Borthwick is te sien as Venter, ’n knorrige oorlogsveteraan wat al lankal moes aftree, maar as sekuriteitswag werk om die pot aan die kook te hou.

Ander spelers wat in gasrolle te sien is, sluit in Donnalee Roberts, Leandie du Randt, Devonecia Swartz, Antoinette Kellermann en André Weideman.


Taktiek begin op 2 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
5

Totsiens, ‘Wyfie’: S2 se 5 onvergeetlike storielyne

Met die laaste sarsie 'Wyfie'-episodes op hande, kyk ons terug na vyf storielyne wat ons tydens die tweede seisoen van dié baanbrekende Afrikaanse universiteitsdrama geboei het.

Meer
Sien alle opsies