Met die aanvang van vandeesweek se episode van Kokkedoor Vuur & Vlam het daar net vier spanne oorgebly met die spanning én hitte in die kombuis wat so hoog gestyg het dat dit skoon voel asof daar lawa onder jou voetsole is.
Die deelnemers hoor ook dat die spanne wat deur die beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha aangewys is, die laaste paar skofte van dié swoeg-en-sweet-reeks saam aanpak.
Die groot vraag was natuurlik of die nuwe spanne mekaar se ritme sou vind en of iemand iewers die pad byster geraak het…
Die uitdaging
Die spanne se lot is dié keer bepaal deur ’n nommer onderaan ’n piramiede. En elke nommer het ’n land verteenwoordig. Mexiko, Marokko, Brasilië en Indië is die lande wat deur die spanne “besoek” moes word nadat Kobus vir elkeen ’n vlugkaartjie in die hand gestop het en hulle tasse moes oopmaak met bestanddele van hul bestemming.
“Ons wil graag hê dat julle die land se smaakprofiele verteenwoordig op die bord en ook dat julle die gereedskap sal gebruik wat elke land verteenwoordig,” was Bertus se opdrag aan die spanne.
“Daar is vandag geen gas-oonde nie, dis net hier.” Dit beteken geen elektrisiteit of lopende water nie. Dis alles buite in die wind en weer. Genadiglik het die reën nie ook besluit om vandag te kom saamspeel nie.
Elke span moes binne drie uur twee proteïene op die vuur en ’n verskeidenheid bykosse wat groente, stysel en ietsie soet insluit, gelewer het.
Hulle groet…
Die kinkelbraaier Stefan Weitz (36), ’n voltydse sjef van Observatory en sy onthoubraaier-spanmaat, Ferdi Uys (45) van Struisbaai, ’n produksie-adviseur in die mynbedryf, moes uiteindelik groet.

Wat sê Stefan?
Jy’t gesê jy wou aan Kokkedoor Vuur & Vlam deelneem om jouself uit te daag en meer te leer. Het dit vir jou tydens die reeks gebeur?
“Ja, verseker. In elke episode van Kokkedoor Vuur & Vlam moet mens iets anders doen. Van die uitdagings was nie maklik nie en jy moet goed met jou spanmaat werk, ook om seker te maak jy kry klaar. Ek het geleer om met mense te werk met wie ek nie al voorheen mee gewerk het nie. Ook hoe om hulle te vertrou met die uitdaging. En ek het geleer dit is oukei om ’n fout te maak en jy probeer net weer.”
Ferdi was jou vierde spanmaat in die reeks en jy’t buite jou gemaksone gevoel. Hoe het jy dit wel ervaar om saam met hom te kook?
“Elke keer as jy dink jy en jou spanmaat begin nou net lekker saam te kook, dan verander hulle die spanne. Dan moet jy weer begin om jou nuwe spanmaat te leer ken. Met die eerste kook saam moet mens eers jou voete vind in die kombuis. Dit het dit nooit maklik gemaak nie, want iemand gaan altyd huis toe.
“Ek en Ferdi het geweet ons moet baie hard werk. Hy het sy vinger baie sleg gesny met die laaste kook, maar ons het lekker gesels en was reg vir die dag. Ek dink ons het goed saam gewerk en dis jammer dit was net vir die een episode. Ek sou graag nog saam hom wou kook. Ferdi is ’n wonderlike mens!”

Hoe moeilik was dit vir jou om in die buitelug sonder elektrisiteit en water te werk?
“Aan die begin moes jy eers mooi gekyk het waar is alles en dan ook die besef jy het geen elektrisiteit nie. En jy weet ook dat jy vandag gaan hardloop!
“Ek dink ’n mens kan baie goed buite kook met dit wat jy tot jou beskikking het. Als het goed begin tot waar die weer teen ons gedraai het. Die wind was baie sterk en jy dink jy het nog iets op jou tafel, dan het die wind dit gevat.”
Jy’t jouself as ‘lig in die broek’ beskryf rondom rissies. Wat is jou teenvoeter vir daai brand wat jou na water laat smag het?
“Ek hou baie van Indiese kos en die smaak van al die speserye, maar ek en rissies is nie maats nie. Ek is maar lig in die broek, maar vind dat as jy room of coconut-melk by die kos sit, kan dit help met die hitte. Of om dit saam met gewone jogurt te eet.”
Wat sê Ferdi?
Julle het Indië gekies vir jul uitdaging. Het dit jou ’n bietjie angstig laat voel of het jy gedink hierdie een is so reg in julle kraal?
“Ek glo Indië was ’n lekker een om te trek want ons in Suid-Afrika is ook lief vir ’n kerriepot of -tjoppie.”
Jy was duidelik nie vreeslik gesteur deur die wind nie. Wat was jou uitdagendste braai-ervaring nog ooit (uitgesluit Kokkedoor Vuur & Vlam)?
“As jy op Struisbaai bly, is wind sekerlik nie ’n snaakse ding nie en mens raak gewoond daaraan. Ek dink my uitdagendste braai-ervaring was om in die Karoo se winter koue onder die sterre die elemente aan te durf en nog altyd ’n vleisie rég te kan braai.”

Waar het jy aan al jou kos-kennis gekom?
“Die meeste van my kos-kennis kom van my kinderdae in ons huis. My ma was elke naweek wanneer ons van die koshuis af by die huis gekom het, reg met ’n nuwe resep om uit te probeer.”
Tydens jou vorige uitdaging het jy ’n liederlike sny aan jou vinger opgedoen. Het dit jou gekniehalter tydens hierdie uitdaging met daai geelstert wat jy getakel het?
“Die vinger-sny was regtig nie ’n lekker ervaring nie en dit boonop met ’n geelstert wat ek so goed ken. Ek glo filet-messe is nie vir my nie. So, hou maar by wat jy ken. Ek was reg vir die uitdaging en verbaas toe ons nog ’n geelstert kry. Dis soos wat Kokkedoor Vuur & Vlam is, jy pak maar net die vis by die stert en druk deur.”
Aan die einde noem jy dat daar goed is wat niemand van jou af kan wegvat nie en dat jy baie geleer het. Wat dink jy was die waardevolste les vir jou?
“Ek dink een van die waardevolste dinge wat ek geleer het (behalwe die kosmaak) is om jou tyd beter te beplan, nie net in die kombuis nie maar ook in die regte lewe. En ook dat kommunikasie altyd belangrik is.
“Verder dat jy net moet aanhou en nie moed opgee nie. Ek het altyd gesê wie sou ooit kon dink ’n uur en ’n half is net 15 minute lank . . .”

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander Kokkedoor-spanne aangevang het. Foto’s: Verskaf
En die wenners
Dit was kinkelbraaier Lourens Engelbrecht (37), ’n vryskutsjef van Pretoria en sy onthoubraaier-spanmaat Johan de Villiers (30), die operasionele bestuurder van ’n familieplaas naby Durbanville, wat koning gekraai het met hul Marokkaanse disse.

Wat sê Lourens?
Jy en Johan was vantevore spanmaats. Hoe het dit gevoel om weer die uitdaging saam met hom aan te pak?
“Ek was verras toe hulle ons weer saam as spanmaats gesit het, maar ek was ook baie bly omdat ons so ’n goeie band as spanmaats vorm. Saam het ons regtig goed gedoen tydens die uitdagings. Daar is net daai iets tussen ons wat werk. Ons verstaan mekaar en werk so lekker saam in die kombuis. Ons vul mekaar se talent en tekortkominge aan in die kombuis – en kan dit als doen met ’n goeie gesindheid.”
Was jy gelukkig om Marokko as tema te kry of sou jy een van die ander lande verkies het?
“Ek dink enige van die lande waaruit ons moes kies, het sy eie uitdagings gehad maar in ons voorbereiding vir die uitdaging het ons meer aandag aan Marokko gegee. Toe ons Marokko trek was dit regtig net pure luck. Ons het die uitdaging baie geniet, veral noudat ek en Johan weer spanmaats is en ek dink ons borde op die einde het dit gewys.”

Daar was ’n benoude oomblik toe jou resep weggewaai het. Watter plan sou jy gemaak het as iemand dit nie betyds vir jou gered en teruggebring het nie?
“Moeder Natuur het my so bietjie probeer pootjie, maar gelukkig kon ek die resep betyds terugkry want dit was ’n baie spesifieke resep vir ons dadelballetjes. As dit nie gebeur het nie, sou ek maar net op gevoel dit moes maak. Bygesê, die wind het ons darem nie gekeer om die uitdaging met sukses deur te voer nie.”
Jy was bekommerd dat vrees jou geluk vir kos kan steel. Wat vuur daardie vrees aan en in hoe ’n mate dink jy help Kokkedoor Vuur & Vlam jou om daardie vrees hok te slaan?
“Die vrees word aangevuur omdat ek gedink het dat ek nie goed genoeg is as ’n sjef nie. Ek was so gereeld net-net goed genoeg vir tweede beste in ’n kombuis.
“Deur die Kokkedoor Vuur & Vlam-reeks het ek baie van myself geleer. Ek hoef nie so hard op myself te wees nie, en ek weet dat kos my passie is en dat ek uit my hart uit kos maak. Ek het my vrees oorkom en weet dat my waarde en insette in my besigheid die vrugte daarvan gaan pluk.”
Wat sê Johan?
Jy was opgewonde oor die moontlikheid van Marokko vir julle tema. En daar kies jy dit toe so wraggies. Wat maak van Marokko so ’n aanloklike bestemming vir jou? En watter land sou jou tweede keuse gewees het?
“Marokko was vir my aanloklik omdat ek bekend is met die geure en ek het al ’n hele paar Marokkaanse disse in my lewe gemaak. Dis ’n kombinasie van rook, speserye en tradisie.”
Jy het vertel van jou pa se potjie tydens die pa-en-seuns-naweke. Brei gerus meer uit oor sy resep met heuning . . .
“Dit is ’n pot wat my ouers in die Huisgenoot van die 70’s opgespoor het. Dit was altyd ’n go to-resep vir ons familie-geleenthede. My pa het ook hierdie resep gemaak by die pa-en-seun-naweke toe ek in Helshoogte was. Dit was altyd ’n treffer.”

Hoe het dit gevoel toe Bertus die “moeilike” ding sê – dat hy alles wat julle voorgesit het, wil eet? En baie daarvan.
“Dis is een van die grootste komplimente wat ’n mens in daai kombuis kan kry! Bertus is nie skaam om eerlik te wees nie, so as hy dit sê, weet jy jy’t iets reg gedoen. Dit gee jou sommer ekstra momentum vir die volgende uitdaging.”
Jy en Lourens het elkeen vir julle self as die wenspan gekies vir hierdie uitdaging. Was dit wensdenkery of het die vlinders in die maag net gesê julle moet dit waag?
“Ek dink dit was ’n kombinasie van hoop en vertroue. Jy weet nooit wat gaan gebeur nie, maar daar was iets in die atmosfeer – ons was in ’n goeie ritme, ons kombinasies het gewerk, en ons het regtig die kos gevoel. Die vlinders was daar, maar hulle het in die regte rigting gevlieg!”
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.
