Die tweede seisoen van DStv Stream se Koek-misdaadkomedie is in volle swang met ’n snelle pas en etlike kinkels wat die spanningsdrade al stywer vir kykers span.
Deel van dié resep is die nuwe karakters wat die draaiboekskrywer en mederegisseur Christiaan Olwagen (Die Oord, Poppie Nongena) tot die tweede aflewering van dié bekroonde misdaadkomedie gevoeg het.
Daaronder tel drie karakters wat tot dusver al vir ’n hele paar skokkende oomblikke gesorg het: die veteraanakteur Frank Opperman as moreel-korrupte bendebaas Tjoppie Terreblanche, sy storieseun in die kykNET-reeks Nêrens, Noord-Kaap, De Klerk Oelofse, as Tjoppie se niksnut-seun Tiny, en Donkerbos-aktrise Leandie du Randt as Tjoppie se sesde vrou, Veronika.
Hoewel Frank en De Klerk ook in Koek pa en seun vertolk, is die verhoudingsdinamika dramaties anders as in Nêrens, Noord-Kaap. Juis daarom was De Klerk nie juis bekommerd oor of kykers nie verby hul vorige storie-verhouding sou kon sien nie. “Ek dink die twee reekse verskil so in styl en aanslag, dat ’n mens eintlik glad nie die karakters in dieselfde lig kan sien nie,” meen De Klerk.

En hoe onbeholpe sy karakter dalk is, dink hy tog kykers kan vir hulself by Tiny skaar. “Ag, ek is ook self nogal ’n people pleaser. So wat my vir my interessant van Tiny is, is hoe sy hele bestaan wentel rondom sy pa se aanvaarding. Sy begeerte om sy pa se liefde te wen, dompel hom telkens dieper in die moeilikheid. Sy strewe na iemand wat hom liefhet, en die feit dat hy enigiets sal doen om daardie liefde te kry, is iets waarmee meeste mense kan vereenselwig.”
Tiny, voeg De Klerk by, pas nie regtig iewers in nie. Juis daarom word hy genoop om vir homself ’n persoonlikheid te skep om “op te maak vir waar hy tekortskiet”.
Wie wil nou vervelig wees?
Maar so hard soos wat Tiny probeer, kan hy nie sy pa se guns wen nie. Nie eens ’n klein bietjie nie. Inteendeel – soos Tjoppie daar in sy rolstoel sit, is hy ryp met minagting vir sy seun.
Tjoppie is ’n slymerige, geslepe skelm – presies die tipe karakter wat Frank so terdeë geniet om in te klim. “Ek het maar net ingespring en die Tjoppie Terreblanche in myself gaan soek,” vertel Frank oor sy aanslag tot dié rol.

“Daar is altyd iets aan ’n slegte ou wat ek geniet. ’n Sluwe karakter is net soveel meer interessant as ’n vervelige, gewone ou,” meen hy. “En, as jy hom só kan speel dat mense so effe simpatie met hom het, dan dink ek jy het hom reg. Ek hoop dat mense ook darem van hom hou; dat hulle nie net niks vir hom voel nie.”
Dit was nie net ’n reünie vir Frank en De Klerk op stel nie. Frank en Leandie het ook jare terug saam in Paul C. Venter se Vlug na Egipte gespeel.
Leandie vertel laggend hoe Frank destyds vir haar geleer het hoe om dronk te speel. “Ek het ’n baie sagte plekkie vir Frank. Ons het baie tyd saam spandeer destyds, so ek ken vir Frank al goed. Maar hierdie keer . . . Hierdie keer moes ek met my tong aan die kant van sy gesig lek én ek moes hom soen – en hy is letterlik so oud soos my pa! Ons het so gegiggel elke keer as ons cut, net ná ek my tong in sy oor moes druk of hom moes soen.”
Dit is egter juis omdat hulle mekaar so goed ken, dat hulle dié tonele so goed kon vertolk, deel Leandie. “Ons kon eerlik vir mekaar vra, ‘Is jy gemaklik daarmee as ek dit doen? Is jy gemaklik as ek dat doen?’ As akteurs is ons opgelei om baie professioneel daaroor te wees. En boonop is daar iets wat gebeur as hulle sê, ‘Aksie!’. Jy gaan so heeltemal in ’n ander wêreld in dat jy vergeet wie Leandie en wie Frank is, en jy fokus net op die toneel.”
Sy voeg by: “Frank is fantasties. Dieselfde met De Klerk – dit was ook ongelooflik om teenoor hom te speel. Hy is so talentvol.”
Oorlewing en oordeel
Oor haar karakter, Veronika, sê Leandie: “Veronika is sterk. Sy is ’n vegter. En soms in die lewe moet ’n mens besluite maak wat nie alle vroue die dapperheid sou hê om te maak nie. Maar Veronika het daardie dapperheid,” vertel sy.
“Sy is ’n besonderse karakter. Jis, ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid, ek wou nog altyd, altyd saam met Christiaan Olwagen werk. Wat my opgewonde gemaak het, is om te sien hoe haar karakter ontwikkel. Vir my was dit belangrik om die storie te vertel van maak nie saak waar jy begin of watse kaarte jy gekry het of wie jou oorgeskroef het nie – jy kan uit dit kom en jy kan jou situasie omdraai. Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe sterk sy is. Ek dink Christiaan het dit so mooi reggekry in hoe hy dít geskryf het.”

Volgens Leandie is Veronika ’n spieël vir vroue wat vir hulself moet veg. “Wat al goed moes doen wat nie noodwendig lekker is om te doen, of noodwendig moreel korrek is om te doen nie. Maar dit is wat sy móés doen om te oorleef.”
En ja, sommige kykers sal vir Veronika oordeel. Maar, sê Leandie, dís iets wat akteurs nooit met hul karakters mag doen nie.
“Ek dink dit is verskriklik belangrik dat jy voordat jy ’n rol speel, uitpluis wat die karakter se sterkpunte is, wat is die uitdagings wat sy deurgaan? En om dan vir haar op te staan. Ek as Leandie moes eers vir Veronika in my kop opstaan en verstaan hoekom sy doen wat sy doen.
“En ek kon haar geensins oordeel nie. Want as ek haar speel en ek oordeel haar, en ek dink, ‘Jissie, hoekom doen sy dit? Ek sou dit nooit gedoen het nie!’, dan gaan die kykers ook so voel. Maar as ek haar aanvaar en ek gee vir haar ’n veilige ruimte binne-in my om daar te leef, hoop en glo en vertrou ek dat kykers daarmee kan vereenselwig.”
Nuwe episodes van Koek S2 word weekliks op DStv Stream se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette vrygestel. Alle DStv-intekenare met ’n aktiewe dekodeerder-intekening het gratis toegang tot DStv Stream, maar dis ook as ’n losstaande stroomdiens beskikbaar.