Die eerste klompie episodes van Koek se tweede seisoen het ’n dolle pas aangegee met nuwe, sluwe karakters en spanningsvolle kinkels wat kykers geheel en al onkant betrap het.
Ja, Christelle (Cindy Swanepoel) het wel ’n paar harde houe weg ná Adrian (Stian Bam) se ontrouheid, maar haar eerste wipwa-rit deur die donker onderwêreld van niere oes, het haar ook ’n klipharde vasberadenheid gegee. Stil en soet sal sy nie sommer weer wees nie.

Terwyl Moekie (Sandra Prinsloo) haar terugkeer as formidabele bendebaas orkestreer, is daar ook nuwe skurke wat toetree: die vreesaanjaende leier van ’n motorkapingsindikaat, Thinus “Tjoppie” Terreblanche (Frank Opperman), dié se sesde vrou in dubbele denim, Veronika (Leandie du Randt), en sy papbroekseun, Tiny (De Klerk Oelofse).
Die nuwe reeks se tien episodes is eksklusief beskikbaar op DStv Stream, binne die Showmax-afdeling van DStv se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette.
Hier is 12 interessante feite oor die nuwe seisoen, wat nou ernstig begin momentum optel:
Die vervaardigers, Wolflight Films, het op 9 Junie 2025 met verfilming aan Koek se tweede seisoen begin, met die eerste twee episodes wat op 9 Junie 2026, presies ’n jaar later, uitgesaai is.
Die span het vir 48 dae geskiet, en daar is altesaam ’n allemintige 216 karakters in die tweede seisoen te sien.
Koek is weer in Kaapstad verfilm met die Lush-ontkleeklub in Bellville wat as die buitekant van Koeksusters gebruik is, en die Legs Lounge in Seepunt as die binnekant.
Agter die kameras het Eva du Preez by die span as mede-regisseur en redigeerder aangesluit. Eva het haar regiedebuut met die bekroonde telenovela Wyfie gemaak.
Christiaan Olwagen (draaiboekskrywer en mede-regisseur) en Eva het ook met die kykNET-misdaaddramareeks Die oord hul kragte saamgesnoer. Christiaan was by Die oord as draaiboekskrywer betrokke, en Eva was in die regisseurstoel.

Christiaan en Sandra Prinsloo (Moekie) het saam aan die speelfilm A Kind of Madness gewerk. Dié prent is ook deur Wolflight Films vervaardig, en beide Christiaan en Sandra het Safta-toekennings ontvang – Christiaan vir sy teks en Sandra vir haar spel.
Loki Rothman, wat ’n Safta-benoeming vir beste oorspronklike liedjie in ’n TV-drama vir Koek S1 ontvang het, het ook die tweede seisoen se klankbaan behartig. Eva meen Loki se musiek “vat die energie en toon van die reeks regtig perfek saam”. Van die nuwe snitte sluit in “Tokyo Drift in Bellville”, “Tiete en Tjorre” en “TT Gang”.
Die produksiespan het ook besluit om die Kaapse reënweer in hul guns te laat tel in dié seisoen. Daarom het byna elke karakter ’n sambreel byderhand en gereed gehad, sou die reën hulle inhaal. “In plaas daarvan om voortdurend teen die weer te baklei, het ons dit sommer deel van die wêreld van Koek gemaak,” sê Eva.
As jy vroeër vanjaar na Frankie Opperman se dokumentêre reeks oor sy pa, die veteraanakteur Frank Opperman, gekyk het, het jy ook ’n voorsmakie van Frank as Tjoppie Terreblanche, angswekkende (én antieke) misdaadbaas, gekry. Die dokkiereeks Frank het ’n blik gegee van wat agter die skerms tydens verfilming gebeur het, met Opperman wat vertel het dat Christiaan Olwagen hom geweldig met die eerste seisoen van Koek beïndruk het en dat hy verkies om booswigte te vertolk. “Ek was so bevoorreg om met Koek 2 sekerlik die grootste booswig te speel wat ek nog ooit in my lewe gespeel het,” het hy gesê. Hy het ook erken hy was maar angstig om vir die eerste keer teenoor Sandra Prinsloo te speel.

Leandie du Randt as Tjoppie se sesde vrou, Veronika, het een van die sappigste storielyne dié seisoen. Wees gewaarsku: Daar steek veel meer in Veronika as wat jy met die eerste oogopslag sou raai.
Die eerste seisoen was nie net gewild onder kykers nie – dit het ook verskeie plaaslike benoemings en toekennings ontvang. Hieronder tel Koek se vier Silwerskermtoekennings vir beste akteur en aktrise in ’n drama vir Jacques Bessenger en Cindy Swanepoel, asook vir beste manlike en vroulike byspeler in ’n drama vir Dawid Minnaar en Sandra Prinsloo.

Koek het ook internasionale erkenning gekry toe dit verlede jaar vir ’n Internasionale Emmy benoem is. Tesame met MultiChoice se Catch Me a Killer, Chasing the Sun en School Ties het Koek se benoeming van Suid-Afrika die Afrika-land gemaak wat die meeste benoemings nog in een jaar ontvang het
Nuwe episodes van Koek S2 word weekliks op DStv Stream se Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette vrygestel. Alle DStv-intekenare met ’n aktiewe dekodeerder-intekening het gratis toegang tot DStv Stream, maar dis ook as ’n losstaande stroomdiens beskikbaar.