Menu terloops
In Sepies [17 Mei 2023]

Illse Roos se Rita keer terug na Ruiterbosch in ‘Suidooster’


Sepiekykers het waarskynlik gedink dinge gaan dalk vir ’n tydjie windstil raak in ‘Suidooster’, maar dit lyk of daar ’n stormagtige winter aan die broei is met Rita (Illse Roos) se terugkeer na Ruiterbosch.

Kyk nou

Illse Roos se Rita keer terug na Ruiterbosch in ‘Suidooster’

Kykers kom nog tot verhaal ná die afsterwe van ’n geliefde karakter in Suidooster, maar oor die komende weke is daar nog baie drama op pad… waaronder die terugkeer van Rita (Illse Roos) na Ruiterbosch.

Vroeër vandeesmaand het dié SATFA-bekroonde kykNET-sepie in ’n skokkende kinkel afskeid geneem van die veteraanakteur Cedwyn Joel. Suidooster-kykers was geheel en al onkant betrap met die afsterwe van sy karakter, AB Samsodien, ná ’n skerpskutter hom (per ongeluk) in plaas van Dirk (Evan Hengst) geskiet het.

Intussen moes Suidooster-aanhangers toekyk hoe AB se weduwee Mymoena (Jill Levenberg) rou oor haar man terwyl sy tweelingseuns Rhafiek (Irshaad Ally) en Rhiyaaz (Anton Jeftha) in ’n oorlog met mekaar gewoed is oor sy testament.

But wait…there’s more! Oor die komende weke word nóg stormsterk-drama voorspel.

Die grootste verrassing is die terugkeer van Rita du Plooy, Tim (Marco Spaumer) se ma. Kykers het Rita terug in 2016 ontmoet. Sy keer nou terug na Ruiterbosch nadat sy vir jare behandeling vir skisofrenie ontvang het.

Rita (Illse Roos) terug in Ruiterbosch in Suidooster.
Rita (Illse Roos) terug in Ruiterbosch in Suidooster. Foto: Verskaf

Sagte plekkie vir Rita

Illse sê dit is vir Rita moeilik om weer terug in Ruiterbosch te wees. Dit het ook vir Tim onkant gevang. Hy het nie besef die mediese sentrum waar sy behandel is, het sy ma ontslaan nie.

“Dit is vir Rita ’n konstante herinnering van hoeveel sy van haar lewe, en hoe baie sy van Tim se lewe gemis het,” sê Illse in ’n mediaverklaring.

“Tim is haar hart se punt. Sy was nie daar vir soveel van Tim se groot oomblikke in sy lewe – soos vir sy troue – nie. Dit knaag aan haar.”

Volgens Illse, is Ruiterbosch ’n baie ander plek as sewe jaar gelede met talle nuwe gesigte.

“Sy maak tog ’n paar nuwe vriende en Elana (Esther van Waltsleben) word vir haar ’n hartsvriendin. Maar dan is daar ook ongure karakters wat Rita as ’n pion vir eie gewin wil gebruik.”

Oor haar karakter sê Illse dat sy ’n “sagte plekkie” vir Rita het. 

“Rita is ’n interessante pakkie, maar ek geniet haar vreeslik. Sy’s uitputtend, maar ’n heerlike uitdaging en ek is dankbaar om weer in haar skoene te kan klim.”


Suidooster, wat in 2022 met ’n SAFTA-toekenning as beste sepie bekroon is, saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie uit (ook aanlyn op DStv se stroomplatform beskikbaar.)

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer
Sien alle opsies