Menu terloops
In Lysie-lysie [21 Feb 2022]

Meisiekarakters op TV wat jonges inspireer


Doc McStuffins, Ada Twist, Nella die ridder-prinses…ʼn Mens hoef deesdae nie ver te soek om goeie kinderprogramme op te spoor met sterk, interessante en diverse meisiekarakters nie.

Deur Riëtte van der Wat
Meisiekarakters op TV wat jonges inspireer

Daar is deesdae baie voorbeelde van sterk, selfstandige, slim meisiekarakters in kindertelevisie om reeds voorskool vir jou kinders ʼn gebalanseerde begrip te gee oor meisies en seuns se (gelyke) rol in die samelewing.

Daar was ʼn tyd nie so lank gelede nie wat akademici nog lang referate geskryf het oor die tekort aan vrouestemme in kindertelevisie, en oor die stereotipiese maniere waarop seuns en meisies in kinderinhoud uitgebeeld is.

Dit lyk egter asof daardie dae verby is.

Om die waarheid te sê doen vervaardigers en stromingsdienste soos Netflix oënskynlik baie moeite om ʼn meer diverse prentjie te skets van die rolle wat mans en vroue in die samelewing vervul. Dis bemoedigend om te sien.

Laat ek sommer uit die staanspoor sê dat die idee met dié artikel nie is om kinder-TV met seunskarakters uitmekaar te skeur, of om te sê daar is iets fout daarmee as dogtertjies kies om reekse te kyk waarin die karakters teepartytjies hou en hulle naels verf nie.

Inteendeel. My sesjarige seun is mal oor Wild Krats (PBS) waarin twee waaghalsige broers die natuur verken. Die vierjarige kan weer nie genoeg kry van Blippi (Netflix) nie.

Dogtertjies is glo op die oomblik mal oor Gabby’s Dollhouse op Netflix. In dié reeks word elke moontlike pastelkleur ingespan en is daar miniatuur pratende kolwyntjie-katte. ʼn Regte dogtertjiefees (dankie Minki).

ʼn Vriendin sê weer haar agtjarige se gunstelingkykstof is Bear Grylls.

ʼn Ander een se twee dogters geniet ʼn Barbie-storie net soveel soos ʼn natuurprogram van David Attenborough.

Die wonderlike ding is egter dat meisiekarakters deesdae op veel meer diverse maniere uitgebeeld word as in die verlede – meisies hoef nie meer met ʼn enkele beeld van vroulikheid tevrede hoef te wees nie.

Kindertelevisie kan positiewe rol in ontwikkeling speel

Daar was ʼn tyd toe navorsing bewys het seunskarakters het meer spreekbeurte. Só ook dat hulle in die meerderheid gevalle die hoofkarakters van kinderinhoud is. Terselfdertyd is meisies dikwels in tradisionele rolle uitgebeeld, en bitter selde as avonturiers, dokters of wetenskaplikes. Daardie dae is hopelik vir goed verby.

Voor jy jou oë hiervoor optrek, navorsing het al oor en oor bewys watter groot rol televisie-inhoud op kinders se vormende sienings en kennis van menswees en die wêreld het.

Voorskoolse kinders begin reeds konsepte vorm oor hoe meisies en seuns veronderstel is om op te tree. Volgens kognitiewe ontwikkelingsteorieë internaliseer kinders die manier waarop verskillende geslagte op televisie uitgebeeld word.

Hoe minder geslagsstereotipes in kindertelevisie uitgebeeld word – en hoe gelyker die uitbeelding van meisies en seuns – hoe kleiner word die waarskynlikheid dat kinders mense op grond van geslag stereotipeer.

Die hartseer realiteit is ook dat baie kinders steeds nie veel blootstelling kry aan maats wat anders as hulle lyk, dink of klink nie.

Skole is steeds (in heelparty gevalle) homogeen. Ouers se vriendekringe teken nie juis ʼn ander prentjie van die samelewing waarin ons leef nie.

En dit is waar goeie kindertelevisie ʼn positiewe en opvoedkundige rol kan speel.

Die interessante ding van die lys programme wat hier volg, is dat dit nie net sterk meisiekarakters uitbeeld nie, maar ook sterk seunskarakters (dikwels as side kicks of beste vriende).

In die meeste gevalle is daar in dié inhoud ook heelwat ander goeie waardes waarmee kinders vandag gerus meer te doen kan kry: vriendelikheid, omgee, opoffering, mislukking en die waarde van spanwerk. Ook die wonder van individualiteit en die towerkrag van vriendskap. In die meeste gevalle weerspieël dié reekse ook kultuur- en rassediversiteit.

Hier is ʼn paar gunstelinge:

1

Doc McStuffins

Doc McStuffins (Disney Junior, DStv-kanaal 309) is seker een van die bekendste kinderprogramme met ʼn sterk vroulike hoofkarakter op die kassie.

Doc se skepper, Chris Nee, het gevoel daar is nie genoeg verteenwoordiging van vrouekarakters op kindertelevisie nie. Sy het toe met ʼn dogtertjie vorendag gekom wat speelgoed met deernis en knap planne reg dokter.

Sommige grootkoppe by Disney was glo skepties oor of ʼn reeks met ʼn meisie as hoofkarakter veel aftrek sou kry. Verkope van miljarde dollar binne die eerste jaar ná die reeks in 2012 geloods is, het egter die teendeel bewys.

Soos die geval met van die ander programme op dié lys, was die skeppers slim. Daar is genoeg karakters waarmee seuns kan identifiseer om hulle in te trek en lus te maak om verder te kyk (ʼn plastieksoldaatjie is maar net een voorbeeld).

Kinders bly maar kinders en sulke karakters is ʼn wortel voor seuns se neus (ek praat uit ervaring). Maar wanneer hulle eers begin kyk en al die karakters leer ken, maak geslag minder saak. Die prettige storie word hoofsaak en subtiele lesse oor gelyke geslagsidentiteit vind dalk net neerslag.

2

Nella the Princess Knight (Showmax) is presies wat die titel sê: ʼn prinses, maar ook ʼn ridder. Sy het ʼn swaard en wapenrusting met ʼn hartjie op en haar perd is ʼn eenhoring met pienk maanhare, Trinket.

Nella is ʼn voorbeeld van ʼn meisie wat ewe gemaklik is met ʼn mooi rok en om baba drake op te pas as om ʼn trol wat die dorpsmense bangmaak vas te trek. Dis goed vir meisies om te sien hulle hoef nie te kies tussen sag of sterk wees nie.

Daar is ook karakters waarby seuns sal aanklank vind, soos Nella se beste maat Sir Garrett en sy perd, Clod. Hulle is baie beïndruk met Nella wanneer sy haar wapenrusting aantrek en verklaar luidkeels: “Now that’s a knight in shining armour!

3

Earth to Luna (Showmax) is ʼn flits-animasiereeks wat op voorskoolse kinders gemik is. Allerlei wetenskaplike onderwerpe word in dié reeks op ʼn toeganklike manier ondersoek.

Die animasie is dalk nie so gesofistikeerd soos van die ander reekse op hierdie lys nie, maar dis baie vrolik en kleurvol.

Luna is ʼn nuuskierige, innemende karaktertjie wat opgewonde raak oor vrae soos of piesangs sade het en waarom sterre vonkel in die aand. Sy moedig kinders aan om nuuskierig te wees oor alledaagse dinge en oor die wêreld om hulle. Ook om nie net op grootmense staat te maak om vrae te beantwoord nie, maar om self eksperimente te doen om antwoorde te vind.

Moeilike terme word ook toeganklik aangebied.

Boonop is sy baie hoflik teenoor ander mense en gee sy om vir haar kleinboet, Jupiter.

Dis lekker om ʼn reeks vir voorskoolse kinders te kyk waarin die hoofkarakter nie dink sy is die kat se snor nie (Peppa Pig kan dalk ʼn les of twee by haar leer).

4

Magic Schoolbus

Magic Schoolbus (Netflix) bly maar net ʼn wenner, of jy nou na pure pret of opvoedkundige vermaak op soek is.

ʼn Groot deel van die sukses is te danke aan Miss Frizzle, die briljante, vreeslose onderwyser wat haar leerlinge uitdaag om op ongelooflike, maltrap maniere te leer en hulle uitdaag om vir hulleself te dink.

Biologie-les? Miss Frizzle neem die klas tot binne-in iemand se lyf. Aardrykskunde? Sy verander sommer gou haar leerders in verskillende klipformasies om te leer oor die aardkors of fossiele.

Die aktrise Kate McKinnon verleen aan dié sterk vrou haar stem.

Daar is kritici op aanlynplatforms wat voel Netflix se nuwe weergawe van Miss Frizzle het haar minder eksentriek gemaak as haar voorganger (met Lily Tomlin van Grace and Frankie se stem) uit die oorspronklike reeks in die 90’s. Dié kritici meen sy dra nie meer so openlik feministiese boodskappe oor nie en dat sy boonop té mooi is in die nuwe weergawe.

Ek het nie die oorspronklike reeks gekyk nie en daarom kan ek nie eintlik hierop kommentaar lewer nie.
Myns insiens is Miss Frizzle steeds ʼn ikoon vir onafhanklike, vreeslose vroulikheid.

5

Ridley Jones

Ridley Jones (Netflix) is nog een van Nee se skeppings. Soos haar naam verklap, is sy ʼn nuwerwetse (jonger, aansienlik minder bitterbek) weergawe van die golden oldie, Indiana Jones. Ouers sal die verwysing waardeer.

Ridley woon saam met haar ma en ouma in ʼn boomhuis in ʼn museum en sy vind uit die museum se inwoners word saans lewendig.

Dit beteken ʼn onuitputbare bron van avonture en uitdagings wat Ridley en haar maats saam moet trotseer. Die temaliedjie lui nie verniet: “She shines when adventure is near” nie.

Buiten dat sy dapper is, is Ridley vriendelik en sal kinders van empatie by haar kan leer.

Boonop is diversiteit aan die orde van die dag in Ridley Jones. Fred, die oulike bison, is nie-binêr en Ismat, die mummie-prinses, het twee gay pa’s. Kinders sal tien teen grootliks een onbewus wees van dié inklusiewe verwysings, maar dit dra by tot die normalisering van ʼn verskeidenheid gender-identiteite.

Die akteurs wat die stemwerk doen is boonop nie liggewigte nie. Sutton Foster van Younger-faam verleen haar stem aan Ridley se ma en haar ouma word vertolk deur Blythe Danner.

6

Ada Twist Scientist

Ada Twist Scientist (Netflix) is ’n fantastiese reeks.

Dit merk al die boksies as dit by positiewe, opbouende kykstof met sterk meisie- én seunskarakters kom. Soos dikwels die geval met ’n TV-treffer soos dié, is Ada Twist deur ’n kinderboek met dieselfde naam deur Andrea Beaty geïnspireer.

Die reeks is ontwikkel deur die vervaardiger Chris Nee, wat ook vir die gewilde Doc McStuffins verantwoordelik is. Nee is ʼn Iers-Amerikaanse kinderdraaiboekskrywer en het haar tande geslyp met internasionale produksies soos Sesame Street.

Boonop is dit vervaardig deur Higher Ground, die produksiemaatskappy wat Michelle en Barack Obama saam met Netflix bedryf. Dit sê nogal iets oor die gravitas van die inhoud.

Maar moenie bekommerd wees nie, daar’s niks hoogdrawend of vervelig hier nie. Dié reeks gaan oor die leergierige Ada, die wetenskaplike op die span, wat alledaagse probleme en vrae met ʼn wetenskaplike aanslag probeer oplos saam met haar beste maats Rosie Revere, ’n ingenieur en Iggy Peck, ’n argitek. 
Waarom stink skoene? Hoekom word ʼn mens elke dag op dieselfde tyd wakker? Waarom kan jy glitter van jou vingers afkry nie?

Niks superkragte of magte hier nie – die kinders takel probleme prakties en as ʼn span en op wetenskaplike maniere. Planne word bespreek, deurdink en verfyn. Die maats bou mekaar op en moedig mekaar aan.

Vriendelikheid, positiewe gesinsverhoudings en vriendskap is maar net enkele van die reeks se ander deugde.

Ná elke episode gesels ʼn vroulike kenner (van wetenskaplikes tot ingenieurs) oor ʼn interessante, onderwerp soos ruimtereise, stinkerige kaas en ruimteklip.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies