Menu terloops
In Gons [11 Sep 2024]

Hannon vertel oor ‘Glam Guru’ se nuwe seisoen


Oktober gaan die mooiste maand op kykNET wees wanneer die gewilde voorkomstransformasie-reeks, ‘Glam Guru’, met die skoonheids- en modeghoeroe Hannon Bothma, vir die 23ste keer terugkeer.

Hannon vertel oor ‘Glam Guru’ se nuwe seisoen

Glam Guru, wat moontlik gemaak word deur GoBusiness en Sally Slimming Studio, beloof om weer kykers te inspireer soos ’n aspoestertjieverhaal voor hulle afspeel. Hannon vertel meer oor die nuwe seisoen.

Hoekom dink jy is Glam Guru so gewild onder kykers?

“Ek sou sê vir twee redes. Mans en vroue, ons kykers, hou van die Aspoester-verhaal waar enigiemand die potensiaal het om totaal te transformeer.

“Die ander rede hoekom Glam Guru so gewild is, is omdat ons wenke en produkte gebruik wat gewone mense kan bekom. Ons maak gebruik van deelnemers waarmee die kyker kan identifiseer, mense van alle vlakke van die samelewing. Ons identifiseer baie spesifieke voorkoms-uitdagings en ons adresseer daai uitdagings vir die kyker. Ons sê as jy byvoorbeeld ’n olierige vel het, dan is dít hoe jy dit kan bekamp. Mense kan nog elke keer leer.

“En dan natuurlik, Glam Guru gee hoop aan gewone mense. Jy weet, in ons wêreld is dit somtyds baie moeilik om wat rondom ons gebeur, te beheer. Maar die een ding wat ons kan beheer, is ons voorkoms. Jy kan in die oggend opstaan en besluit ek gaan my hare kam, of nie. Ek gaan ’n lipstiffie aanwend, of nie. Deur jou voorkoms te beheer, gee jy jouself ’n beter kans om ook jou uitdagings te beheer.”

Wat is nuut en anders aan hierdie seisoen?

“Daar is ’n paar baie interessante en goeie veranderinge wat in dié seisoen van Glam Guru gaan geskied.

“Ons luister na ons kykers wat vir ons vertel wat hulle graag wil sien. En vir jare het ons al uitnodigings gekry van wonderlike kykers wat graag wil hê dat ons manlike kandidate moet transformeer. In hierdie reeks het ons besluit dit is presies wat ons gaan doen. So, ons kyk na die uitdagings van mans. 

“Jy weet, ons leef in ’n meer gesofistikeerde samelewing waar mans meer modebewus raak. Hulle wil ook kyk na velsorg, en iets soos baardpatrone.

“Ons het byvoorbeeld vir die nuwe seisoen ’n barbier gekry wat saam met my die mans adviseer ten opsigte van watter baardpatroon sal pas by watter gesigsvorm, hoe om jou baard te versorg, hoe begin jy om ’n baard te groei, wat is die uitdagings van ’n baard…

“Kykers het ook vir ons gesê hulle wil graag sien hoe die kandidaat self hul gesigbehandelings doen.

“Wanneer ’n mens gewoonlik na ’n skoonheidsalon toe gaan en jy kry ’n gesigsbehandeling, baie dikwels raak ons aan die slaap. So, ons weet nie wat die terapeut op ons gebruik het nie. 

“Maar met hierdie seisoen van Glam Guru sit ek en Christine Steynberg van Sally Slimming Studio en ons adviseer die persoon ten opsigte van haar vel, al haar produkte is voor haar uitgepak en sy doen haar eie gesigbehandeling.

“Sy was self haar gesig, ons vertel vir haar wat die volgende stap is wat sy moet doen, hoekom sy dit moet doen, presies hoe sy dit moet aanwend. 

“Partykeer sal hulle ’n masker verkeerd aansit of skeef aanvee, of wat ook al, dis als deel van die pret. Maar ten minste doen hulle dit self en die kandidaat leer én die eindverbruiker kan sien wat die groot verskil is.” 

Watter raad het jy vir mense wat beter na hulself wil omsien?

“Ek dink balans is een van die moeilikste dinge wat daar is op hierdie aarde. Maar om ’n gebalanseerde lewenstyl te hê dink ek is die geheim.

“Maak tyd om  jou lewe te vul met ’n paar aspekte. Die een is natuurlik familielewe en vriende. Jy moet dit hê want dan raak die lewe vir jou lekker.

“Jy moet tyd maak vir oefening. Jy  moet na jou dieet kyk. Jy moet tyd maak vir ’n goeie velsorgroetine. Begin aanvanklik met ’n basiese velsorgroetine: cleanse, tone & moisturise. Dan kan jy begin om anti-verouderingskomponente by te voeg, soos serums en daai tipe van goed.

“Raak bewus van wat rondom jou gebeur ten opsigte van verandering. Jy weet, ons is so gesteld ten opsigte van wat met tegnologie rondom ons gebeur. Maar kyk ook wat gebeur ten opsigte van die mode en die tendense rondom jou.

“Deur jouself ook te omring met visuele nuwe dinge, is ook ’n manier hoe jy jouself altyd jonger gaan laat lyk en jouself geestelik jonk hou.”

Watter deel van Glam Guru is vir jou die lekkerste?

“Ek moet sê daar is nie ’n aspek wat nie vir my lekker is nie. Jy weet, van waar ek kandidate kies om die potensiaal van mense raak te sien, is vir my lekker. Ek hou daarvan om die volledige voorkoms saam te stel met prentjies, en dan die teks te skryf daarvoor.

“En dan gebeur die dag wanneer ons die eintlike transformasie skiet.

“Maar ek moet sê, vir my is die hoogtepunt van Glam Guru die vreeslike lekker gees wat daar heers met die kandidaat wat inkom vir die dag. Ook die hele span en hoe ons mekaar ondersteun en hoe ons die plannetjie uitwerk om uiteindelik die beste resultate aan die einde van die dag te hê.

“Daai gevoel van kameraderie en hoe elkeen die ander een ondersteun en altyd opkom, of probeer opkom, met iets wat nog beter en nog mooier gaan werk. Dít is vir my die lekkerste aspek van Glam Guru.”  

Wat is die belangrikste lesse wat jy die afgelope paar jaar by Glam Guru se deelnemers geleer het?

“ ’n Baie belangrike les wat ek geleer het, is dat goeie tye kom en gaan. Baie dikwels ry jy die hoë golf en die volgende oomblik voor jy weet, word jy platgeslaan deur dinge wat gebeur waaroor jy dikwels geen beheer het nie.

“Maar ook wanneer jy op ’n laagtepunt in jou lewe is – hoe kan jy weet dat jy nie altyd in daai gat gaan lê nie? Die lewe gaan weer positief vir jou draai. En die rede hoekom ek dit weet, is met Glam Guru maak ek nie net nuwe kennis met die deelnemers nie. Ek ontmoet hulle jare ná die tyd en ek onthou die storie of die rede hoekom hulle op Glam Guru verskyn het. En dan vra ek vir haar byvoorbeeld, ‘Hoe gaan dit nou met die moeilike verhouding met jou dogter?’ En sy sal sê, ‘Weet jy, ons het dit nou uitsorteer’.

“So, ek kry daai terugvoer van mense, die ying yang-filosofie van daai nimmereindigende sirkel. As die lewe afgaan, moet dit in ’n stadium weer opdraai. En as jy bo is en jy ry die kruin bo, gaan dit in ’n stadium waarskynlik weer afgaan. Dis ’n goeie herinnering vir my in my persoonlike lewe dat jy nie gaan bly waar jy is nie.

“Wat mense ook moet onthou, is dat hulle nie gelei moet word deur die verwagtinge van mense in hul portuurgroep nie. Jy moet lyk soos wat vir jou die mooiste is.”


Glam Guru word vanaf Donderdag, 3 Oktober 2024, om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Nuwe episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies