Geen mens kan hulself indink deur watter beproewinge ’n ouer moet gaan wat ’n kind verloor nie. En soos daar nie groot sondes en klein sondes is nie, is daar ook nie groot verliese en klein verliese as dit kom by bloed nie. Dis ’n baie teer onderwerp. Verlies bly verlies. Só ook as ’n kind, slegs drie dae ná geboorte, spoorloos verdwyn. Daar is so baie onbeantwoorde vrae wat aan die siel knaag. Die verbygaan van tyd, soos almal rondom jou begin opgee en moed of belangstelling verloor, help glad nie. Vervaagde geheues maak dan plek vir hartseer en dit bly net daar sit.
Só is Celeste en Morné Nurse se lewe op 30 April 1997 uitmekaar geskeur. Hulle was self skaars uit hulle tienerskoene toe hul babadogtertjie vanuit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad se kraamsaal drie dae ná haar geboorte ontvoer is. Die storie het Suid-Afrika aan die hart geruk en ook internasionaal opslae gemaak.
Girl, Taken is ’n dokumentêre film van net oor die 90 minute lank. Dit vertel oor dié ontvoeringsverhaal in sorgsame detail – van die ontvoering in 1997 tot ná Celeste en Morné uiteindelik met hul dogter, Zephany, 17 jaar later herenig is. Die ouers vertel van hul aakligie ondervinding – hul hartseer, hul woede en hul absolute hulpeloosheid en desperaatheid. Daar is ook onderhoude met joernaliste, speurders, vriende en familielede. Laasgenoemde sluit Zephany se jonger suster, Cassidy, in. Cassidy het op ’n bisarre wyse ’n sleutelrol in Zephany se opsporing gespeel toe sy in 2015 by ’n nuwe hoërskool ingeskryf is en ander leerlinge ’n ouer leerder, ene Miché Solomon, aan haar uitgewys het omdat hulle op ’n haar na mekaar lyk. Dit het – baie kinkels later – tot DNS-toetse gelei wat bevestig het dat Miché en Zephany inderdaad een en dieselfde mens is.
Verreikende gevolge
Die ontvoerder, ’n naaldwerkster wat skaars ’n kilometer van die Nurses gewoon het, se aksies het katastrofiese nagevolge gehad. Haar bedoeling was om ’n kind te steel – en sy het nie omgegee watter kind dit was nie. Die Nurse-familie se lewens is aan flarde geruk, meer as een keer. Die inhegtenisneming en verhoor van die naaldwerkster wat Miche (Zephany) as haar liefdevolle ma geken het, het haar verwoes. Sy het uiteindlik gekies om by die ontvoerder se familie te gaan bly. Morné en Celeste Nurse het – teen alle verwagtinge – hul dogter vir ’n tweede keer verloor.
Daar was egter nog meer verreikende gevolge. Die polisie het as deel van hulle aanvanklike ondersoek aan die deure van vroue wat miskrame gehad het, gaan klop. Die idee daaragter was dat Zephany heel moontlik deur iemand gesteel is wat deur ’n miskraam getraumatiseer was en uit desperaatheid ’n kind ontvoer het. Kan jy jouself indink deur watter hel dié onskuldige vroue moes deurgaan toe polisie – ongenooid en ongevraagd – aan hulle gekarring het.
Hou die snesies byderhand
Jy gaan maar die snesies naby moet hou. Girl, Taken volg die proses van hoe twee absolute gebroke gesinne die uitdagende pad na vergifnis en heling moet aandurf – sonder enige aanwysings. Dié dokumentêre prent kon heel maklik sensasioneel gewees het, maar vermy enige spektakel. Die storie is uitstekend nagevors en met respek en deernis hanteer en voorgesit. Dit is ’n hartverskeurende ware verhaal en los ’n mens met ’n oop boek waarvan die laaste hoofstuk heel moontlik nooit klaar geskryf sal word nie… Want hoe hanteer ’n mens dit as jy ’n kind vir ’n tweede keer verloor?
Dít is moontlik die heel ergste ding wat met ’n ouer kan gebeur…
- Girl, Taken se mede-regisseurs is die veelbekroonde Francois Verster en Simon Wood. Hulle het ook saam aan Scenes From a Dry City gewerk wat vir ’n Emmy-toekenning (in die nuus- en dokumentêre afdeling) benoem is.
- Girl, Taken het ook die toekenning vir beste Suid-Afrikaanse dokumentêre film by die Durban Internasionale Filmfees in 2022 gewen.
Kyk ook:
- Zero to Hero – ’n Roerende Suid-Afrikaanse film oor Covid-19. Dit het ongeëwenaarde beeldmateriaal uit hospitaal-noodeenhede wat oor ’n tydperk van ’n jaar verfilm is.
- Last Blue Ride – ’n Dokumentêre film wat kyk na die wrede en opspraakwekkende aanval in 2017 deur lede van die gevreesde Nommers-bende op twee Stellenbosch-studente, Hannah Cornelius en Cheslin Marsh.