Menu terloops
In Recaps & Resensies [23 Jan 2023]

‘Evita in Excelsior’ maak kykers deel van Tannie Evita se sonderlinge binnekring


kykNET se nuwe kamma-dokkiereeks, ‘Evita in Excelsior’, bied ’n besonderse geleentheid vir kykers om deel van Tannie Evita Bezuidenhout se unieke – en eksentrieke – binnekring te word.

Deur André-Pierre du Plessis

Kyk nou

‘Evita in Excelsior’ maak kykers deel van Tannie Evita se sonderlinge binnekring
Kyk lokprent

Daar is iets baie gemaklik aan die kykervaring wat die plaaslike kamma-dokkiereeks Evita in Excelsior bied. Dit voel tegelyk asof jy na iemand van ’n afstand afluister, én asof alles wat jy sien en hoor mos natuurlik ook vir jou oë en ore bedoel is. Die kyker word as’t ware deel van Excelsior se unieke lot inwoners. Só luister ons saam-saam aandagtig na al Tannie Evita Bezuidenhout (Pieter-Dirk Uys) se stories.

Die kamma-dokumentêre styl waarin dié kykNET-program geskiet is, het juis dít ten doel gehad. Om die kyker ’n meer intieme blik te gee oor wat in Tannie Evita se hoogs persoonlike huishouding plaasvind.

Elke huis het sy kruis

Excelsior is ’n ANC-eiendom, iewers in Johannesburg, waarna Evita (tydelik) omsien. Sy’s nie seker oor hoe lank sy nog daar kan woon nie, maar met die dat haar man, Hasie, bedleënd is, het sy ’n versorger, Ella (vertolk deur Vinette Ebrahim), en ’n butler, Cecil (Royston Stoffels), wat in dié grootse huis saam haar en haar buitengewone gesinnetjie woon.

As jy oor die laaste paar jare vir Tannie Evita in Darling by Evita se Perron gaan kuier het, sal jy waarskynlik al van dié gesin (en die kopsere wat hulle vir Evita gee) gehoor het. Dis egter nou eers wat dié karakters op die skerm lewe kry.  

Al drie Bezuidenhout-kleinkinders woon saam met Tannie Evita: Winnie-Jeanne (vertolk deur Veronique Jepthas), Nelson-Ignatius (Ayden Cloete) en LaToya-Ossewania (René Cloete).

Daar is ook ’n familievriend, Sammy (Brent Vermeulen), wat Evita onder haar vlerk inneem en uiteindelik een van die heerlikste storielyne in die hele reeks word. Evita se destydse sekretaresse, Bokkie Bam (Lizz Meiring), sluit ook by die ensemble aan om Evita te help as sy dan besluit om haar outobiografie te skryf. Dan is daar ook Evita se persoonlike chauffeur, ene Blackberry (Tevin Musara).

Meer as net ’n portretstudie

Enige ongemaklike en buitengewone situasies wat Uys met hierdie nuwe reeks probeer aanspreek, word met die nodige sensitiwiteit hanteer. Dís deels te danke aan die uiters bekwame hande van Tinarie van Wyk-Loots as regisseur en Carien Loubser as vervaardiger. So word dit dan meer as net ’n portretstudie van Evita Bezuidenhout en die harde lesse wat sy sedert 1942 as sewejarige Evangelie Poggenpoel op Bethlehem moes leer.

Die program dien ook om te herinner dat Uys een van ons land se voorste onderhoudvoerders is. Elke episode begin met ’n insetsel van haar destydse M-Net-reeks, Funigalore. Vir dié reeks het sy in 1994 onderhoude met 12 politici, waaronder Joe Slovo, Nelson Mandela en Cyril Ramaphosa, gevoer.

Halfpad deur elke Evita in Excelsior-episode nooi sy op ’n soortgelyke manier regte bekendes oor vir tee en koeksisters. Evita se onderhoude met onder andere Cheryl Carolus en Kobus Wiese is goeie televisie omdat Evita só goed is. Sy weet presies hoe om mense op hul gemak te laat voel.

Wat kón gewees het

Die program kon egter meer trefkrag gehad het en ’n veel groter gehoor gelok het as daar byvoorbeeld ’n poging was om dieselfde politici in Funigalore ook na Excelsior te nooi. Episode twee begin byvoorbeeld met Evita wat in 1994 saam met Ramaphosa visvang. Ons sou graag wou hê dat iemand wat eens op ’n tyd só ’n nabye verhouding met ons huidige president gehad het, ’n geleentheid kon gebruik om Cyril onder kruisverhoor te plaas. Dis natuurlik nie die bedoeling van enige Evita-onderhoud nie, maar sy sou waarskynlik die een of ander onverwagte antwoord uit Cyril kon kry.

Dalk hét Uys wel so iets in gedagte gehad maar die presidensie het hom dalk bloot geïgnoreer. Maar wat van ’n herbesoek aan Patricia de Lille wat Evita aan Khayelitsha voorgestel het?

Uiteindelik is Evita in Excelsior beide nostalgies en tragies. Die verval van die huis waaraan sy desperaat vasklou, maar uiteindelik van uitgesit gaan word, is ’n sinnebeeld vir baie post-1994 drome en ideale. Anders as Pieter-Dirk Uys se melankoliese verhoogstukke waarmee hy die gehoor minstens hoop gee voordat hulle Evita se Perron verlaat, verleen die einde van elke Excelsior-episode nie veel hoop oor die desperate, dikwels elektriteitslose, oomblikke waarin Suid-Afrikaners hulself nou bevind nie. Dit wil eerder voorkom asof Uys ons bloot wil herinner dat ons, soos Evita, ’n goeie lewe gelei het. Én dat ons, soos sy, nie enigiets anders moet verwag nie.

“Dankie Vader,” sê Evita aan die einde van ’n episode waar sy in donkerte (weens Eskom, hoe dan anders?) voor ’n spieël langs ’n kers sit, “dat ons deel van (Mandela se) plan was.”


Kyk dit op kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Online of op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies